Logo
Koppieteefontein
web uni tv guide

Koppieteefontein

144RealiteitPG

Koppieteefontein: Jak en bekendes kuier om ’n koppie tee

Nuus
13 September 2021
'n Hartsgesprek gebeur oor 'n koppie tee. In die nuwe kykNET-program, Koppieteefontein, wat Vrydag 1 Oktober 17:30 afskop, kuier aanbieder Jak de Priester by fenominale Suid-Afrikaners.  
5

Tinarie van Wyk Loots. Hannon Bothma. Elzabé Zietsman. Nataniël. Hierdie is maar net ’n paar van die bekendes saam met wie Jak de Priester in die splinternuwe reeks Koppieteefontein gaan kuier.

“Die reeks is baie spesiaal want dit is so intiem,” sê Jak. “Om om ’n koppie tee te kuier, kom mens werklik by die ware emosies en gevoelens van die gas uit. Hulle deel geheime met my wat miskien nie op ’n ander plek gedeel sou word nie.”

Hierdie legendariese bekendes gaan ook foto’s uit hulle lewens deel en vertel hoe hulle gekom het waar hulle vandag is.

“Dit was vir my ongelooflik om met Evita Bezuidenhout te gesels en tee te drink,” sê Jak. “Ek het met haar gepraat asof haar hele geskiedenis net so gebeur het. Dis ’n fantasie wêreld wat gekruis het met ’n realistiese wêreld en dit was vir my ’n baie unieke ervaring.”

Jak sê die intimiteit van die gesprekke is nog een van die punte wat vir hom uitstaan.

“Ek het dit geniet om so gefokus met die gaste te gesels. Daar was niks wat ons aandag aftrek nie – iets om te doen of kos om te maak of om van ’n krans te spring nie. Ons kon net tee maak, tee drink en werklik met mekaar gesels. Ons het diep geraak, gelag, gehuil. Om na die foto’s te kyk en te sien hoe hulle reageer wanneer hulle ’n foto kyk wat jare gelede geneem is, maak hierdie reeks nog meer spesiaal.”

Ander gaste in die program sluit in Margit Meyer-Rödenbeck, Amanda Strydom, Maj. Mandisa Mfeka, Suid-Afrika se eerste vegvlieënier, en Dr. Marlene le Roux, uitvoerende hoof van Kunstekaap en direksiehoof van die ATKV.

Vat 'n oomblik en drink 'n koppie tee saam met Jak en sy gaste. Koppieteefontein begin op Vrydag 1 Oktober 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).