Logo
DVK S1 Slim BB Web Uni
web uni tv guide

Dinge Van 'n Kind

144Drama13

Dinge van ’n kind: My beste herinneringe

Nuus
13 Julie 2022
Akteurs en kykers raak nostalgies oor die reeks.
two young ladies

Die tyd het gekom om Mart en al die karakters van Dinge van ’n kind te groet en vir die spelers wat die onderskeie hoofrolle gespeel het, is dit ’n bittersoet dag. 

Die reeks, wat op Marita van der Vyver se trefferboek gegrond is, het Mart Vermaak se lewe van haar tienerjare tot in haar vroeë sestigs gevolg. Verskeie are in ons Suid-Afrikaanse verlede is raakgeboor soos die skande van tienerswangerskap, verpligte diensplig in ’n Suid-Afrika wat baie anders as vandag lyk en hoe enige sielkundige kwessies eerder onder die mat gevee is as om dit aan te spreek.

“My hart was sommer seer vir al die arme ou meisies wat deur die jare deur hulle verstokte ouers gedwing is om na tehuise te gaan hulle baba’s weg te gee; wat jare later steeds oor hulle kinders treur. Daar is soveel kinders wat met verwerping wroeg as gevolg daarvan,” het ’n kyker, Anne-Marie Pool, op kykNET se Facebook-blad geskryf. 

“Hartroerend mooi,” was Liezl Barnard du Randt se kommentaar en Deana Bosch het geskryf: “Wat ’n fantastiese verhaal. Die werklikheid van die denkpatrone van daardie tyd gee my stof tot nadenke”. Nog ’n kyker, Peet Bothma, sê: “Ek was in 1977 in matriek en daarna diensplig. Die reeks is skokkend realisties. Dit help nie mens probeer dit weg wens met sedestories nie. Dis jou keuse om in feëtjieland te lewe of die werklikheid te aanvaar”.

Lees meer: Tien dinge oor Dinge van 'n kind

Vir die spelers wat die hoofrolle in die reeks gespeel het, was dit ’n hoogtepunt in hulle loopbaan.  

“Dit was ’n voorreg om te werk aan ’n goeie, deurdagte teks saam met uitstekende akteurs en regisseurs en ’n produksie waarop ’n mens kan trots wees. Dit kom nie sommer op jou pad as akteur nie!” – Susanne Beyers 

“Vir ’n oomblik in tyd kon ek weer ’n kind wees. My wildste drome het voor my oë afgespeel en ek sal altyd vir Mart, soos ’n hangertjie om my nek, naby my hart hou. Soos ’n verdwaalde kind het ek ’n familie opgetel. Mart, Dalena, Pierre en Simon. Ek hoop almal is so lief vir die verlore kinders soos ek is.” – Melissa Myburgh

“Ek is baie dankbaar dat ek my reis met Mart kon voltooi en vol sirkel kon maak. Daar is ’n Mart in elkeen van ons, ons moet haar net gaan soek.” – Cintaine Schutte

“Sekere projekte voel van die begin af op ’n sekere manier. Dinge van ’n kind was een van daardie jobs. Soos wat dit ontvou het, het my trots en dankbaarheid om deel te kon wees gegroei.” – Jana Kruger

“Om ’n bekende en geliefde boek vir televisie te verwerk, is ’n groot verantwoordelikheid. En om dan die bestaande storie verder te ontwikkel sodat dit kommentaar lewer op die oorspronklike, is dapper en uitdagend. Ons moes almal baie hard werk om die reeks op ’n plek te kry waar ons voel die proses is geloofwaardig en dit met integriteit voltooi. Dis daardie intense samewerking wat ek die meeste geniet het en sal mis.” – Ludwig Binge 

“Ek is so trots op elkeen se bydrae tot hierdie reeks. Toe ek die eindproduk sien, kon ek elke persoon wat agter die skerms gewerk het se hande- én harde werk sien, veral met die tonele wat in die verlede afspeel.” – Kim Syster

“Dalena het my hart gebreek en hom self weer heel kom maak. Sy was beslis die grootste avontuur van my lewe en sy sal altyd naby bly. Die 'verlore kinders', soos Mari Conradie (hoof van grimering en kostuums) ons noem: Ben, Andahr en Melissa het vriende geword vir ’n leeftyd. Ek hoop die reeks kon Suid-Afrika lekker laat lag, dat die storie wonde genees het en mense herinner het – look how far we have come. En Dalena hoop julle het fun gehad langs die pad.” – Mienke Ehlers

Dinge van ’n kind was ’n eiesoortige samekoms, iets wat nooit herhaal sal word nie. Lightning in a bottle, so to speak. Ek is so trots op die werk wat ons gedoen het en die verhouding wat ons daardeur gebou het. Ek het my hart en siel in hierdie reeks ingestort, al was my deel maar klein. En aan al die aandeelhouers wat veel harder as ek gewerk het om hierdie projek moontlik te maak, is ek oneindig danbaar.” – Ben Albertyn 

“Om ’n ikoniese boek tot die skerm te bring, was ’n groot eer en een van die grootste uitdagings van my loopbaan. Om Simon te vertolk, moes ek diep in ons geskiedenis delf en waardeur mense gegaan het om so na as moontlik aan die waarheid te kom. Ek was baie bewus dat ek nie net ’n karakter speel nie, maar iemand wat so baie nostalgie en swaarkry vir mense verteenwoordig. Ek het hierdie verantwoordelikheid met passie en toewyding genader om vir Simon so eg as moontlik te maak. Ek sal hierdie ervaring vir niks verruil nie en ek hoop die kykers kon daarmee vereenselwig.” – Andahr Cotton

Dinge van ’n kind was ’n reeks soos geen ander. Braaf, vol waagmoed en dit het nie geskroom om moeilike kwessies vierkantig in die oë te kyk nie. Boonop is kykers voorgestel aan die uitsonderlike talent van ’n groep jong spelers wat beslis nog diep spore in die vermaakbedryf gaan trap.

Die episodes van Dinge van ’n kind is beskikbaar op DStv-Catchup. Vertel ons wat jy dink van hierdie reeks aanlyn deur die hutsmerk #DingeVannKind te gebruik.