Logo

Julie hoogtepunte om na uit te sien op kykNET en kykNET&kie

Nuus
03 Julie 2023
Splinternuwe, wêreldklas vermaak gaan kykNET en kykNET&kie vuurwarm maak dié Julie.
Hartklop HP BB

Hartklop

Mediese dramareeks ’n eerste vir kykNET.

Begin Dinsdag 18 Julie 20:00

kykNET (DStv-kanaal 144) kondig met trots aan dat die kanaal se eerste mediese drama, Hartklop, op Dinsdag 18 Julie om 20:00 begin. As jy nog altyd iets soos Grey’s AnatomyThe Good DoctorChicago Med of New Amsterdam in Afrikaans en binne ’n plaaslike konteks wou sien, sal dié nuwe reeks beslis jou hart vinniger laat klop.

Die drama spog met bekende akteurs soos Simoné Pretorius, Renate Stuurman, Dawid Minnaar, Leandie du Randt, David Louw, Jacques Bessenger, Oros Mampofu, Carla Classen en Marlee van der Merwe in die rolverdeling.

Hartklop, wat ’n merkwaardige 178 rolle met dialoog het, het ook verskeie ander groot name in die rolverdeling – sommige deurlopend en ander in gasrolle. Onder hierdie spelers tel Christel van den Bergh, Arno Marais, Rika Sennett, Thulani Mtsweni, Susan Coetzer, Vusi Thanda, Esmeralda Bihl, Christo Davids, Elma Postma, Francois Jacobs en Bouwer Bosch.

Die reeks is deur Zoë Laband (The Girl from St. Agnes) geskryf en die regisseurs is Harold Hölscher (Ludik) en Christo Davids (Spoorloos).

Die hospitaaltonele is in sale en teaters by die Solomon Stix Morewa-gedenkhospitaal en by die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg verfilm. Die mediese gevalle wat deel van die verskeie storielyne is, is alles gegrond op werklike gevalle en ’n span dokters en mediese kenners het as konsultante gedien. Opgeleide verpleegsusters het met die verfilming van die operasietonele gehelp om dit so realisties moontlik te maak.

Hartklop begin op Dinsdag 18 Julie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op Catch Up beskikbaar wees.

 

Kokkedoor Vuur & Vlam

Wie gaan as braaimeesters bekroon word?  

Begin Donderdag 27 Julie 20:00

Die gewilde Afrikaanse koswerklikheidsreeks Kokkedoor, is van Julie weer ’n hoofgereg op kykNET se kykgenot-spyskaart. Dit trek nou ’n braaivoorskoot aan en in Kokkedoor Vuur & Vlam gaan deelnemers die koskenners Bertus Basson en Kobus Botha met hul braai-vaardighede beïndruk. 

Bertus is nie net een van Suid-Afrika se top-sjefs nie, maar is geruime tyd reeds ’n bekende gesig op Afrikaanse televisie. Só was hy die afgelope twee jaar die aanbieder van kykNET se In die Sop-werklikheidsreeks, waar hy en ’n span kundiges ingespring het om nuwe lewe in restaurante te blaas. Sy mede-beoordelaar op Kokkedoor: Vuur & vlam is die braai-ghoeroe Kobus wat internasionaal die braaivleisvure hoog laat brand. Hy woon die afgelope paar jaar in Frankryk waar hy in ’n braaisensasie ontpop het. 

Die Kokkedoor-tafel is vir die eerste keer in 2013 vir kykers gedek en oor die jare het familielede van die reeks, waaronder Koekedoor, Kokkedoortjie en Koekedoortjie geurryke vermaak en inspirasie aan oud en jonk verskaf.  Vir Kokkedoor Vuur & Vlam gaan deelnemers alles in die vlamme, op die kole, binne-in die as of op die rooster moet voorberei. 

Kokkedoor Vuur & vlam is van Donderdag 27 Julie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Dit sal ook op Catch Up beskikbaar wees.

 

KoppeStamp

Deelnemers staan kans om duisende met hulle rugbykennis te wen.

Begin Woensdag 26 Julie 20:00

Vanjaar is ’n groot rugbyjaar met die Wêreldbekertoernooi wat op 8 September in Parys, Frankryk afskop. Daar word nie verniet gesê Suid-Afrikaners se bloed is groen nie, want wanneer dit by rugby kom, is dié sport deel van ons lewe en is die Springbokke ons trots. 

