Logo

Boer Soek ’n Vrou: Vanjaar se toptien

Nuus
09 Mei 2016
Ontmoet die tien boere wat aan Boer soek ’n vrou se negende seisoen gaan deelneem!
BSV Minki 10 Boere

Foto: Stephanus Rabie


Ontmoet die tien boere wat aan Boer soek ’n vrou se negende seisoen gaan deelneem!

Leon-Fritz

[caption id="attachment_246911" align="alignleft" width="300"]
34 bsv 9 leon fritz 1
Leon-Fritz[/caption]

Lengte: 1,76 m
Kwalifikasie: B.Com
Kinders: Geen
Huistaal: Afrikaans
Huwelikstaat: Ongetroud

Leon-Fritz (29) het ’n gemengde boerdery in die Roedtan-omgewing in Limpopo. Dié boer is op soek na ’n selfstandige maat met selfvertroue en selfrespek. “Sy moet hou van lag!” sê hy. “Goeie beginsels, waardes en ’n verhouding met die Here is vir my belangrik.”

Hy beskryf homself as “lewendig en passievol”, en boonop “altyd reg vir ’n grappie en mal daaroor om ander mense te laat lag.” Hy is verder beginselvas, sportief, spontaan en lief vir die buitelewe. Hy braai graag saam met vriende en geniet moderne country-musiek. “Eerlikheid en opregtheid is nie onderhandelbaar nie,” sê die boer. “Ek is enige skoonma se droom.”

Uit vorige verhoudings het hy geleer “kommunikasie is die hartklop van enige verhouding.”

Hy is ook romanties. “Ek is nogal ingestel op klein dingetjies,” sê hy. “My ideale romantiese afspraak sal wees by ’n plek met ’n asemrowende uitsig. Met die vrou van my drome aan my sy, sal dit genoeg wees; die lekkernye en ’n kombers is ’n bonus.”

Kyk die video.

Wat is jou slegste gewoontes?

Om nie die eerste keer op te let wat iemand se naam is nie. Dringendheid, of die gewoonte om altyd betyds te wees.

Beskryf jou verhouding met jou ma.

Ek het ’n hegte verhouding met my ma en beskou dit as baie spesiaal! Ek kan alles met my ma deel, al dink ons glad nie dieselfde nie. Ons deel ook dieselfde sin vir humor en ek koester elke oomblik daarvan.

Wat is jou gunsteling deel van stad toe gaan?

Die pad huis toe!

Erhard

[caption id="attachment_246899" align="alignleft" width="300"]
34 bsv 9 erhard
Erhard[/caption]

Lengte: 1,77 m
Kwalifikasie: N3 Elektries
Kinders: Twee
Huistaal: Afrikaans
Huwelikstaat: Geskei

Erhard (64) boer met skape en Angora-bokke in die Karoo, en was al voorheen getroud. Hy is lief vir die natuur, hou van kamp, dans en geniet graag ’n glasie rooiwyn. Hy hou boonop daarvan om te toer en nuwe mense te ontmoet.

Dié boer beskryf homself as vriendelik, romanties en spontaan. Hy kan soms bietjie ongeduldig wees, sê hy, “maar darem nie onredelik nie.”

Kyk die video.

Wat is jou slegste gewoontes?

Ek is te haastig en te akkuraat. Mense hou nie by nie. Haha!

Beskryf jou verhouding met jou ma.

My ma leef lankal nie meer nie, maar ons het ’n baie goeie verhouding gehad. Sy het my meer vertrou as die res van die kinders. Ek kon so elke nou en dan bietjie geld leen, maar nie die ander kinders nie. Sy het geweet ek betaal terug.

Wat is jou gunsteling deel van stad toe gaan?

Dit hang af vir watter rede ’n mens stad toe gaan. As dit vir besigheid is, is dit meestal kopsere. As dit vir inkopies is, geniet ek dit om in die winkelsentrums rond te loop, maar net vir ’n klein rukkie. Ek stap gewoonlik met min klere daar weg. En dan natuurlik die see. As ek vir vakansie gaan, is dit lekker om naby Port Elizabeth se see te wees.

