Logo
Die Real Housewives van Pretoria - Season 1. Lottostar Kompetisie - R50 000
web uni tv guide

Die Real Housewives van Pretoria

144Realiteit13 L

"Ek gebruik my 'songs' as verwysingsraamwerk" – Die Real Housewives van Pretoria

Nuus
05 Januarie 2023
Talana Vuren-Kuhn vertel oor haar musiekloopbaan en lewe as 'n motiveringspreker. Vind meer uit oor watter liedjie sy gereeld saam met haar dogter sing, asook haar toekomsplanne.
Talana Vuren-Kuhn

Sy het haar lewe as sanger op die verhoog opsy geskuif, maar, vertel Talana Vuren-Kuhn, sy gebruik nog steeds haar liedjies as 'n verwysingsraamwerk vir die stories wat sy deel as motiveringspreker. Haar onlangse treffer Onvoorwaardelik Ek, is in Oktober vrygestel. Sy sê sy oorweeg dit nie om weer professioneel op te tree nie.

“Sangoptredes is 'n hoofstuk wat ek gesluit het.”

Sy voeg by: “Ek bring wel enkelsnitte uit, maar dit is liedjies wat ek gebruik in my praatjies om 'n volle prentjie te skep, want musiek praat maar op 'n ander manier met mense ook.”

“So ek wil die musiek steeds in bring, net as 'n bonus in my praatjies.”

Die 28-jarige Talana is een van die ses dames op kykNET se realiteitsreeks, Die Real Housewives van Pretoria, wat tans die hele land aan die gons het. Talana woon saam met haar man, Walter Kuhn en kinders op die Silver Lakes-landgoed.

In ‘n onlangse episode, het Talana vir Renske Lammerding (nog ‘n Housewife) se Markdag opgetree. Die doel van die Markdag was ter fondsinsameling.

Talana, ‘n sakevrou van twee besighede, beskryf haarself as iemand wat nie die gewone 28-jarige is nie: Die wat nog baie moet leer van die lewe nie. Inteendeel, sê sy, sy is deur hel, warm vure en terug.

Haar sangloopbaan

Talana is bekend dat sy jare gelede een van die sangers was van die groep, Mwah!

“Ons het in 2012 begin met die groep waarna ek in 2014 bedank het omrede ek baie graag ‘n solo-loopbaan wou najaag, en my eie musiek en stem wou uit bring.”

Sy vertel dat sy as klein dogtertjie altyd gesing en konserte gehou het – en sy het gehou van gesels.

“Ek kon noot hou, so I guess dis waar my ma besef het daar is ietsie anders as net ‘n toddler wat loop en skree-sing die heeldag,” lag sy.

Op 16-jarige ouderdom het sy ‘n kontrak gekry by die Barnyard en dis toe sy begin professioneel gesing het.

Kort nadat sy haar loopbaan as solo-kunstenaar (na Mwah!) begin het en haar eie musiek uitgebring het, was sy benoem vir drie Ghoema-toekennings. “Alhoewel ek nie ‘n toekenning gewen het nie, was dit ‘n baie groot prestasie om benoem te word, want dit het beteken my eie musiek het goed gevaar! En mense het aanklank daarby gevind.

“Dit was ‘n teken dat ek die regte besluit geneem het om my eie roete te volg weg van die groep dinamika af.”

Sy het familielewe oor musiek gekies

Talana vertel sy het in 2018 begin afskaal aan haar musiekloopbaan. “Aan die einde van 2018 het ek my heel laaste show gehad. In 2019 is Olivia gebore en ek het baie gekonsenteer op haar, my eie menswees en God.

“Ek het geweet musiek sal altyd ‘n deel van my lewe bly, maar daar was iets anders in my wat my gedruk het om ‘n ander rigting te volg.”

Volgens haar was motiveringspraatjies nog altyd iets wat sy wou doen. “Ek onthou eendag op ‘n koffie ‘date’ saam Hykie Berg het hy vir my gesê, dis nog nie jou tyd nie, jy sal weet wanneer die tyd aanbreek om ander te help. Jy self moet eers groei.

“En ja, vier jaar omtrent na daardie koffie ‘date’ het ek geweet dis my tyd om hierop te begin fokus eerder as op die sang.”

Die lewe van ‘n motiveringsspreker

Volgens Talana moes sy baie bitter dinge deurmaak. “Ek kom vanuit ‘n huis met alkoholisme, erge gesinsgeweld, daarna die selfdood van ‘n ouer.”

Sy het ook vir ‘n tydperk by haar ouma en oupa grootgeword, sonder haar ma. Sy moes ook verhuis op 16-jarige ouderdom, was geboelie op skool, en het armoede ervaar. “Ek’t in ‘n aaklige dwelm en alkohol strik beland en by die dood omgedraai.

