Logo

Boer Soek ’n Vrou: Liefdesdriehoeke

Nuus
27 November 2015
Vandeesweek op Boer Soek ’n Vrou kon die boere en dames alleentyd saam deurbring. Daar het egter ’n paar verrassings op van hulle gewag.
Mischan Feature
Die liefdesdriehoeke op die plase raak ál meer ingewikkeld, en dit het tyd geword vir die boere om te bepaal watter dames gaan die beste inpas, aanpas en veral by hom pas.

Die lyn tussen hoop en teleurstelling is ragfyn, en op Derius se plaas is belangrike besluite reeds geneem.

Maryke meen daar is ’n vonk tussen Derius en Ninke, wat sy en die boer nie deel nie, en sy vra om die plaas vandag al te verlaat. “Die vonk is daar, maar die vlam het net nie gevat nie,” sê sy.

Volgens Derius ís daar gevoelens tussen hom en Ninke, en sal dit onregverdig wees om Maryke aan ’n lyntjie te hou.

“Ek gun eerder vir hulle twee ’n ekstra dag,” sê Maryke. Sy glimlag wanneer sy sê: “Die twee is soos botter en een brood.”

“Ek is totaal en al uit die veld geslaan daardeur,” sê Ninke. “Ek het dit nie sien kom nie.”

Maryke sê dit is ’n “gemeenskaplike gevoel” en sy dink sy en Derius het die saak op ’n baie volwasse manier hanteer. “Ek gaan met ’n glimlag in my hart hier weg.”



Sy vriende en familie is baie “optimisties” oor die dames, sê Niel.

“Ek hou baie van jou, rêrig,” sê Loraine wanneer sy en Niel uiteindelik alleentyd saam het. Sy is egter teleurgesteld, omdat sy uitgesluit gevoel het by die vorige aand se braai.

Niel stem saam: “Dit moenie eintlik só wees nie. Ek moet regmaak waar ek verbrou het.”

Brand jou liefdeskersie? wil die boer weet. “Mens sal nooit weet voor mens nie probeer nie,” sê Loraine. “My vlammetjie brand ook al,” sê Niel.

Sy kan nie haar gevoelens vir hom wegsteek nie, sê Monja vir Niel. Hulle gesels oor langafstand, prioriteite in verhoudings en verlief wees. “Jy moet baie insit, maar dit moenie moeite wees nie,” sê Monja.



Op Ignus se plaas word die dames met ontbyt bederf voor die dag se gebeure afskop.

“Ek wil hê hy moet vir my sê hoe hy voel,” sê Janli. “Hy moet ophou draaie loop.”

Marli meen Ignus het reeds in sy hart ’n besluit geneem. Sy dink Ignus is “bitterlik” aantreklik, maar sy is nie verlief nie. Ignus moet verder nie té veel oor sy besluit dink nie. “Hierdie is ’n instink-ding,” sê sy.

“Kom ek sê nou hierdie baie eerlik,” sê Janli vir Ignus. Dit sal onregverdig wees sou Ignus vir Marli huis toe stuur omdat hy dink sy wil vriende bly. “Die besluit is nog geensins gemaak nie,” sê Ignus.

“Jy is baie grys en jy het vir my gesê ek is ’n oop boek,” sê Janli.

Hy gaan die dame kies wat hy op die plaas wíl hê, sê Ignus. “As sy hier moet wees, gaan sy hier wees en dis goed genoeg rede.”



Christiaan voel die dames is “terughoudend”, want elkeen wil haarself nog beskerm.

Hy wil by Eslia weet hoe sy dink hulle die situasie met hul kinders gaan hanteer. Op haar beurt wil sy by die boer weet of hy na ’n “trophy wife” op soek is. “Nee, nee,” sê hy. “Ek dink jy is aanpasbaar.”

“Jy weet ek is ernstig oor jou,” sê Simoné. “Ek dink ek is nogal verlief.”

“Ek is bietjie anders in daai geval,” sê die boer. “Dis ’n langer proses vir my.”

Simoné meen Christiaan weet nie waarna hy eintlik op soek is nie.

“Ek is eintlik die oorsaak van my eie ondergang,” sê Christiaan. “Dis wonderlike mense en nou moet ek ’n besluit neem.”



Op PJ se plaas word die dames onkant gevang met ’n aankondiging: PJ wil vandág kies. “Luzaan, sal jy saam met my op die plaas bly?” vra die boer.

“Mischán, ek is rêrig jammer,” sê PJ. “Jy moet weet, die afgelope drie, vier dae saam met jou was wonderlik gewees.”

Mischán sê sy respekteer die boer se besluit. “As jy weet, dan weet jy.”

PJ is “presies die tipe ou” waarmee sy haarself sien, sê Luzaan. “Ek het gesien wat ek wil sien en ek is baie tevrede.”



Skakel in vir Boer Soek ’n Vrou op Donderdag 3 Desember om 20:30, om te sien hoe die laaste dag op die plase verloop.