Pieter

[caption id="attachment_246914" align="alignleft" width="300"]
34 bsv 9 pieter
Pieter[/caption]

Lengte: 1,8 m
Kwalifikasie: Matriek
Kinders: Geen
Huistaal: Afrikaans
Huwelikstaat: Ongetroud

Pieter (31) kom van Nigel, Gauteng. Dié beesboer is op soek na ’n maat wat eerlik en opreg is, en die sleg saam met die goed kan vat. ’n Goeie sin vir humor, selfs bietjie sarkasme, laat sy hart bokspring. “Sy moet haarself nie te ernstig opneem nie en ’n speelse geaardheid hê. Sy moet positief wees,” sê hy.

Pieter boer al van kleintyd af – al was dit tóé met sy trekkertjies en karretjies. Die plaas was nog altyd sy leerskool. “Vandag is ek daardie boer wat nooit terugstaan nie, maar ’n plan maak.”

Hy beskryf homself as hardwerkend, innoverend en as iemand met baie dryfkrag. “Ek is ’n eerlike mens wat dinge reguit sê, maar ek het empatie met my medemens.”

Hy kyk graag F1, kuier saam met vriende en ry motorfiets.

Kyk die video.

Lesse uit vorige verhoudings:

Moenie aannames maak nie. Hoe ons iets hoor en hoe ’n ander persoon iets bedoel is nie altyd dieselfde nie.

Ideale romantiese afspraak:

’n Piekniek in die veld onder die sterre, met net die naggeluide in die verte.

Beskryf jou verhouding met jou ma.

Ek en my ma het ’n goeie verhouding. Ons beplan en praat gereeld. Ek is baie bevoorreg om haar te hê en dankbaar vir als wat sy vir my doen.

Wat is jou gunsteling deel van stad toe gaan?

Huis toe kom. Haha! Nee, ek geniet dit om in ’n koffiewinkel of so te sit en vir mense te kyk.

Johannes

[caption id="attachment_246908" align="alignleft" width="300"]
34 bsv 9 johannes
Johannes[/caption]

Lengte: 1,75 m
Kwalifikasie: Universiteit
Kinders: Geen
Huistaal: Afrikaans
Huwelikstaat: Ongetroud

Johannes (27) van Robertson boer met wyn en vrugte. “Ek het die boerdery ’n tydjie gelede oorgeneem en het groot planne vir die toekoms.”

Sy ideale maat is iemand “wat die uitdagings van die boerdery begryp en ondersteun, maar haar eie drome volg.”

Hy meen sy eerlikheid is een van sy beste eienskappe. Wat jy sien is wat jy kry, en hy het ’n goeie hart. “Ek is perfeksionisties, gefokus en kompeterend,” sê hy.

Johannes hou homself besig met sport, fiksheid en skiet.

“Ek waardeer nog die klein goedjies in die lewe, veral as ’n mens in die natuur werk en afhanklik is daarvan.”

Kyk die video.

Lesse uit vorige verhoudings:

Gee die ander persoon spasie om hulself te wees en uit te leef. Learn which bridges to cross and which to burn.

Beskryf jou verhouding met jou ma.

My verhouding met my ma is goed. Ek is onafhanklik van my gesin, en probeer my eie ding doen. Ek probeer bystaan met takies en as sy wil gesels, maar maak dalk minder tyd vir haar as wat ek behoort.

Wat is jou gunsteling deel van stad toe gaan?

Om te sien hoe bevoorreg ek is in terme van spasie en vryheid, en om die plaas meer te waardeer.

Cornè

[caption id="attachment_246896" align="alignleft" width="300"]
34 bsv 9 corne
Cornè[/caption]

Lengte: 1,72 m
Kwalifikasie: Universiteit
Kinders: Geen
Huistaal: Afrikaans
Huwelikstaat: Ongetroud

Cornè (30) van Alexandria in die Oos-Kaap is ’n melkboer, en die natuur en diere is sy liefde en lewe. Dié boer gesels maklik en het ’n goeie humorsin met skerp sêgoed en ’n wye algemene kennis. “Sonder vreugde kan ’n mens nie ver kom nie. Vriendelikheid kos niks.”

Hy is passievol en hou daarvan om te kamp en nuwe plekke te verken. Hy staan ook nie maklik terug wanneer daar uitdagings oor sy pad kom nie.

Iemand wat “liefde uitstraal na haar medemens en geliefdes” gaan dié boer se aandag trek. So ook ’n nederige vrou wat “mooi van binne” is.

“Die lewe is kort, en ’n mens moet voluit lewe vir die Here, jouself en jou eggenoot,” sê hy. “Jy moet eerstens respek vir jouself hê. As jy dít het, sal jy ook respek hê vir ander om jou.”

Kyk die video.

