Logo
DVK S1 Slim BB Web Uni
web uni tv guide

Dinge Van 'n Kind

144Drama13

Tien dinge oor Dinge van ’n kind

Nuus
09 Mei 2022
Hier is tien dinge wat jy moet weet van Dinge van ’n kind.
kykNET Dinge van n kind

Foto: Verskaf

Die eerste episode van Dinge van ’n kind word Dinsdag 10 Mei om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en vir die volgende tien weke gaan kykers deel in Mart Vermaak se lief en leed van die 1970’s tot nou.

Hier is tien interessante feite oor Marita van der Vyver se trefferroman en die TV-reeks wat daarop gegrond is:

  • Die boek Die dinge van ’n kind – die TV-reeks is net Dinge van ’n kind – het in 1994 verskyn. Daar was twee oplae van die hardebanddruk en daarna drie oplae van die sagtebanddruk tussen 2005 en 2011 en weer ’n sagtebanddruk in 2016.
     
  • Die reeks speel in drie tydvlakke af – 1975/’76, 1992 en die hede. Mart word deur die drie aktrises vertolk: Melissa Myburgh speel die jong Mart, Cintaine Schutte is Mart in 1992 en Susanne Beyers is Mart in die hede.
  • Susanne gee in die regte lewe klas by die Universiteit Stellenbosch se dramadepartement en Melissa was een van haar studente.
     
  • Die boek het opslae veroorsaak toe dit die eerste keer verskyn het – veral as gevolg van die openlike gesprekke oor tienerseks en die politiek van die dag.
  • Diensplig het in 1968 verpligtend in Suid-Afrika geword. Dit is eers in 1993 amptelik afgestel. Jong mans wat in die 1970’s diensplig gedoen het, se dienstermyn was twee jaar.
     
  • Die boek Die dinge van ’n kind is in Engels, Nederlands en Duits vertaal.
  • Daar was reeds twee verhoogproduksies – een in 1998, wat die skrywer Harry Kalmer vir die KKNK verwerk het, asook ’n solovertoning met Cintaine Schutte in die rol van Mart wat in 2019 debuteer het en weer vanjaar by die KKNK en die Suidoosterfees te sien was. Francois Toerien het die teks vir laasgenoemde produksie verwerk.
     
  • Die reeks draai nie doekies om nie en noem ’n ding op sy naam. Daar word byvoorbeeld van “FL’s” en “effies”gepraat, soos kondome in die 1970’s genoem is. FL kom van French Letter en kom uit die Eerste en Tweede Wêreldoorlog toe Britse soldate met kondome, wat in papierkoevertjies verpak was, oorlog toe gestuur is en baie van hulle in Frankryk gestasioneer was.
  • Die reeks is in Kaapstad en Hoedspruit verfilm. Die dieretuintonele is by die Pretoria-dieretuin opgeneem.
     
  • Dalena (Mienke Ehlers) se woorde aan Mart wanneer hulle die eerste keer in die koshuiskamer ontmoet, is een van die ikoniese reëls in Afrikaanse letterkunde: “Stick with me, baby. Ek kan nie belowe dat ek jou famous sal maak nie, maar jy sal fun hê langs die pad.”

Kyk die amptelike voorskou hier onder:

Skakel vanaf Dinsdag 10 Mei om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) in vir Dinge van ’n kind, en vertel ons wat jy daarvan dink aanlyn deur die hutsmerk #DingeVannKind te gebruik.