Logo

Emo Adams soek sangers vir splinternuwe sangprogram, “Oppi noot”

Nuus
28 November 2023
Sing jy in ’n restaurant of kroeg? Is jy die plaaslike karaoke-ster? Is jy ’n gereelde agtergrond- of sessiesanger? Of selfs ’n gevestigde sanger? Dan is kykNET se nuwe musiekspeletjiesprogram, “Oppi noot”, dalk die groot geleentheid waarvan jy droom.
Oppi noot

Oppi noot is ’n prettige speletjiesprogram waarin sangers teen mekaar meeding in ’n reeks uiteenlopende en vermaaklike musiekuitdagings. Die vervaardigers is Stemmburg Televisie, wat vir gewilde programme soos Noot vir noot en Musiekroulette verantwoordelik was.

Die aanbieder is die immergewilde Emo Adams. Hy het as kind reeds in musiekblyspele van David Kramer en Taliep Petersen opgetree en later ’n geliefde sanger en aanbieder van TV-programme soos Jou show, Maak my famous en Noot vir noot geword.

“Wat kan kykers verwag? Pret, plesier, baie gelag, lekker saamsing en iets totaal anders,” sê Emo. “Daar was nog nie so ’n program op Suid-Afrikaanse TV nie. Wat dit anders maak, is dat hierdie ’n speletjiesprogram spesifiek vir sangers is. Die doel is nie om musiekkennis of sangvermoëns te toets nie, maar eerder om te kyk hoe deelnemers vaar met die uitdagings van sanggebaseerde speletjies. Dis ’n lekker feel good-program en ek glo kykers gaan elke minuut geniet.”

Die sangers sal deur ’n orkes, onder leiding van Jaconell Mouton, begelei word.

Oppi noot is nie ’n realiteits-TV-sangkompetisie nie. Die sangers sal punte verdien vir hulle prestasie in die verskillende speletjies. Hoe meer liedjies ’n deelnemer kan sing, hoe beter. Drie sangers sal aan elke episode deelneem, en daar is in elke program kontant om te wen. Hoe verder jy na die eindronde vorder, hoe meer geld is op die spel.

Drie gelukkige kykers gaan elke week gekies word om as lugvennote aan die program deel te neem. Lugvennote wen geld na gelang van hoe goed hul sangvennote in die program vaar.

In elke episode is daar vyf lukraak geselekteerde kykers. Elke program begin met die aand se sangers wat elk een vers van ’n liedjie sing. Die eerste drie uit die vyf kykers wat die liedjies korrek kan identifiseer, word gekies as daardie program se lugvennote. En die beste van alles is, jy hoef nie eens jou sitkamer te verlaat nie.

As lugvennoot, word jy verbind aan die sanger wie se liedjietitel jy korrek geïdentifiseer het. Jy wen dan ’n bedrag geld afhangend van of jou sanger eerste, tweede of derde plek in die program behaal het. Elkeen van die aand se drie lugvennote is dus gewaarborg om iets te wen.

Inligting oor hoe om ’n lugvennoot te word, sal later bekend gemaak word. Die soektog na die sangers is egter reeds in die wegspringblokke. As jy dus ’n sanger is wat noot kan hou en aan die program wil deelneem, stuur ’n video-opname waarin jy jou gunstelingliedjie sing saam met jou naam, ouderdom en waar jy woon per WhatsApp na 072 511 2986.