“Later as jong vrou het ek in die arms van ‘n ‘abusive’ narsis beland, waarna ek in Denmar beland het as gevolg van te veel stres. My liggaam het heeltemal ingegee.”

Sy vertel hoe sy haar man ontmoet het. “Dis in 2015 waar my lewe vir die eerste keer begin stabiliseer het toe ek my man ontmoet het. Ek was maar ‘n skramse 21-jarige en hy 30.

“Hy het saam my ‘n pad na genesing gestap en my altyd gemotiveer om te groei. Ons huwelik was nie altyd maklik of maanskyn en rose nie en dus het ek kennis in dit ook!”

Talana het probeer om vanaf 2020 haar loopbaan te begin as motiveringspreker. “Ongelukkig het Covid ons almal bietjie gepootjie, so ek kon eers lekker voortgaan in 2022, deur na kerke, dames-oggende, skole ensovoorts te gaan .Vir die twee jaar gedurende die pandemie het ek webinars en my social mediagebruik om mense te bereik.”

Hoe haar self-help joernaal ontstaan het

Talana vertel sy het God gevra om haar te help om haar waarde te ken. “(Dis) omdat ek dit nooit as dogtertjie geleer was of gegun was nie. Daar was een persoon baie na aan my wat baie van my vreugde en menswees onderdruk het.

“Die persoon het my inteendeel geleer dat alles wie ek is, verkeerd was en dus het dit ‘n baie, baie groot leemte in my gelos wat ek ongelukkig as volwasse vrou eers besef het.”

Talana se self-help joernaal het ontstaan nadat sy vir 18 maande lank geskryf en introspeksie gedoen het. “Sonder dat ek agter gekom het, het ek ‘n hele joernaal geskryf, dit het op ‘n A4 wit papier begin, baie deurmekaar, maar vir my het dit sin gemaak!

“Later het ek vir myself ‘n ontwerp gemaak en ‘n boekie gedruk, en so weer deur die boekie gewerk! En net daar het ek besef dis ‘n resep vir goedvoel en waarde en self-liefde kweek, en dat ek dit moes deel met ander vrouens wat deur dieselfde ‘struggles’ as ek gaan!”

Die joernaal bestaan uit vier weke, elke week het ‘n tema en met teksverse uit die Bybel.

“Ek verkoop die joernaal uit die hand, en het nie ‘n verspreider nie; ek het al drie keer uitverkoop! Ek het in my wildste drome nooit gedink ek sal so ver kom na al my seer en dat my donker tye vir ander lig sou skep nie!”

Hoe musiek inpas by haar huislewe

Volgens Talana, sing sy slegs wanneer dit saam met haar dogtertjie, Olivia is, of as dit “lekker” Gospel en “praise and worship” musiek is.

“Ek waardeer musiek nou vir die eerste keer, teenoor waar ek as sangeres baie krities was oor musiek. Nou kan ek soos ‘n gewone musiekliefhebber dit geniet!”

Sy vertel sy en Olivia maak gereeld hulle eie liedjies op! “Maar tans sing my dogtertjie ‘Lyfie’ van Bernice West uit volle bors! Dis regtig ‘n oulike Christelike liedjie wat so ‘fun’ is!

“Ons begin die oggend met hom as Olivia nie wil wakker word vir skool nie. Sy’s ‘n laatslapertjie: Glad nie ‘n oggend-mensie nie!”

Sy voeg by: “Daardie liedjie tans speel elke dag in die Vuren-Kuhn huishouding!”

Haar nuwe rol

Kykers het minder van Talana gesien oor haar hoë risiko swangerskap. Sy het besluit om af te skaal van uitstappies.

In Desember het sy ‘n nuwe fase in haar lewe ingegaan: Sy het 'n ma van twee geword. Haar oudste dogter Olivia is drie jaar oud en haar nuwe baba, Mia is 'n paar weke oud.

Mia is haar en Walter se "rainbow baby" wat hulle noem hul wonderwerk-kind.

Haar toekomsplanne

Talana hoop om teen Maart weer volstoom met haar loopbaan as motiveringspreker te begin. "Ek wil graag vroue bereik in die kleiner dorpies, omdat ek self afkomstig is van ‘n klein dorpie en mens kan baie makliker daar onder kritiek en ‘judgement’ deurloop. Dus wil ek graag daar gaan kuier en elke vrou herinner van hulle waarde!”

Sy wil graag ook seminare begin aanbied oor lewensdoel. "Maar ek’t net te min hande om ALLES nou te doen! My PR maatskappy hou my ook redelik besig en ons is daar ook besig om uit te brei!

“So ek bid vir die regte hande tans asook die regte tyd vir alles om te gebeur!”

Bly ingeskakel vir meer agter-die-skerms onderhoude met die dames en gesels saam deur die hutsmerk #RHOPTA op FacebookTwitter en Instagram te gebruik.