Logo
Koppestamp_Seisoen_1_Slimbillboard
web uni tv guide

Koppestamp

144RealiteitPG

Draf uit vir kykNET se rugbyspeletjiesprogram Koppestamp

Nuus
15 Februarie 2023
Crouch, touch, pause... en skryf in!
Koppestamp

Met die 2023 Rugbywêreldbeker-toernooi net om die draai, nooi kykNET alle rugbyliefhebbers om in te skryf vir ’n kans om deel te neem aan ’n splinternuwe rugbyvasvraprogram, Koppestamp.

Of jy man of vrou, oud of jonk, ’n voor- of agterspeler of net ’n entoesiastiese toeskouer is – jy is welkom om in dié dinkskrum te kom sak en in elke episode fantastiese pryse te wen.

Koppestamp is ’n trots Suid-Afrikaanse rugbyspeletjiesprogram in ’n oorspronklike, nuwe formaat. Die twee aanbieders, Adrian Steyn en Deoudoné van der Merwe, is slaggereed om kykers met ’n naelbytstryd op die punte van hul stoele te hou.

Twee spanne van twee gaan mekaar die stryd aansê en probeer punte aanteken met die klok wat genadeloos tik. Koppestamp is, nes rugby, ’n spansport. En jy en jou beste vriend of buurman, nuwe geliefde of ou vlam, is welkom om in te skryf vir hierdie groot toets.

Kykers het Adrian Steyn deur rolle in kykNET-programme soos Binnelanders, Knapsekêrels en Getroud met rugby leer ken. Sy mede-aanbieder, Deoudoné van der Merwe, het bekendheid verwerf as Stella – die fiktiewe hoofkarakter in kykNET se mondigwordingsveldtog gedurende 2020.

“Ons sien uit daarna om iets werklik vars en vermaaklik aan kykNET-kykers in die aanloop tot die Rugbywêreldbeker later vanjaar te bied. Watter lekkerder manier kan daar wees om ons nasie se gunstelingsport te vier as met ’n blitsvinnige, aksiebelaaide speletjiesprogram,” sê Christel Sampson, vervaardiger van die reeks.

Koppestamp beloof skaterlag, groot sports en ’n verskeidenheid aantreklike, weeklikse pryse vir deelnemers én kykers by die huis om te wen.

So, maak kringetjie, hou ’n spanpraatjie en warm op vir dié Springbok van ’n speletjiesprogram wat ondersteuners regoor die land se kennis en vaardighede oor 13 episodes gaan toets om te bepaal wie die grootste rugbykenner van almal is.

Hou jou oog op die bal en vat die gaping na die skryf in blad op kyknet.tv - Die sluitingsdatum vir inskrywings is 31 Maart 2023.