Logo

DEKATv keer terug vir stylvolle (sesde) avontuur

Nuus
06 September 2016
DEKATv, die geliefde program met sy ongewone inslag wat ’n heerlike skoot kuns en kultuur na jou sitkamer bring, is terug op die kassie met ’n sesde seisoen.
DEKATv S6 2016
DEKATv, die geliefde program met sy ongewone inslag wat ’n heerlike skoot kuns en kultuur na jou sitkamer bring, is terug op die kassie met ’n sesde seisoen.

Elzilda Becker

34 dekatv elzilda becker


Elzilda is die vervaardiger. As bon vivant, bouer van lugkastele en voorsitter van die Liga van Uitsonderlike en Vreemde Persone is daar min dinge wat sy nie sal aanpak nie. Hoe meer onwaarskynlik die suksesprojeksie lyk, des te meer sal sy dit wil aanpak. As ’n liefhebber van die Metier D’arts met ’n ruim versameling boeke en ’n voorliefde vir kuns, maak haar bekroonde voorblaaie gewoonlik opslae. Van ’n sukkelende DEKAT-tydskrif het sy ’n suksesvolle handelsmerk gemaak, sowel as gedrukte publikasie en sedert 2009 ook as televisieprogram. Sy skep konsepte vir bekende handelsmerke en werk tans aan die ontwerp en konseptualisering van ’n onderwystablet wat in 2017 van stapel gestuur word. In haar vrye tyd boer sy teen die hange van Houghton met organiese groente en hoenders.

Chantel Dartnall

34 dekatv chantel dartnall


Hierdie is sjef Chantel Dartnall se vierde seisoen saam met DEKATv. Sy is die hoofsjef van die restaurant Mosaic, wat as een van Suid-Afrika se top-10 fynproewer-restaurante beskou word.

Chantel is nie net bekend in Suid-Afrika nie, maar ook in kulinêre kringe wêreldwyd vanweë haar innoverende en noukeurige benadering tot botaniese fynproewer geregte – ’n uiters natuurlike benadering tot kookkuns. Sy sê sy is lief daarvoor om foto’s in die natuur te neem en dit dan op die bord te probeer herskep. Sy is reeds twee keer benoem as Suid-Afrika se Sjef van die Jaar op die jaarlikse Eat Out Restaurant-toekennings – eers in 2009 en toe weer in 2014.

Chris Chameleon

34 dekatv chris chameleon


Soos ’n verkleurmannetjie dra Chris Chameleon baie baadjies, is hy eindeloos kreatief, vernuwend, maar ook prolifiek en het hy bekend geraak in Suid-Afrika, asook oorsee, as ’n musikale fenomeen.

Met ’n eiesoortige styl, bekoorlike verhoogpersoonlikheid en ’n reputasie om gehore met sy vier-oktaafstem en stemtoertjies te betower, het sy uitsonderlike talent hom uitstekende resensies en vele toekennings besorg oor die afgelope 27 jaar.

As ’n vernuftige akteur het Chris ook sedert 1990 in meer as 30 televisiereekse en rolprente verskyn en is hy dus tuis op die verhoog en voor die kamera – plaaslik sowel as oorsee, waar hy gereeld optree en jaarliks ’n teatertoer in Nederland onderneem.

Sy toekennings en nominasies is byna te veel om op te noem, maar sluit in drie Suid-Afrikaanse Musiektoekennings en ’n erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, FAK-, Vonk-, ATM- en Kanna-toekennings.

Gerard Scholtz

34 dekatv gerard scholtz


Baie van ons ken vir Gerard van DEKATv waar hy sy liefde en kennis van wyn, kuns en letterkunde met kykers deel. Hy is ook al baie jare lank ’n skrywer-joernalis vir die tydskrif DEKAT en is sedert die begin van 2015 as die boekeredakteur van die nuwe DEKAT-boekeblad aangestel. Vir DEKATv vervaardig hy sowat 75 insetsels oor wyn en wynmakers met die Diners Club Wynmaker van die Jaar as tema. Hy voer meer as 50 TV-onderhoude met skrywers en sowat 25 TV-onderhoude met kunstenaars.

In 2015 word hy vir ’n Mediaveertjie benoem as beste Afrikaanse aanbieder op TV. Gerard doen al sy navorsing self, skryf die teks en is aanbieder van sy insetsels. Hy is ook deur DEKATv as lynvervaardiger aangestel.

Gerard se roman, Lig wankelend, is vanjaar deur RSG voorgelees en het baie lof ingeoes en word binnekort herdruk.

Marliza van den Berg

34 dekatv marliza van den berg


Marliza het in Worcester grootgeword en haar honneursgraad in joernalistiek aan Maties verwerf. Sy en haar gesin het 10 jaar gelede hul lewe in Pretoria verruil vir ’n lewe in George aan die Tuinroete. Sy is ontsettend lief vir die Karoo en die gesin spandeer soveel as moontlik van hul tyd op hul plaas Langfontein in die Graaff-Reinet-distrik.

Sy sê sy het ’n hart vir die ongewone en haar outistiese seun het haar meer oor die lewe en mense geleer as wat universiteitsgrade en teksboeke kon doen. Humor is vir haar belangrik en dit maak die lewe draaglik. Min goed laat haar so lekker voel soos lekker lag.

“Ek is lief vir reis en dis lekker om nuwe plekke en dinge te ervaar, maar die beste plek is by ons huis saam met my man en kinders. DEKATv laat my alles beleef wat met my hart praat. Dis een van die verrykendste dinge wat ek nog ooit gedoen het,” sê sy.

Veldaanbieders

Lizma van Zyl  

Lizma is ’n bekroonde veteraan-radiojoernalis en aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM, en was ook nuushoof van die stasie, sowel as van KFM voordat sy en ’n span toegewyde mense Smile se deure in 2013 geopen het.

Lizma is steeds op die stasie se sigtersgroep-direksie. Haar nuusneus het haar al oor die hele wêreld geneem na onder meer Antarktika vir die eerste reddingsekspedisie tot nog toe in die winter sowel as na die grens van Pakistan en Afghanistan, ’n week ná 9/11. Sy is ’n voormalige provinsiale tennisspeler wat ook internasionaal meegeding het. Lizma het die tennisbaan egter vir die berg verruil vir haar daaglikse oefening. Sy skryf graag en is onder meer die mede-outeur van die boek Suksesstories bykomend tot ’n paar vryskutartikels vir vrouetydskrifte en akademiese bydraes.

Linette van der Merwe

Linette van der Merwe se hoederak is tot boordensvol met hoede van heinde en ver, gereed vir enige geleentheid wat hom sou voordoen. Bedags dra sy haar Afrikaanse dosentehoed, met ’n berggansveer getooi, by Tukkies en werk daaraan om binne die afsienbare toekoms met ’n rooi akademiese hoed te spog. Na-ure sit sy haar flambojante operasangerhoed op en sing met durf en daad deur ons Suiderland tesame met haar Sempre Opera-maats. Van tyd tot tyd dra sy ’n tartanorganiseerdershoed tussen die kosmos van Wakkerstroom en ander dae ’n skrywerspet met eg Franse flair.

Linette is ’n boekwurm en koop veel eerder boeke as skoene of kos. Sy kuier graag met ’n glas vonkel in die hand, saam met haar katte, tussen die boslelies in haar tuin.

Skuif nader vanaf 6 Oktober 2016, Donderdae om 17:30.