Logo

Boer Soek ’n Vrou: Reünie

Nuus
25 Desember 2015
Dié week op Boer Soek ’n Vrou sien ons vir die eerste en laaste keer ál die boere van die agtste seisoen bymekaar.
Screen Shot 2015-12-24 at 10.24.21 AM

Kykers kon Niel, Christiaan, Ignus, Derius en PJ se liefdesreise weekliks op die kassie volg, terwyl Louwrens, Michael, Diana, Helen en Gawie op hul eie tyd kon werk deur die briewe wat hulle ontvang het.

Niel daag met Monja aan die arm by die reünie op. “Lyk my die wag was toe die moeite werd,” sê Nadia. Sy was effens bekommerd oor dié twee, sê sy, veral ná die boere en dames vir ’n week in Wilderness uitgespan het.



“Ek dink ons is op dieselfde bladsy,” sê Niel. “Ons het vir mekaar gesê ons is sáám in hierdie ding.”

Volgens Niel is hy en Monja hier as vriende en sal hulle na afloop van die reeks kyk wat gebeur. Monja sê sy voel “baie gemaklik met die besluit.”

Derius en Ninke kom glimlaggend om die draai. “Ons het bietjie gepraat,” sê die boer. Op die oomblik is daar net ’n vriendskap, maar wanneer Nadia by Derius wil weet of hy tevrede is daarmee, antwoord hy: “Nee.”



Snaaks genoeg is Derius die een wat sekerheid wil hê, spot Nadia. “Dit frustreer die rook uit my uit!” lag die boer. “Ons almal het uitdagings nodig,” sê hy. “Mens gee nooit op nie.”

Volgens Nadia kan Ignus ’n baard op sy gesig groei, maar beslis nie gras onder sy voete nie. Janli is nie vandag aan dié boer se sy nie, maar eerder Simoné – ’n vrou wat hy al ’n geruime tyd ken. Hy meen hy en Janli “was net nie bedoel vir mekaar nie.”



Hy en Janli is nou “tjommies” – iets wat Simoné glad nie pla nie. Ignus en Simoné ken mekaar al drie jaar, maar was nog nooit romanties betrokke nie. Die Boer Soek ’n Vrou-proses het hom meer selfvertroue gegee, meen Ignus. Hy is tevrede, sê die boer, en dink daar is potensiaal vir ’n verhouding.

Christiaan kuier vandag alleen saam met die boere en hul metgeselle. Dié boer was baie bedrywig, maar verklap dat ’n “oulike dame” op die plaas kom wyn proe het. Hy meen dit is nog te vroeg om meer oor haar uit te brei.



PJ en Luzaan koer steeds en dié twee laat ook nie op hulle wag nie. Luzaan het ’n werk in Pretoria losgeslaan, wat die afstand tussen haar en PJ verkort. “Die pad is saam vorentoe,” sê die boer, wat byna klaar is met sy studies.



Diana is in haar noppies met die man langs haar. Rassie het vir haar ’n brief geskryf, en die boer meen hy skakel maklik tussen haar en haar mense in. “Ons vriendskap gaan groei,” sê Diana. “Ons weet nie waar dit gaan eindig nie.”



Gawie is steeds ’n alleenloper. “Afstand, die ou vyand, is nog steeds daar,” sê hy, maar hy het baie vriendinne gemaak in die proses. Hy meen hy sal wéét wanneer hy die regte persoon ontmoet.



Helen het iemand ontmoet, wat nie vandag saam met haar kan wees nie. Dié bedrywige boer sê sy sal tyd opoffer wanneer dit by die regte persoon kom. “Dis nou weer ’n kans wat ek vat.”



Michael daag saam met ’n dame, Louise, op. Hulle ken mekaar drie weke lank, en het in die voorportaal van Michael se gastehuis ontmoet. “Daar is definitief ’n aantrekking,” sê die boer.



Louwrens het groot nuus om vandag te deel. Dié boer het die dag voor die reünie verloof geraak. Hy meen nie een van die dames agter die briewe het sy hart gesteel nie. Hy het sy verloofde, Chantelle, deur sy swaer ontmoet en van dag een af ’n vonk gevoel. “Dis absoluut wat ek gesoek het,” sê Louwrens. Hy is “100% trots” op te kan sy hierdie is sy verloofde, sê hy.



Só kom die agtste seisoen van Boer Soek ’n Vrou tot ’n einde, maar hou gerus die webblad dop vir meer nuus en eksklusiewe inhoud.