“Toe Covid 19 in Maart verlede jaar ook in Suid-Afrika toeslaan, het die wêreld nie ophou draai nie en het kunstenaars nie opgehou om kunstenaars te wees nie. Feeste is gekanselleer, teaters was donker, die wêreld het klein geword – gesluit tot verdere kennisgewing. Kunstenaars moes om den brode eksperimenteer en nuwe platforms vind. Die Afrikaanse feeste het leiding geneem en met verskeie innoverende projekte, struktuur en vernuwing in ons bedryf te weeg gebring.
“Die eindresultaat was soveel nuwe aanlyn- en virtuele vertonings, dat ons vanjaar nuwe kategorieë instel om ook uitstaande werk in hierdie nuwe mediums te erken. Dankie aan elke kunstenaar wat aanhou werk het om lig te bring in die donker tyd van die pandemie.” Karen Meiring, M-Net-direkteur: kykNET-kanale, by die 11de kykNET Fiëstas, wat op Sodag 7 Maart op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai is.
Die kykNET Fiëstas, wat vanjaar vir die eerste keer vooraf opgeneem is, vereer sedert 2011 jaarliks uitsonderlike prestasies in die uitvoerende kunste. Ten spyte van ‘n uitdagende jaar, is daar besluit om steeds die kunste en kunstenaars te vereer. Vanjaar se genomineerdes en wenners is gekies deur die Fiëstas-paneel, wat bestaan uit Herman van der Westhuizen (sameroeper), Ronnie Samaai, Eduard Greyling, Gillian Mitchell, Laetitia Pople, Diane de Beer, Robyn van de Rhede, Jill Markram, Martli Jordaan, Maulise Kotze, Ilza Roggeband, Mariana Malan en CJ de Swardt.
Daar was verskeie hoogtepunte tydens die toekenningsgeleentheid, met wenners wat emosionele toesprake gelewer het en die legendes wat met pragtige woorde deur hul vriende en kollegas vereer is. Drie jong kunstenaars is ook deur hul ikone met ‘n Sinjatuur-toekenning verras. Dié toekennings gaan aan kunstenaars wat tot nou toe uitsonderlik in hulle loopbane presteer het.
Anna-Mart van der Merwe, wat ook die toekenning as Beste Aktrise vir haar vertolking in Valsrivier ontvang het, het Cintaine Schutte se Sinjatuur-toekenning aan haar oorhandig met hierdie woorde: “Jou teenwoordigheid in ons bedryf is van onskatbare waarde. Hierdie toekenning is erkenning, herkenning en aansporing vir jou – dat jy moet weet ons sien jou, die bedryf het waardering vir jou en om vir jou te sê dat die pad waarop jy is, is goed en reg.”
Karen Zoid, het haar toekenning vir Beste Musiekgedrewe Produksie – Buitelug, met die volgende woorde ontvang: “Ek wil hierdie opdra aan al die musikante daar buite wat ‘n bietjie sukkel op die oomblik. Ons is nie bedelaars nie; ons is nie boemelaars nie; ons speel nie vir tips nie. Die creative industry is heeltemal stukkend, maar ons is kreatiewe mense en ek wil net vir almal sê, kom ons figure hierdie ding saam uit. Ons kan en ons moet saamstaan.”
kykNET is ’n trotse ondersteuner en stigter van die TRIBUO fonds wat gestig is om kunstenaars en tegnici tydens die pandemie te ondersteun. Dié fonds het dit moontlik gemaak dat ongeveer 300 kunstenaars tot dusver gehelp kon word. Al die genomineerdes van die 11de kykNET Fiëstas ontvang twee Checkers koopbewyse, waarvan hulle een aan ‘n mede-kunstenaar of verdienstelike organisasie kan gee.
Karen Meiring het die toekenningsgeleentheid met hierdie woorde afgesluit: “Aan elke kunstenaar: mag julle, soos dikwels in die verlede na ’n wêreldkrisis, leiding neem, en met julle werk gehore vertroos en verkwik. Ons erken en waardeer julle besondere vermoëns, en sien reikhalsend uit om julle so gou as moontlik, op die verhoog te sien.”
Hiermee die wenners van die 11de kykNET Fiëstas:
Beste Akteur
Robert Hindley
Valsrivier
Beste Aktrise
Anna-Mart van der Merwe
Valsrivier
Beste Regie
Frieda van den Heever
Die poet, wie’s hy?
Beste Teaterontwerp
Charl-Johan Lingenfelder
Die poet, wie’s hy?
Beste Nuutgeskepte Afrikaanse Teks, Verwerking of Vertaling
Frieda van den Heever & Dean Balie
Die poet, wie’s hy?
Beste Prestasie in Klassieke Musiek
Bryan Wallick, Frank Dean Balie Stadler & Peter Martens
Beethoven Triple Concerto
Beste Prestasie in Visuele Kuns
Dineke van der Walt
KKNK se Virtuele Galery
Beste Musiekgedrewe Produksie – Buitelug
Karen Zoid
Karen Zoid 20 jaar Pops
Beste Musiekgedrewe Produksie – Teater
Charl-Johan Lingenfelder
Die poet, wie’s hy?
Beste Aanlyn Feesprojek
Alfred Hinkle
Dans van die heenkoms
Beste Feesproduksie
Die poet, wie’s hy?
Toyota US Woordfees
Beste Opkomende Kunstenaar
Robert Hindley
Valsrivier
Sinjatuur
Cintaine Schutte
De Klerk Oelofse
Dean Balie
Legendes
Bob Martin
Nic de Jager
Terry Fortune
Blou Fiësta
Jana Hattingh
Suidoosterfees Inryteater
Die Tribuo-fonds is gestig in samewerking met Karen Meiring (kykNET), Cornelia Faasen (NATi) en die Feesteforum (Aardklop, KKNK, Innibos, Suidoosterfees, Vrystaatfees en die Toyota US Woordfees) om vryskutkunstenaars te ondersteun. Die fonds is afhanklik van die finansiële steun van skenkers wat wil help om die kunstebedryf deur hierdie moeilike tyd te help. Bydraes kan deur privaat persone, korporatiewe instansies of filantropiese skenkers gemaak word en ’n 18A-belastingsertifikaat is op aanvraag beskikbaar. Bydraes kan anoniem gemaak word of skenkers kan erkenning ontvang as ’n donateur van die fonds.