Logo

Boer Soek ’n Vrou: Só bemark sepiesterre hulself

Nuus
13 November 2017
Ons het by twee van ons land se gewildste sepies gaan aanklop om te hoor hoe hulle hulself in ’n brief sou bemark.
BSV_Minki briewe

FOTO: Minki uit vandeesweek se episode van Boer Soek ’n Vrou.


Boer Soek ’n Vrou se Minki Joubert is gewoond daaraan om posduif te speel vir die boere van dié gewilde werklikheidsreeks. Sy het al heelwat gesien – van tranetrekker briewe tot daai briewe wat jou laat skaterlag. “Die ding wat my nogsteeds absoluut verstom, is die feit dat die meisies so verskriklik baie moeite doen. Ek is rêrig weggeblaas daardeur en ek dink die boere ook en ek dink hulle waardeer dit ook verskriklik baie,” vertel sy. 

Hoe sal die gewilde aanbieder haarself in só ’n brief bemark? Minki het dadelik ’n antwoord gereed.  “Ek sou seker maak die foto is mooi en natuurlik, want dit is tog waarna jy kyk ook. En dan dink ek as daar ’n bietjie van jou persoonlikheid kan uitkom in die brief. Dalk ’n bietjie quirkiness, of ietsie wat net anders is. Iets wat ’n bietjie weggee van jouself. Moet definitief nie met die hele sak patats vorendag kom nie. Dat daar nog ’n element van misterie is. Dat die boer darem weet daar is nog iets wat kom as hy jou ontmoet die dag."

Ons het by ’n paar Suidooster- en Getroud met Rugby-akteurs gaan aanklop om te hoor hoe hulle hulself in ’n brief sou bemark.

Hier is hoe die Suidooster-akteurs hulself sou bemark:

Dean Smith (vertolk die rol van Wade Ferreira)
"Ek is ’n akteur, so ek kan wees wie jy ook al wil hê ek moet wees! Maar ek is ’n gemaklike mens en glo jy moet iemand anders die ruimte gee om net hulself te wees."

Eden Classens (vertolk die rol van Justin Potgieter)
"’n Six-pack en ’n persoonlikheid in een pakket is skaars, maar as jy dit vind is dit ’n ongelooflike kombinasie."

Marco Spaumer (vertolk die rol van Tim du Plooy)
"Ek maak lekker kos en het geen probleem met skottelgoed was nie – geen tradisionele stereotipering by my nie."

Gantane Kusch (vertolk die rol van Dr. Siya Thuli)
"Ek weet nie net wat die hart wil hê nie, maar ook wat dit nodig het. Ek dig en maak musiek ook… Wat meer het die liefde nodig? Jou tyd vir geluk is nou."

Hier is wat die Getroud met Rugby-akteurs te sê het:

Melissa Willering (vertolk die rol van Chrissie Bekker)
“As ek myself in ’n brief moes bemark sou ek seker gesê het ek is ’n introvert, so dit vat my gewoonlik ’n hele rukkie om gemaklik te raak met mense. In groot groepe is ek gewoonlik die stil een. In my vrye tyd swot ek sielkunde deur Unisa, deeltyds. Ek hou daarvan om te reis en nuwe plekke te verken en ek hou van skilder. Ek geniet dit baie om te kuier saam met familie en vriende. Ek kan ongelukkig nie kosmaak nie, maar ek kan probeer. Dit is een van my swakpunte. Verder glo ek net in hard werk en jou drome volg."

Sean van Noordwyk (vertolk die rol van Reitz Bekker)
"As ek myself moet opsom in ’n paar woorde, sou ek myself definitief in twee persoonlikhede opsom. Dit is die avontuurlustige ene en dit is die stil, skaam Sean.

Die avontuurlustige ene hou daarvan om saam met sy vriende te kuier en nuwe goed te probeer, en veral om by die see te wees, want dis ongelooflik lekker daar met lekker seekos, en net die son wat lekker op jou brand. Dan, die stil Sean sal definitief by die huis wees, ’n boek lees en ook net daarvan hou om ’n lekker glasie wyn saam met lekker kos te eet."

KYK: BOER SOEK 'N VROU EKSKLUSIEF - WEGGEBLAAS

LEES: MINKI – 'DIS NOU MAAK OF BREEK'

LEES OOK: VYF MINUTE SAAM MET MINKI JOUBERT

Donderdag om 20:00 ontmoet die vyf boere elk tien dames tydens blitsafsprake – jy wil dit nie misloop nie! Volg ons op Facebook, Twitter en Instagram, en gesels saam by #GroterBeterBoer en #BoerSoeknVrou.