Logo
Alles Malan – Slim
web uni tv guide

Alles Malan

144DramaPG13 L

Die Malans groet – Alles Malan

Nuus
22 Februarie 2022
En net so is dertien episodes van die tweede seisoen van Alles Malan iets van die verlede.
Alles Malan – Malans

Kykers het saam gelag en saam gehuil en elke een van die karakters het diep in hulle harte gekruip. Vir die hoofspelers was daar self heelwat hoogtepunte en goeie herinneringe in hierdie reeks ...

Albert Maritz

As ek terugkyk, dink ek watter voorreg dit was om die patriarg te speel. Die groot rolle wat ek gespeel het, was baie lank gelede.  Dit was ’n riem onder die hart toe ek hoor dat Corné (van Rooyen, mede-regisseur en -skrywer saam met René van Rooyen) het Derek met my in gedagte geskep. Dan is daar die empatie waarmee hy mens hanteer wat dit ’n vreugde maak om saam met hom te werk. Ook die span agter die skerms soos Sunel Haasbroek wat die hele reeks verfilm het met ‘n kamera op haar skouer. Haar stamina is ongelooflik. Die span in die kostuumafdeling, die tegniese mense en die heerlike werksomgewing wat die ander akteurs skep – die immervriendelike Mateo en immermenslike Elsabé Daneel. Saam met wie jy werk, het baie te doen met hoe lekker dit is om dit te doen.

Elsabé Daneel

Beslis die mense saam met wie ek gewerk het. Ongelooflike toegewyde, intelligente, hardwerkende mense en geweldig kreatief. Ons het vinnig gewerk aan die reeks en daar was baie emosie, maar dit was fantasties hoe almal soos ‘n ware familie hande gevat het en gesê kom ons maak dit werk op die beste manier wat ons kan. Ek praat van die vervaardigers, die skrywers, elke grimeerkunstenaar, elke ou wat die clapper board geklap het en dan natuurlik my Malan-familie. Dit was vir my wonderbaarlik hoe hierdie mense saamgestaan het en hulle beste gegee het vir hierdie reeks. Ek het so lief geword vir hulle wat my gesin in die reeks is. Hulle is my mens.

Nog ‘n goeie herinnering is dat Brenda uit sak en as uit opgestaan en besluit om iets met haar lewe te doen. Dit is vir my wonderlik. Sy het haar vlerke gesprei, nie net vir haarself nie, maar vir haar Malan-mense.

Ivan Zimmeraman

My  beste herinnering is om saam met al die lekker mense te werk; van die spelers tot die uitstekende tegniese span en mense wat agter die kamera werk. Op ’n persoonlike vlak, was dit net so lekker om weer toneel te speel.

Nadia Valvekens

My beste herinnering en hoogtepunt van Alles Malan is die mense saam met wie ek gewerk het wat soveel vreugde en hart elke dag in dit wat hulle doen gesit het. Daar is niks lekkerder as om saam met mense te werk wat dieselfde passie as jy deel nie.

Sean-Marco Vorster

Een van die hoogtepunte was definitief om almal weer bymekaar te kry ná so ‘n suksesvolle reeks een. Dit het regtig gevoel asof ons ‘n familie is wat weer bymekaar kom om die tweede reeks te skiet. Ons almal was gemaklik, die karakters was reeds ontwerp en ons kon net lekker kreatief raak en speel.

Nicole Fortuin

Een van my beste herinneringe was toe ons deur die draaiboek gelees het voor verfilming begin het. Dit was wonderlik om weer die Malans almal saam te hê en om te sien hoe elkeen van ons weer terugkeer na ons karakters toe. Ook om te sien hoe elkeen se pad in die tweede seisoen gaan loop. Dit was ’n baie spesiale manier om na die storie wat ons almal so lief het, terug te keer. Dit gebeur nie sommer in ons bedryf nie.

Ek het dit ook geniet om die bababoepie te dra. Natuurlik het almal op die span geweet ek is nie regtig swanger nie, maar ’n paar ander mense het regtig gedink ek is swanger.

Greteli Fincham

My beste herinnering is die mense saam met wie ons gewerk het. As ek aan Alles Malan dink, dink ek nie noodwendig aan die storielyne nie, maar aan die mense saam met wie ek gewerk het – van die spelers tot die tegniese span.

Mateo Olivier

Dit was lekker om almal weer te sien veral ná die tyd wat ons mekaar nie kon sien as gevolg van Covid nie. Dit was ook vir my baie lekker om saam met my vriende by die skool te skiet.