In KoppeStamp gaan spanne teen mekaar deelneem in ses verskillende rondtes: “Tikskoppie”, “Rooi, geel of niks”, “Drie of nie”, “Speel die kommentator”, “Waar’s die bal?” en “Druk die knoppie”. 

Maar daar is nie net die speletjies wat die program ’n moet-kyk maak nie. Tydens rustyd gaan ’n Springbok-legende ’n draai kom maak om die onderskeie spanne te help. 

Die aanbieders van die program is Adrian Steyn, bekend vir sy rolle in reekse soos Binnelanders en Getroud met rugby, en Deoudoné van der Merwe wat bekendheid verwerf het as Stella, kykNET se geliefde karakter toe die kanaal in 2020 mondig geword het. 

KoppeStamp begin op Woensdag 26 Julie om 20:00 kykNET (DStv-kanaal 144). 

 

Elders: Frankryk

Erns Grundling gee ’n Franse voorskou vir vanjaar se groot rugby.

Begin Maandag 3 Julie 20:00

Vier jaar gelede, met die Rugbywêreldbekertoernooi in Japan, het Erns dié land voor die tyd besoek en kykers ’n voorsmakie gegee van die land waar die Springbokke uiteindelik die toernooi op 2 November 2019 gewen het toe hulle Engeland met 32-12 verslaan het. 

Vanjaar is dit weer tyd vir die Rugbywêreldbekertoernooi wat op 8 September in Stade de France in Saint-Denis, noord van Parys, afskop met die Franse wat teen die All Blacks speel. 

En weer gaan Elders vir ons ’n voorsmakie van die gasheerland gee. Erns en die Elders-span het van einde Maart tot vroeg Mei vanjaar Frankryk besoek en gaan in die nuwe seisoen nie net ’n nadere blik op die rugbytoernooi gee nie, maar ook met Suid-Afrikaners wat in Frankryk woon – insluitend ’n heel paar rugbyspelers – praat.

Elders: Frankryk begin op 3 Julie 2023 om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). 

 

Laataand by Rian

Rian van Heerden se nuwe geselsprogram gaan die tonge laat klap.

Begin Dinsdag 4 Julie 21:00

Die gewilde TV-aanbieder Rian van Heerden is terug op kykNET met ’n nuwe geselsprogram. In Laataand by Rian gaan hy nie net met nuusmakers praat nie, maar ook met interessante mense wat hy op sy pad raakgeloop het. Dit alles gebeur om ’n bors kos in sy eetplek in Pretoria, Delizioso. 

“Ek loop al lank met die idee vir ’n laataand-geselsprogram,” sê Rian. “Ek dink gesprekke oor aktuele sake en gebeure in ’n gemaklike omgewing verseker dit wat saakmaak behoorlik bespreek word. Daar is twee gaste in elke program en die tweede gas is altyd ’n verrassing vir die eerste gas.”

Rian speel nog met sy kaarte teen sy bors oor die gaste met wie hy gaan praat, maar belowe dit is hoë-profiel persone. Hy kon wel bevestig dat Gayton McKenzie, leier van die Patriotic Alliance, en Boet Schoeman, ’n bekende mampoerstoker, sy eerste gaste is.

“Die eerste gas is iemand wat in die nuus is, maar die tweede gas in gewoonlik ’n eksentrieke of buitengewone persoon wat juis genooi word om die gesprekke in ’n ligte trant te hou, as verrassing te dien of om die gesprek na die volgende vlak te neem.” 

Laataand by Rian word vanaf Dinsdag 4 Julie 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

 

Ysters op die landgoed 

Splinternuwe reeks kyk na gholflandgoede in die land.

Begin Saterdag 8 Julie 18:30

 

Suid-Afrika het van die beste gholflandgoede ter wêreld en in hierdie nuwe reeks gaan die aanbieders Johnny David en Alwyn Hollenbach dertien van hulle besoek. Hulle gaan van die inwoners leer ken, ’n potjie of tien gholf speel en ook ’n paar gholf-ysters ontmoet. 

Van die landgoede wat na gekyk word sluit in Pinnacle Point in Mosselbaai waar die aanbieders onder meer die sportaanbieder Trevor Quirk gaan ontmoet en ’n draai by Louis Oosthuizen se Louis57-gholfakademie gaan besoek. By Val de Vie buite die Paarl, wag gholf, wyn en boeiende stories van die Olimpiese swemmer Ryk Neethling, die Springbokrugbyspeler Damien Willemse en voormalige Mej. Wêreld Rolene Strauss. 

