Logo
Diepe waters
web uni tv guide

Diepe Waters

144Telenovela13

Heidi begewe haar weer in "Diepe waters"

Nuus
28 Februarie 2024
Heidi Mollentze vertolk die rol van "Felicity" wat ’n bestaande karakter se lewe kom deurmekaar krap.
Heidi Mollentze

Sy was al in BinnelandersSwartwater en Erfsondes te sien, om maar net ’n paar te noem, en nou is Heidi Mollentze terug as Felicity in Diepe waters.

  1. Vertel ons meer van jou karakter. Het julle enige raakpunte? 

Felicity lewe met haar kop in die wolke en is ’n vrye gees. Sy het dream catchers en kristalle en glo alles gaan uitwerk. Dit is presies die teenoorgestelde van wie ek is, maar dit is juis wat vir my so lekker is – om ’n karakter te speel met wie ek geen raakpunte het nie.

  1. Jy is ook ’n lewensafrigter en hipnoterapeut. Wanneer het hierdie belangstelling begin? 

Ek het van jongs af ’n belangstelling gehad om mense met die emosionele sy van hulle lewe te help. Terwyl ek by AFDA klas gegee het – ek was daar vir sewe jaar – het die geleentheid hom voorgedoen om myself te kwalifiseer as ’n lewensafrigter met ’n fokus op neuro-linguistiese programmering. Dit beteken basies jy help mense om hulle persoonlike doelwitte te bereik deur gedagtes en kommunikasie. Dit het my geweldig geprikkel, en ek het begin om al verder in dié te rigting studeer.

  1. Sien jy jou twee beroepe as hand aan hand of as twee aparte dele van jou lewe? 

Sedert ek by AFDA bedank het, het ek twee lewens – aktrise en stemkunstenaar aan die een kant, terapeut aan die ander kant. Ek sien hierdie as twee dele van een lewe. Ek is ’n mens met verskillende fasette, en ek meng die twee om een eenheid te vorm.

  1. Wat is die een rol wat jy graag nog wil speel? 

’n Gevaarlike reeksmoordenaar. Sy moet gesofistikeerd wees, maar hierdie donker kant hê.

  1. Watter sport is jou gunsteling? En het jy ’n gunsteling-swemmer?

Sonder twyfel gimnastiek. Ek is mal daaroor! Natuurlik om te kyk. Ek kan dit nie self doen nie. Gunsteling-swemmer? Klink soos ’n cliché, maar Ryk Neethling. Hy is natuurlik aantreklik, maar het ook soveel ander fasette. Hy is nie net ’n swemmer nie. Hy rig af en is ’n sakeman.

  1. Wat kan kykers van jou rol in Diepe waters verwag?

Felicity kom krap ’n bestaande karakter se lewe sleg deurmekaar. En al is haar kop in die wolke, het sy ook ’n ander kant – die moederlike kant, amper ’n soort voice of reason. Ek gebruik ’n dier as inspirasie vir al die karakters wat ek speel, en Felicity is vir my soos ’n skoenlapper wat nooit te lank op een plek kan bly nie. Sy kom vinnig aan, bly vir ’n rukkie en vlieg dan weer weg.

  1. Wat is jou eie lewensleuse? 

Keep going. Don’t give up.

Diepe Waters is elke Maandag tot Donderdag om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144), asook op DStv Stream.