Logo

Jak de Priester reis na binne

Nuus
05 Februarie 2016
“Ek was nog nooit so emosioneel en nostalgies soos met die aanbreek van 2016 nie,” skryf Jak de Priester.
Jak de Priester

Jak de Priester, sanger en aanbieder van Reis na Gister skryf oor introspeksie:

Ek was nog nooit so emosioneel en nostalgies soos met die aanbreek van 2016 nie. Hierdie jaar gebeur baie dinge in my lewe. Ons woon uiteindelik in ’n groterige huis in die suburbs van Pretoria, sodat daar genoeg ruimte is vir drie kinders en twee honde. My oudste kind gaan skool toe. Die jongste een is 6 maande oud. Dis ook mý laaste jaar in die dertigs. Einde Oktober word ek veertig.

Die land se ekonomie is op ’n slegte plek. Daar is droogte oral. Die rassehaat-voorvalle oorheers die nuus en ek het geen geloof in ons leiers nie! Wat nou!? Nie die beste prentjie vir ’n amper 40-jarige man met drie klein kindertjies nie. Ek het skielik die innerlike drang gekry na ’n introspektiewe kyk na myself. Waarheen is ek op pad en waar kom ek vandaan? Wat beteken ek vir mense op hierdie aarde? Waarom doen ek wat ek doen? Is ek gelukkig? Waar is God? Waar is God? Waar is God?

Daardie nag het ek by my klavier gesit en ’n liedjie geskryf met meer onsekerhede in my hart as vertroue. Die huis was stil. Toe hoor ek die donderweer. Dit het begin reën. Hard. Die droë gras buite was nat. Soos ’n nuwe begin. Die aarde het die reën bitter nodig gehad. God het my op daardie oomblik iets laat besef. Die vraag is nie “Waar is Hy?” nie. Die vraag is... “Waar is ek?” Glo ek nog in Hom? Dat Hy sal voorsien en dat Hy sal sorg en dat Hy uitkoms sal gee? Of ploeter ek net self aan? Probeer ek my kinders self grootmaak of laat ek Hom toe om in te tree? Wie skryf my liedjies? Ek... ? Of... Hy?

Van daardie oomblik af voel ek anders. Ek is die pa van drie kinders. Ek glo in God. En maak nie saak wat nie... ek sal die boodskap uitdra van liefde, geloof, Hoop... begrip vir ander mense en kulture... en bowenal... verdraagsaamheid!

Hierdie jaar het skaars begin. Dis my jaar om binne-in myself te gaan soek. Ek wil God weer vind ... en sonder dat ek ver soek, maak Hy kort-kort sy verskyning aan my, deur die reën, deur musiek, my kinders en alles om my. My gebed is: “Jammer, God, dat ek so maklik twyfel!”