Ander gholflandgoede wat besoek word is onder meer Blair Atholl in Gauteng, De Zalze in Stellenbosch en Kingswood in George. 

Ysters op die landgoed  is van 8 Julie om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144). 

 

Safari roetes

Petri de Wet is terug met ’n splinternuwe 4x4-reeks.

Begin Maandag 10 Julie 17:30

Buitelewe-entoesiaste kan uitsien na kykNET se nuwe reisprogram Safari Roetes met Petri de Wet en sy span wat jou op ’n toer na Suid-Afrika se weggesteekte stofpaaie en ander asemrowende roetes gaan neem.

Petri reeds ’n ou bekende vir kykNET-kykers as aanbieder van die gewilde hengelprogram Hier gaan ons al weer.

In Safari Roetes vat Petri die pad saam met sy mede-aanbieder, Vivian Torlage, wat ’n kampspesialis is. Petri en Vivian se vroue, onderskeidelik Tanya en Mariaan, toer ook saam, terwyl Jannie Rykaart, ’n 4x4-gids, die span in sommige van die episodes leiding gee.

Deur die loop van die reeks kruis die Safari Roetes-span se paaie ook met ’n handvol bekendes, soos die sangers Ilan van Staden en Fatman.

Safari Roetes begin Maandag 10 Julie om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

 

Koortjies met Jonathan Rubain

Jonathan Rubain is terug met ’n vierde seisoen van Koortjies.

Begin 2 Julie 17:30

Kykers kan vanaf Sondag 2 Julie 17:30 na ‘n uur van gospel met die vierde reeks van Koortjies met Jonathan Rubain inskakel. Dié inspirerende gospelprogram, met Jonathan Rubain as aanbieder, sorg dat kykers hul naweek op die regte manier afsluit. Gaste vir Julie sluit in die voormalige afrigter van die Springbokke, Peter de Villiers, aktrise Marisa Drummond en gospelsanger Trevor Malgas.

Koortjies met Jonathan Rubain begin Sondag 2 Julie om 17:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)

 

My ma kook beter as joune

Early B keer terug vir ’n tweede seisoen van dié kykNET&kie-reeks. 

Begin 8 Julie 19:30

Early B is terug as die aanbieder van die nuwe reeks van My ma kook beter as joune waarin twee groepe teen mekaar deelneem en waar twee van die deelnemers hulle staan agter die stoof ken, maar die ander twee glad nie gemaklik in die kombuis is nie. Die nuwe reeks begin op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) op 8 Julie om 19:30. 

My ma kook beter as joune begin Saterdag 8 Julie om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)

 

Verbode liefde 

’n Nuwe oorgeklankte telenovela. 

Begin 5 Julie 20:00

Die oorgeklankte Turkse telenovelas op kykNET&kie het die afgelope tyd behoorlik harte gesteel en met Verbode liefde, wat op 5 Julie om 20:00 begin, gaan dit ook nie anders wees nie. Verbode liefde is die nuwe reeks in die plek van Jy is my seun wat tot ’n einde kom. 

Die beeldskone Zümrüt is verantwoordelik vir die sorg van haar sieklike pa, haar ma en twee susters en werk daarom vir die magtige Demirkan-familie. 

Adil Demirkan is verlief op Zümrüt, maar sy sien hom as ’n ouer broer. Intussen is Zümrüt in ’n geheime verhouding met Adil se neef, Serhat. Zümrüt en Serhat beplan om te trou wanneer hy klaar is met sy militêre diensplig, maar dan vind sy uit hy dood is terwyl hy diens gedoen het. 

Onder druk van haar ma, stem Zümrüt in om met die skatryk Adil te trou. Maar terwyl hulle trou aan mekaar beloof, daag Serhat op en in nog ’n kinkel word Adil die huweliksnag deur ’n onbekende aanvaller vermoor. Zümrüt vind intussen uit dat die oudste broer, Abbas, haar vir homself wil hê en dit maak dinge in die Demirkan-huishouding nog net meer gekompliseerd. Gaan Zümrüt en Serhat deur al hierdie troebel waters gaan beweeg en uiteindelik liefde en vrede vind? 

Verbode liefde begin Woensdag 5 Julie om 20:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)

 

Bly in Julie-maand ingeskakel op kykNET, kanaal 144 én kykNET&kie, kanaal 145 vir die splinternuwe programme.