Logo

Boer Soek ’n Vrou: Johan in ’n neutedop

Nuus
01 Desember 2017
Ons loer by Boer Soek ’n Vrou se Johan in.
BSV_Boer Johan_Billboard

FOTO: Donna Lewis


Netjies geklee in blou met ’n bril wat stewig op sy neus geplant is, staan boer Johan gereed om te gesels. Ons het hom leer ken as die saggeaarde beesboer van Mpumalanga wat weet wat hy uit die lewe en in ’n maat soek.

KYK: 'Ek is ’n boer''

Tog was kykers landswyd ontsteld toe hy een van die dames wat vir hom ingeskryf het van dronkenskap beskuldig het en haar “beleefd” gevra het om te gaan voordat hulle tien minute saam kon spandeer. “Jou wêreld en my wêreld is twee verskillende wêrelde,” het Johan tydens die episode verduidelik.

KYK OOK: Drie dames vir Johan

Voor sy uitlatings ’n sosiale media-herrie ontketen het, het ons het by hom ingeloer en ’n kant van hom leer ken wat kykers nie noodwendig op die kassie sien nie.

“Ek is in Carolina gebore,” trek hy weg met heimwee in sy kykers. “Dis hoe ek weer terug is plaas toe. My pa het geboer, so entjie van waar my plaas nou is.”

Ná sy pa se afsterwe in ’n motorongeluk moes sy ma noodgedwonge die plaas verkoop en hy en sy tweelingbroer en suster het sak en pak dorp toe getrek, waar hulle gebly het tot ná hy klaar is met skool.

“In my hart het ek altyd gevoel ek wil terug. Toe dié plaas op die mark gekom het, het dit my ’n jaar gevat om te koop. Die dag toe die verkoper bereid was om te verkoop, toe koop ons.”

Eintlik kan Johan se lewe in drie fases opgesom word, verduidelik hy.

Fase 1  - “Dis waar ek jonk was, weermag gedoen het en studeer het”

Ná skool wou Johan baie graag maatskaplik studeer het. “Dinge het toe anders geloop en ek het eers gaan studeer op 30.”

Fase 2 – “Besigheidsfase”

Op die ouderdom van 36 het Johan sy studie voltooi, by kinderwelsyn betrokke geraak en toe die sakewêreld betree. “In daai deel van my lewe het ek ’n besigheid begin, ’n moedermaatskappy wat my oudste seun volle beheer, besit van het, wat aan hom oorgegee is.”

Johan het daarna besluit om vir drie jaar sy tuiste te verruil vir Kanada en met sy terugkoms sy nuutste besigheid van die grond gelig, waarby sy jongste seun betrokke is.

Fase 3 – “Uittreefase”

“Toe ek 60 was in Januarie het ek besluit dis tyd om aan my seun en sy vrou oor te gee, wat ook ’n direkteur geword het.”

Só verwelkom hy die nuwe fase van sy lewe en hy kan nie anders as om oor Carolina te gesels nie, wat al duidelik deel van hom is. “Wat Carolina vir my uniek maak is dat die mense wat daar is, wat ek nie almal eers noodwendig mee ken nie, het gebly wie hulle is. Warm mense soos my buurman oor die pad. Die dag toe ek gesukkel het om die ysterpale in te slaan vir die elektriese omheining om die huis het hy vir my ’n toerustingstuk afgelewer met twee sulke ore aan waarmee ons die pale ingeslaan het. ’n Paar dae later het hulle my eie een vir my afgelewer wat hulle gemaak het. Dit is die hart van die mense wat vir my uitstaan.”

Buiten vir die gemeenskap klop Johan se hart ook warm wanneer hy praat oor sy twee seuns. “Ek was ’n baie betrokke pa gewees toe hulle klein was. Ek het my kinders help grootmaak.” Johan vat ’n oomblik om teen die trane te baklei. Die trane wen, maar dan helder hy vinnig weer op wanneer hy oor sy twee kleinkinders praat wat gaan trots wees om hulle oupa op die televisie te sien.

Johan is opsoek na ’n saggeaarde, liefdevolle, eerlike en avontuurlustige maat. “Iemand wat daarvan hou om te reis. ’n Gemaklike dame wat daarvan hou om te kamp, of in ’n vyfster hotel sal tuis voel. Finansieel onafhanklike, aantreklike, geestelike, aktiewe, fikse skraal spontane diereliefhebber.” Of Johan haar gaan vind, sal net die tyd leer.

KYK OOK: Steeds opgewonde 

Drie dames kuier vandeesweek by elke boer op die plaas. Volg ons op Facebook, Twitter en Instagram, en gesels saam by #GroterBeterBoer en #BoerSoeknVrou.