Logo
Koppieteefontein
web uni tv guide

Koppieteefontein

144RealiteitPG

Jak is terug vir nog ’n seisoen van Koppieteefontein

Nuus
23 September 2022
Die tweede seisoen van Koppieteefontein met aanbieder Jak de Priester bring groot persoonlikhede soos filmmaker Leon Schuster en veteraan-omroeper Amoré Bekker as gaste.
Jak de Priester

Dit is asof ’n koppie tee net die ding is wat mense hulle harte laat oopmaak. Of dalk is dit Jak de Priester se innemende persoonlikheid wat bekendes so gemaklik voor die kamera gemaak het in die eerste seisoen van Koppieteefontein. Die goeie nuus is dat ’n tweede seisoen op Vrydag 7 Oktober 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) begin en te oordeel aan die gastelys, gaan dit beslis weer ’n wenner wees.

Onder die bekendes wat saam met Jak gaan tee drink, is die sangeres Riana Nel, die pianis Charl du Plessis, legendariese akteur en filmmaker Leon Schuster, die Kassie Kuiers-aanbieder Renaldo Schwarp, die ekonoom Dawie Roodt, die komediant Schalk Bezuidenhout, veteraan-omroeper Amoré Bekker en die nuusleser Daniëlla van Heerden.

“Ek sien baie uit na hierdie seisoen,” sê Jak. “Met ’n tweede seisoen is dit asof die ratte gladder loop. Ons het effens meer mans as gaste, maar elke een van die gaste is wonderlik. Dit gaan ’n baie besondere seisoen wees.”

“Jak de Priester is vir meer as ’n dekade een van ons voorste onderhoudvoerders in Afrikaans,” sê die uitvoerende vervaardiger van die reeks, André Calitz van Blixem Produksies.

“Hy word wyd gerespekteer en van ons se land se grootste en bekendes name in bykans alle industrieë vertrou hom. As sy vennoot in hierdie baie spesiale projek, is die tweede seisoen vir ons ’n groot droom. Ons sien uit dat elke kyker se hart aangeraak gaan word met elke onderhoud, want vir ’n halfuur elke week op kykNET stap ons ’n paar tree in ons gaste se skoene.”

Jak gaan ook in hierdie seisoen vir elke gas ’n unieke geskenk gee wat hy self gemaak het. Die geskenke is in samewerking met RoenCo gemaak.

Koppieteefontein begin Vrydag 7 Oktober om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op Catch Up beskikbaar wees. Jy kan ook die hutsmerk #KoppieTeeFontein aanlyn volg.