Slegste eienskappe:

Soveel soos wat ek kan praat kan ek ook stil raak. Ek deel baie min wat in my hart aangaan, maar maak wel oop teenoor mense vir wie ek lief raak.

Ideale romantiese afspraak:

Ek dink ek is romanties. ’n Aand in die veld, kampvuur en tent, en net die vuur se geluide en diere wat in die agtergrond gesels. Om met mekaar langs die vuur te deel wat regtig saakmaak.

Wat is jou gunsteling deel van stad toe gaan?

Seker die mall en Food Lovers Market. Nou kyk, ek stap daar in vir iets vinnigs en as ek weer sien moet ek ’n trollie gaan haal.

Hennie

[caption id="attachment_246902" align="alignleft" width="300"]
34 bsv 9 hennie
Hennie[/caption]

Lengte: 1,83 m
Kwalifikasie: Honneurs
Kinders: Geen
Huistaal: Afrikaans
Huwelikstaat: Ongetroud

Hennie (26) is ’n veeboer van Willowmore en op soek na ’n “partner in crime”.

Hy hou van ’n vrou wat weet wie sy is en wat sy in die lewe wil hê. “Sy moet weet geluk begin by haarself,” sê hy. “Ons moet saam die Here kan dien en saam kan groei.”

Dié boer is een van vyf kinders, en hy en sy drie broers boer saam met sy pa. Hy is spontaan, avontuurlustig en hou van die mooi in die lewe. Hy maak graag ou huise en meubels weer nuut. “Ek hou daarvan om na iets te kyk wat soos niks lyk en iets moois daarvan te maak.”

Hy beskryf homself as ’n doodgewone boerseun. “Dis maklik om voor te gee wie jy nie is nie, maar dis nóg makliker om net jouself te wees.”

Kyk die video.

Lesse uit vorige verhoudings:

Eerlikheid. Sonder eerlikheid is daar nie opregte liefde en respek nie. Ek het al gevind dat geen verhouding sonder kommunikasie groei nie. Altwee se fondamente moet gegrond wees in die Here, sodat mens stewig staan in moeilike tye.

Slegte eienskappe:

Frustrasie. Ek raak soms gefrustreerd as dinge nie dadelik gebeur nie. Verstrooid. Ek vergeet soms goed wanneer ek dagdroom. Impulsief. Ek deurdink nie altyd wat ek sê of doen nie.

Ideale romantiese afspraak:

Romanse is nie noodwendig een afspraak nie, maar eerder ’n honderd klein dingetjies – soos om ’n mandjie te pak en die sonsondergang te gaan kyk, en ’n blommetjie te pluk langs die pad.

Johan

[caption id="attachment_246905" align="alignleft" width="300"]
34 bsv 9 johan
Johan[/caption]

Lengte: 1,79 m
Kwalifikasie: BTech (bemarking)
Kinders: Geen
Huistaal: Afrikaans
Huwelikstaat: Ongetroud

Vir Johan (34) van Victoria-Wes is eerlikheid en aanpasbaarheid belangrike eienskappe. “Ek is ’n baie reguit persoon en wat jy sien is wat jy kry.”

Dié skaapboer hou van die buitelewe, sport en om sosiaal te verkeer.

Kyk die video.

Slegste eienskappe:

Ek is ongeduldig en hou nie van persone wat voorgee om iets te wees wat hulle nie is nie.

Wat is jou slegste gewoontes?

Ek is dalk soms té sosiaal, en my broek is my beste braailap.

Ideale romantiese afspraak:

Ek sal myself nie as ’n romantikus voorhou nie, maar as die geleentheid daar is kan ek romanties wees. ’n Lekker vuurtjie met piekniek in die Karooveld is vir my die perfekte plek en afspraak vir romanse.

Rob

[caption id="attachment_246917" align="alignleft" width="300"]
34 bsv 9 rob
Rob[/caption]

Lengte: 1,9 m
Kwalifikasie: Universiteit
Kinders: Geen
Huistaal: Engels
Huwelikstaat: Ongetroud

Rob (39) kom van Knysna. Dié melkboer is op soek na iemand met hope positiewe energie en ’n goeie sin vir humor.

Hy het vyf jaar lank in Johannesburg gewoon, waar hy geroei het. Rob beskryf homself as betroubaar en eerlik. “Ek is vasbeslote wanneer dit nodig is.”

In ’n verhouding meen hy dis belangrik om ’n goeie verstandhouding te hê. Kommunikasie is verder belangrik, want dis gevaarlik om aannames te maak.

