Logo
Kokkedoor Vuur & Vlam
web uni tv guide

Kokkedoor: Vuur en Vlam

144Realiteit13 L

Hitte met Herman: Baksteenhoender met groensous – Kokkedoor Vuur & Vlam

Nuus
07 September 2023
Wil jy dié naweek die “stiefkind van braai” baasraak? Probeer gerus dié resep van Herman Lensing!
Hitte met herman_Kokkedoor_S4_Ep7_Baksteenhoender

Die tegniek om hoender plat te braai is so oud soos die berge. Maar ’n beter plan vir sagte, sappige vleis met ’n ekstrabros vel kry jy nie sommer nie. 

Genoeg vir 4-6

Vir die hoender: 

hout of kole vir braai

1 heel hoender

45 ml botter

45 ml olyfolie

4 takkies tiemie

1 heel knoffelknol, gehalveer

2 bakstene

300 ml hoenderaftreksel

sout en varsgemaalde swartpeper

Vir die groensous: 

1 hand vol platblaarpietersielie

5 ansjovisfilette

sap en gerasperde skil van 3 suurlemoene

1 knoffelhuisie, fyngekap

1 cm-stuk vars gemmer, geskil en fyngerasper 

80 ml olyfolie

40 ml water

30 ml rooiwynasyn

Hoe jy dit doen:

Hoender

Kry kole lekker warm; maak sommer ’n groot vuur vir ekstra kole aan die kant ook. Gebruik ’n kombuisskêr om die rugbeen van die hoender los te knip. Draai om en vou dye en boudjies onder hoender uit. Druk hoender met jou handpalms op die bors plat. Plaas nou ’n groot gietysterpan of platboompot wat groot genoeg is vir die hoender sowat 15 cm bo warm kole. Plaas botter, olie en tiemie, gevolg deur hoender met velkant na onder in warm pot. Bedek hoender met ’n groot stuk tinfoelie en plaas dan 2 bakstene bo-op hoender. Braai 10-12 minute of tot vel goudbruin en bros is. Haal bakstene en foelie af, en draai hoender om. Voeg knoffelknolhelftes by en giet aftreksel langs hoender in (moenie dit oor die vel gooi nie). Geur goed met sout en peper. Laat hoender stowe tot dit sag en gaar is en vloeistof weggekook het – krap elke nou en dan nog kole onder pot in. 

Groensous 

Plaas intussen al die sousbestanddele in ’n voedselverwerker en pols teen hoë spoed tot glad. Geur goed met sout en peper. Sit hoender voor met groensous en bykos van jou keuse. 

Kyk die video hier bo om te sien presies hoe Herman dit doen!