Logo

Boer Soek ’n Vrou: Vriende en familie

Nuus
20 November 2015
Die reis na die finale keuse is vol stampe en stote en in dié week se episode word ’n reusestap geneem: Die dames ontmoet die boere se vriende en familie.
Niel Wiskunde
Die reis na die finale keuse is vol stampe en stote en in dié week se episode word ’n reusestap geneem: Die dames ontmoet die boere se vriende en familie.

Dis die oggend ná die eerste uitstem-episode en op Ignus se plaas is die atmosfeer lig. “Ongelukkig is Marli bietjie siekerig vanoggend,” sê Ignus. “Ek dink die spanning begin haar nou vang.”

“Vandag gaan seker nie my beste dag wees nie, maar ons gaan dit geniet,” sê Marli.

Ignus slaan sommer self ontbyt aanmekaar. Sy kan nie glo hy maak ontbyt én dek tafel nie, sê Janli. “Julle kyk my vlak,” spot die boer.

Vir Marli wag daar ’n spesiale ontbyt – roosterbrood met drie soorte Bovril. Hy is ’n “omgeemens”, sê sy.

Hy is nog nie 100% seker wie saam met hom ’n lewenspad sal kan loop nie, sê Ignus. Hy dink wel beide het potensiaal om deel te wees van sy lewe. “Dis my tipe meisies.”

Marli hoop dat Ignus se familie haar eerlikheid en opregtheid sal kan raaksien.

Die kuier by die boer se vriende en familie verloop goed af. “Wat my net soveel opgewonder gemaak het en bly gemaak het was die feit dat hulle so goed met die kinders klaargekom het,” sê Ignus.

“Hoe ’n man sy ma hanteer spreek boekdele,” sê Janli. “Wat vir my die oulikste is, is dat hy sy ma ‘mamma’ noem.”

Marli stem saam: “Dis ’n baie goeie eienskap van hom. Dit is hoe hy eendag sy vrou gaan hanteer.”



By PJ-hulle is almal in ’n ligte luim. “Ek voel ek het die regte keuse gemaak,” sê hy.

Hoe meer tyd sy saam met die boer deurbring, hoe meer is sy op haar gemak rondom hom, sê Mischán.

Die meisies is dit eens: As PJ sy perde só bederf, dink net hoe gaan hy sy vrou bederf!

“Ek is via die maag, via die perd en via alles op pad na PJ toe!” sê Luzaan.

Hulle is presies “wie hulle die hele week was”, sê PJ. “Dis vir my ’n baie goeie teken.”



Niel meen hy en die dames vul mekaar goed aan, en vandag wys hy vir hulle die fynere kuns van koring plant.

“Dis lekker om so naby aan Niel in die trekker te sit,” sê Loraine. Niel “Hy is baie aantreklik!”

Volgens Monja is dit lekker om alleentyd saam met hom deur te bring.

Jan, Niel se pa, meen Niel moet met sy hart kies. “Ek kry nie geslaap in die nag nie,” sê Niel. “Wiskunde was nog nooit jou sterkpunt nie,” spot een van sy vriende.

“Dit lyk of een nogal sy hart gevang het,” sê Dougie, ’n vriend.

Sy voel meer vir Niel as wat sy gedink het sy sal vir hom voel, erken Monja. “Op dié stadium hou ek báie van hom.”

Die oggend se gebeure was vir haar lekkerder, sê Loraine, omdat sy toe meer tyd saam met die boer kon deurbring.

Hy het reeds gevoelens vir een van die dames ontwikkel, sê Niel.



Op Christiaan se plaas raak die dames én die boer gewoond aan hul nuwe situasie. “Three is a crowd,” sê Simoné.

“Hulle weet meer as wat ek dink hulle weet,” sê Christiaan tydens ’n wynproe-sessie.

Sy voel baie gemaklik tussen Christiaan en sy geliefdes, sê Eslia. “Vandat ek hier is, het ek meer selfvertroue.”

Sy sou meer op haar gemak gevoel het as sy daar was as sy meisie of sy vrou, sê Simoné.

Elkeen van die dames het “waardevolle kwaliteite”, sê Anèl, Christiaan se suster. “Ek dink dit gaan vir Christiaan ’n báie moeilike keuse wees.”

“Ek is nog steeds verward. Môre is ’n belangrike dag,” sê Christiaan. Hy meen die alleentyd saam met elke dame gaan deurslaggewend wees.



Derius meen dis makliker met twee vroue in die huis. “Ons was almal nogal taamlik geskok gewees,” sê Ninke oor die vorige aand se gebeure.

Maryke kry eerste kans om die boer se trekker te bestuur. “Ek het nou lekker gelag,” spot Derius.

Sy dink sy het goed gevaar, sê Ninke, wat self van ’n plaas af kom. “Ek verlang so na my pa nou!”
Vanaand is nie ’n maak-of-breek-situasie nie, sê sy, “maar vriende speel tog ’n groot rol.”

“Dis altwee kampioen-meisies. Hulle is soos ’n week vol Saterdae – jy kan nie verkeerd gaan nie,” sê Pieter-Renier, ’n vriend van Derius.

Sy kan sien Derius en Ninke het ’n band gevorm, sê Maryke.

“Ek is nie iemand wat daarvan hou om te voorspel nie,” sê Ninke.



Kan die boere en vroue werklik oop en eerlik met mekaar kommunikeer? Kom kyk saam volgende week, wanneer hulle mekaar selfs beter leer ken.

Boer Soek ’n Vrou is op Donderdae om 20:30 op die kassie.