Kyk die video.

Slegste eienskappe:

Ek is geneig om dinge te los vir die laaste minuut en beplan nie baie goed nie.

Beskryf jou verhouding met jou ma.

Ek kom baie goed met my ma oor die weg en het baie respek vir haar. Sy deel graag haar raad, maar ondersteun terselfdertyd die besluite wat ek neem.

Wat is jou gunsteling deel van stad toe gaan?

Ek geniet die atmosfeer in groot stede.

Arno

[caption id="attachment_246893" align="alignleft" width="300"]
34 bsv 9 arno
Arno[/caption]

Lengte: 1,89 m
Kwalifikasie: Matriek
Kinders: Geen
Huistaal: Afrikaans
Huwelikstaat: Ongetroud

Arno (26), ’n liefdevolle boer van Newcastle, geniet die vryheid wat boerdery hom bied om sy eie besluite te neem. Sy raad vir verhoudings is: “Praat, praat, praat. Respekteer mekaar genoeg. Lag baie saam.”

Dié boer het ’n sterk persoonlikheid, maar ook ’n sagte hart. “As ek na myself kyk, sal ek sê deursettingsvermoë en lojaliteit is van my beste eienskappe.”

Hy is op soek na iemand wat opreg is, daarvan hou om sosiaal te verkeer en ’n gebalanseerde lewe handhaaf.

Kyk die video.

Wat is die grootste fout wat jy al in jou lewe gemaak het?

Omdat ek by my pa geleer het om ’n lewe van “no regrets” te lewe, is dit vir my ’n moeilike vraag om te antwoord. Ek dink daar is twee goed wat ek sou verander het. Ek sou gaan swot het na skool. Hoewel ek mal is oor wat ek nou doen, dink ek ek het bietjie uitgemis op ’n deel van ’n mens se jongmenslewe, wat baie belangrik is. Ek sou ook twee jaar gevat het en gaan “lewe” het; die wêreld gaan ervaar het of deur Afrika gaan toer het met ’n motorfiets – sulke tipe goed. Maar om dit nie te gaan doen nie het ook sy voordele gehad.

Wat is jou slegste gewoontes?

Ek kan vinnig belangstelling verloor as ek dieselfde ding oor en oor moet doen. My klere het die gewoonte om op die grond te gaan lê in die badkamer. Ek sukkel my dood om op te staan. Ek stel vyf alarms, en sal deur almal slaap sonder om te hoor.

Wat is jou gunsteling deel van stad toe gaan?

Verseker die mense! En sushi – iets wat ons nie hier kry nie.

Wessel

[caption id="attachment_246920" align="alignleft" width="300"]
34 bsv 9 wessel
Wessel[/caption]

Lengte: 1,78 m
Kwalifikasie: Honneurs
Kinders: Geen
Huistaal: Afrikaans
Huwelikstaat: Ongetroud

Wessel (31) is op soek na ’n intelligente en lewenslustige vrou met integriteit. Dié boer van Cradock is avontuurlustig, liefdevol, barmhartig en sportief. Hy hou veral van roei en klavierspeel.

Uit vorige verhoudings het hy geleer dat jou lewensmaat werklik jou beste maat moet wees. “Mens moet mekaar se swakpunte kan aanvul en besef geen mens is perfek nie.”

Kyk die video.

Ideale romantiese afspraak:

Mooi uitsig, goeie wyn, kerslig, blomme, uitgevat, goeie musiek, sagte atmosfeer, opbouend, dans, flankeer, cuddle, soen.

Wat is jou slegste gewoontes?

Koffie, biltong met geelvet, skaaptjops en adrenalien.

Beskryf jou verhouding met jou ma.

Ek is ongelooflik baie lief vir my ma. Ons verstaan mekaar verskriklik goed en sy weet alles van my. Sy is sag en die goedhartigste mens wat ek ken.

Wat is jou gunsteling deel van stad toe gaan?

Ek vind die stad se liggies baie romanties. Ek is mal daaroor om Ster-Kinekor se popcorn en Slush Puppy te ruik en te geniet. Gelato-roomys, wat tipies net in stede beskikbaar is, is ook baie verleidelik. Ons naaste stad is Port Elizabeth en dus is die see ’n bonus. Ek swem graag in die mooi blou see en kayak ook gereeld op die groot oop waters.

Het een van dié boere jou aandag getrek? Skryf dan gerus in om deel te wees van hierdie avontuur.