Logo

Die Boekklub nooi jou na Merweville

Nuus
28 April 2017
Kom wees deel van die aksie tydens die verfilming van Die Boekklub 2 in Merweville!
Boekklub Cast 2016

Op 11 Julie keer ons terug na die klein dorpie in die Koup-Karoo, Merweville.

Tom is nog daar. Sofia ook. Hulle besit steeds die gastehuis. Hulle baklei nog elke dag. Sy neuk hom as sy kans kry. Lillie is in Parys. Sy en Tom praat gereeld. Anna heel die mense op die dorp. Herman boer en gaan kuier naweke vir Altus. Hanli is swanger, bak en is so trots op haar dogter wat nou op universiteit is. Sy en Gert WhatsApp elke dag. Dit gaan goed met hom in Kanada. Gerwin maak vir Andre groot en werk hard by die skool. Sy’t groot planne. Ja-nee, die lewe gaan aan.

Maar die lewe is nie ’n feëverhaal nie. Bettie het gedink haar werk is klaar toe Tom terugkeer. Sy kan nou in vrede die hiernamaals betree. Miskien moes sy ’n rukkie langer gebly het. Want vir die lede van die boekklub lê ’n moeilike tyd voor. Daar’s geboortes en troues en liefde, maar ook begrafnisse en hartseer en verlange. Die boekklublede gaan mekaar nou nodiger as ooit hê. Ons is mos maar altyd sterker saam as alleen. En wat help dit nou om te huil oor alles? Ons lag eerder. Soos Tom sal sê: “Die lewe is om te groei, en groei is nie maklik nie.”

So sluit aan by ons aan op kykNET en reis verder saam met die boekklub.

En as jy nóg nader aan die aksie wil wees en sien hoe alles gemaak word, kom wees ’n ekstra die 8ste en 9de Mei in Merweville self! As jy jou eie vervoer het tot in Merweville, stuur ’n e-pos aan: [email protected]. Heg asb ’n foto en kontakbesonderhede aan en laat weet op watter een van die twee dae jy beskikbaar is.

Sien jou in Merweville!

Seisoen 2 van Die Boekklub skop op 11 Julie af op kykNET (DStv-kanaal 144).