Logo

Boer Soek ’n Vrou: Vlerksleep

Nuus
11 Desember 2015
Hierdie week op Boer Soek ’n Vrou het die rolle omgeruil, en was dit die boere se beurt om hul beste voetjie voor te sit.
Boer Opsomming Ep11
Vandag is dit die boere se beurt om hul gemaksones, plase en selfs provinsies te verlaat om te gaan vlerksleep by die dames se vriende en familie.

Eerste aan die beurt is Derius, en hy kies koers na Patensie om Ninke se mense te ontmoet.

Dié boer kry dadelik ’n glimlag op sy gesig wanneer hy oor Ninke gesels. “Rêrig ’n ou raakvatter,” sê hy. “Ek is opgewonde om haar weer te sien.”

Ninke verras Derius met ’n helikopterrit oor haar pragtige wêreld, en hy vir haar met ’n groot bos blomme.

Boonop skep die boer ’n goeie indruk by Ninke se ma, Lizelle. “Ek is sommer mal oor hom; sommer lief vir hom. Dit voel of ek hom al jare ken,” sê sy.

Sy is bietjie op haar senuwees vir die groot aand, sê Ninke. “Maar as ek vir Derius ken, gaan hy niks minder as ’n goeie indruk maak nie.”

Hy het nou ’n goeie idee oor hoe die dames moes voel, sê Derius wanneer Ninke hom aan die res van haar familie en vriende voorstel. “Ek het nou so klein gevoel.”

Hulle is hartsmense, sê die boer. “Dit maak dit net soveel makliker om bietjie aan te pas.”

Ninke en Derius is dit eens dat hulle wil hê dinge moet organies gebeur. “Dis nog baie platonies,” sê Derius.



Niel ry al die pad Witbank toe om saam met Monja en haar naastes te kuier. Hy ontmoet eerste haar ouers en dié is beïndruk deur hom. Niel is ’n “ordentlike boerseun”, meen haar pa, Louis.

“Niel is baie soos my pa,” sê Monja.

Ná middagete wil Monja perdry. “Ek het ’n vrees vir perde,” sê Niel. Hy stem nogtans in: “Dit was tog lekker gewees.”

Later word die vuur aangesteek en is dit tyd vir Niel om Monja se mense te ontmoet. “Hy sal vir haar ’n goeie maat wees,” sê Monja se ouma, Elize.

Sy het gekry waarna sy op soek was, sê Monja. Volgens Niel is die grondpad gebou; nou moet dit net geteer word.



In Tzaneen sien Janli uit na Ignus se koms. “As hulle enigiets is soos sy, gaan dit net ’n fees wees,” sê die boer.

Ignus is nie ’n voorgeemens nie, meen Janli se pa, Fritz. “Ek geniet die ou,” sê hy. Haar ma, Rachel, meen Janli hou effens terug.

Kort na middagete laat die twee die adrenalien pomp wanneer hulle teen ’n glykabel oor ’n waterval afgly. “Sy het sommer my wildste verwagtinge oortref,” sê Ignus.

Janli het ’n “awesome spul mense om haar,” sê Ignus wanneer hy die aand saam met Janli se mense kuier.

“Ek dink hulle like hom meer as wat hulle my like!” sê Janli. Haar suster en broer, Danika en Carl, dink ook Ignus pas goed by hulle in.

“Ek is tevrede met wat ek het,” sê Ignus.



Eslia het besluit om nie vir Christiaan te nooi om haar familie te ontmoet nie. Sy dink nie sy en die boer is goeie pasmaats nie, meen Eslia. “Ons geaardhede is glad nie dieselfde nie,” sê sy. “Ek dink baie dinge moet op sy manier gedoen word.”



In Heroldsbaai kom kuier PJ ’n dag vroeër vir Luzaan. “Die week het baie stadig verby gegaan,” sê hy.

Luzaan se ma, Daleen, sê PJ lyk na die tipe wat sy vrou eendag op sy hande sal dra. Haar pa, Leendert, sê PJ is ’n “man saam met wie ek ’n pad kan stap.”

Hy hoop hy maak ’n goeie indruk, sê PJ. “Sy (Luzaan) verdien net die beste.”

Volgens Luzaan spreek die glimlag op haar gesig boekdele. Sy neem PJ na ’n skietbaan, om te kyk wie die beste vaar. Hy sal maar “hoop en bid” hy wen elke keer, sê PJ, wat vandag as die beste skut aangewys word.

“Dis nou PJ; dis my outjie,” sê Luzaan wanneer sy PJ aan die res van haar familie en vriende voorstel.

Leendert spot en sê hy was bekommerd toe PJ ’n geskenk aanbring. “Mens moet bietjie lobola bring,” lag PJ.

“Hulle lyk baie erg oor mekaar,” sê Leendert. Madre, ’n vriendin, dink hulle pas goed bymekaar. “Hulle lyk net of hulle pas.”

PJ sê: “Om haar vanaand langs my te hê is als.”



Volgende week hou al die paartjies vakansie in Wildernis. Skakel in op Donderdag 17 Desember om 20:30, net op kykNET.