Logo

Daardie roosmaryn-geur

Nuus
27 Mei 2015
kykNET fokus vandeesweek op kos. Johnny Hamman, wenner van kykNET se immergewilde Kokkedoor in 2014, deel sy kos-herinneringe met ons.
JohnnyHamman
kykNET fokus vandeesweek op kos. Johnny Hamman, wenner van kykNET se immergewilde Kokkedoor in 2014, deel sy kos-herinneringe met ons.

Soet of sout?
Ek het verseker meer van ’n souttand. As kind het my broers en susters al hul sakgeld op swiets spandeer. Ek het altyd net vir my ’n groot pak sout-en-asyn­skyfies gekoop.

Het ’n ou/meisie al ooit jou hart probeer verower met kos? Indien wel, het dit gewerk?
Nee, jong, ek kry altyd iemand wat niks weet van kos of die kombuis nie. Ek dink ek is maar altyd die een wat die harte steel met behulp van my kookvernuf.

Vertel ons meer van jou kleintydherinneringe van kos en gebak.
My gunsteling-herinnering is as ek vroeg Sondagoggend in my bed lê en my ma is al besig in die kombuis. Ek dink sy het aspris baie hardhandig gekook, sodat ons almal kan wakker word. Die geur van roosmaryn het altyd aan my kamerdeur geklop, en dan weet ek ons eet lamsboud vandag. Die boud gaan voor kerk in, en kom twee ure ná kerk uit.

Wie maak kos in jou huis?
As enkellopende stadskind wat baie hard werk, maak niemand kos in my huis nie. Ek werk vroegoggend tot laataand. Kom ons sê maar net die restaurante in my omgewing maak baie geld uit my uit. Maar ek maak seker ek hou ten minste een keer ’n maand ’n ongelooflike ete vir vriende in my funky loft-woonstel in die hartje van Kaapstad.

Sal jy ooit onthaal vir vriende en familie, en self kosmaak? Of het jy al?
Onthaal is soos my stokperdjie. Daar is vir my niks lekkerder as ’n ou dinner party nie. Ek vrek oor tafels dek en om mense te entertain. Ek moes mos na skool kies of ek agter die potte wil staan of op die verhoog wil staan. Om te onthaal is ’n kombinasie van beide.