Logo

chatNOU! nooi jou om elke weeksdag saam TV te maak

Nuus
24 Oktober 2016
Skakel regstreeks in vir die nuwe kykNET-musiekprogram chatNOU! op kykNET NOU! – DStv-kanaal 146.
chatNOU Presenters WEB-1

In die 21ste eeu besluit jy wat jy waar en hoe wil sien en hoor. Dis wat digitale burgerskap beteken. Hoekom dan nie ook van waar ook al jy is, saamgesels in ’n nuwe regstreekse versoek-, musiek- en leefstylprogram wat nie net vir jou gemaak is nie, maar wat jy help maak nie?

Met chatNou! kan jy jouself op TV sien – elke Maandag tot Vrydag van 16:00 tot 18:00 op kykNET NOU! (DStv-kanaal 146). Dis ’n opwindende twee uur lange regstreekse uitsending met aanbieders en kykers wat direk en interaktief met mekaar chat. Dit beteken jy kan inskakel en: jou gunstelingvideo opdra aan daai spesiale persoon; jou eie sosiale media-boodskappe op die skerm sien en self ’n onderhoud met die grootste celebs voer.

Die vier aanbieders is die voormalige NRG-sanger Stephan van Huyssteen, beter bekend as “Stephantasties”, die blogger-aktrise Ansu Visser, Jacaranda FM-omroeper Carla Mackenzie en die sanger-akteur Willem Botha.



In die geselskap van hierdie sprankelende aanbieders gee chatNOU! ’n platform vir kykers om hul menings oor onderwerpe via sosiale media met ons en die ander kykers te deel. Dié program sal ook insiggewende onderwerpe bekendstel waaroor kykers gesprekke met mekaar kan aanknoop.

Onder die leefstylonderwerpe wat gereeld aangeraak sal word, tel flieks, musiek, mode, kos, gaming, tegnologie, vermaak, nuwe tendense, teater, ontwerp, boeke, reis, D.I.Y. en natuurlik – sosiale media en die groot sosiale beïnvloeders op verskillende platforms. Die aanbieders sal daagliks interaktief met kykers oor dinge soos dié gesels. (Sien onder vir meer inligting oor die aanbieders.)

Deur die loop van elke program sal plaaslike en internasionale musiekvideo’s gespeel word. Daar sal ook herkenbare gesigte van regoor die mediabedryf wees wat via sosiale media met die kykers praat, vrae beantwoord en ons vertel wat hulle tans opgewonde maak, waarmee hulle besig is en hul menings lug oor verskeie relevante temas.

Elke kyker word dus genooi om elke weeksdag ’n gas op ’n waarlik interaktiewe geselsprogram te wees.

Kom chatNOU! op kykNET NOU! soos in… nie nou nie, NOU!

Die aanbieders:

CARLA MACKENZIE



CARLA MACKENZIE is in 1990 in die Wes-Kaapse dorp Malmesbury gebore. Sy gaan studeer by Maties en dit is hier waar die uitsaai-gogga haar byt. Op 20-jarige ouderdom het sy begin om naam te maak by die gemeenskapsradiostasie MFM. Daarna het sy as nuusleser by Goodhope FM begin werk.

Smile 90.4FM het in 2013 aan haar deur kom klop en dié geleentheid het die bal aan die rol gesit vir selfs groter geleenthede. In 2015 het JacarandaFM haar raakgesien en sy het dadelik haar 21 kilogram-sak gepak, op ’n vliegtuig geklim en nog nie weer teruggekyk nie. Sy bied tans ses programme op dié radiostasie aan. Van haar lekkerste ondehoude, tot dusver, was gesels met Siya Kolisi, Bittereinder, aKing, Fokofpolisiekar, Beatenberg en Plush.

ANSU VISSER



ANSU VISSER is gebore en getoë in Pretoria. In 2014 verwerf sy haar Honneurs-graad in Drama by TUKS, waar sy ook haar belangstelling in skryf en choreografie verken.

In 2015 skryf Ansu in vir kykNET & kie se aanbiederskompetisie en uit vele kandidate word sy gekies as een van die vier aanbieders. Haar loopbaan het behoorlik momentum gekry in 2016. Ansu het ’n rol vertolk in Sterlopers, wat in Februarie 2016 op kykNET was. Sy is boonop vanjaar te sien in die rolprente Jou Romeo en Vir die voëls.  Ansu is ook ’n kranige blogger.  Cut the Mustard is ’n leefstylblog en vertel meer oor die uitdagings van ’n jong volwassene. Sy is iemand wat baie graag high fives gee.

WILLEM BOTHA



WILLEM BOTHA vier vanjaar sy tiende jaar in die musiekbedryf. Sy paadjie het begin met die Afrikaanse Idols-kompetisie, waaraan hy in 2006 deelgeneem het. Daarna het ’n uiters suksesvolle loopbaan gevolg. Willem het talle SAMA-, Ghoema- en Huisgenoot Tempo-toekennings en -benoemings op sy kerfstok.

Hy het sedertdien ook sy buiging op die silwerskerm gemaak, met rolle in die musiekrolprente Liefling en Pretville. Willem was ook te sien in kykNET-reekse soos Donkerland en Sterlopers. Hy is baie lief vir teater en het hoofrolle vertolk in Reik na die sterreTree aan en Altyd in my drome. Aanhangers kan nou al begin uitsien na sy vierde album wat vroeg in 2017 vrygestel word.

STEPHAN VAN HUYSSTEEN



STEPHAN VAN HUYSSTEEN het reeds op 10-jarige ouderdom die planke betree – dié van die Pretoria Staatsteater s’n as deel van ’n kinderkoor wat twee operas uitgevoer het. Sy musikale talente het hom sedertdien na talle lande geneem, insluitend Spanje, waar hy as deel van ’n Il Divo- huldeblykgroep opgetree het. Ná sy terugkeer na Suid-Afrika was hy deel van die groep BRAVO!, wat twee albums vrygestel het.

Sedert 2011 was hy lid van die voormalige mansgroep NRG, wat talle treffers die lig laat sien het soos “Mayday”, “Ek kan jou nie keer”, “Onvoorwaardelik” en “Roulette”. Dié man, met sy voorliefde vir ritme en klank, is in sy vrye tyd ’n klank-ingenieur en het al klankbane vir die sirkusgroep Sircusynergy verwerk.