Logo
DVK S1 Slim BB Web Uni
web uni tv guide

Dinge Van 'n Kind

144Drama13

Dinge van ’n kind skuif grense

Nuus
28 April 2022
Vind meer uit.
Dinge van n kind

Toe Marita van der Vyver se boek Die dinge van ’n kind in 1994 verskyn het, het dit heelwat rimpelings veroorsaak.

“Deur die traumas van vroeë swangerskap, dwelms en selfmoord in haar vriendekring leer sy hoeveel guts dit kos om te lewe en te bly glo. Veral te midde van grootskaalse politieke leuens en die verminking, fisiek én geestelik, van jong man in die grensoorlog,” het Stephan Bouwer in sy resensie geskryf.



“Hier is nie speels-erotiese beskrywings vanuit ’n volwasse perspektief nie, maar realistiese beskrywings van tienerseks soos verwonderd waargeneem en vertel deur ’n skooldogter,” het Ena Jansen toe geskryf.

Met die dramareeks, wat op Dinsdag 10 Mei 20:00 op kykNET (DStv-kanaal) begin en nou Dinge van ’n kind heet, is dit ook nie anders nie.  

“Hierdie is ’n treffende verhaal en die tipe storie wat ons graag by vertel,” sê die vervaardiger Scharl van der Merwe van Nagvlug Films. Nagvlug Films was vir rolprente soos Barakat en Wonderlus asook TV-reekse soos Nêrens, Noord-Kaap en Skemerdans verantwoordelik. “Toe Elanie Rupping, die mede-skrywer van die reeks saam met Henriëtta Gryffenberg, na ons toe gekom het met die idee om die boek in ’n reeks te omskep, was ons baie opgewonde.”

Die reeks speel af in drie tydvakke – 1975/76, 1992 en nou. Die rede vir dié besluit, verduidelik Scharl, was om ’n reeks vir ’n wyer gehoor te maak. “Een vir oud en jonk en iets nuut vir mense wat reeds die boek gelees het,” sê hy.

Die rolverdeling sluit nuwelinge soos Melissa Myburgh en Mienke Ehlers in, asook veterane soos Susanne Beyers en André Roothman. Hoe is daar op die spelers besluit?



“Ons het die industrie laat weet ons maak ’n reeks en die terugvoer was oorweldigend,” sê Zandré Coetzer, mede-vervaardiger en ook regisseur van twee van die tien episodes. “Ons het daarna verskeie toetse gedoen om seker te maak die ensemble werk goed saam.” Ontmoet die karakters hier

Een die uitdagings met die maak van die reeks, was om dit outentiek te laat lyk.



“Elke tydperk moes uniek lyk en voel,” sê Scharl, “maar die tydperke moes langs mekaar soos dieselfde storie voel. Dit raak ook al hoe moeiliker om periode-drama in Suid-Afrika te vervaardig omdat Suid-Afrikaners oor die algemeen nie na ou geboue en hulle inhoud omsien nie. Dit was veral moeilik om ’n 1970’s treinstasie te kry, maar ons is bly dat ons soveel mooi plekke gekry het om te verfilm.”

Die reeks, soos die boek, spreek kwessies soos ontwakende seksualiteit en politieke bewustheid aan. Is kykers reg daarvoor?

“Die temas is al vir lank die olifant in die vertrek en gaan vir seker nog langer so wees,” sê Zandré. “Ons hoop dat die reeks oop en eerlike gesprekke oor die temas sal aanwakker.”

Die reeks het drie regisseurs. Benewens Zandré, was Quentin Krog en Tinarie van Wyk Loots aan stuur van sake met die kameraregisseur Marius de Nysschen wat saam met hulle gewerk het om eenvormigheid in die vertelstyl te behou.



“Ons hoop dat aanhangers van die boek ons interpretasie van die verhaal sal geniet en dat daar ’n nuwe generasie is wat deur Mart Vermaak se verhaal geraak word,” sê Scharl. “Ons hoop dit hulle leer dat dit okay is om vrae te vra. Daar was ’n hele paar van ons wat ons familie se fotoalbums nadergetrek het om die tyd waarin dit afspeel korrek uit te beeld en ons hoop die reeks wek daardie nostalgie by kykers op.”

Dinge van ’n kind begin Dinsdag 10 Mei 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op DStv Catch Up beskikbaar wees.