Logo

Boer Soek ’n Vrou: Hou vas, hier kom die dames

Nuus
30 Oktober 2015
In dié week se episode van Boer Soek ’n Vrou het die vyf boere se gekose dames op hul plase opgedaag – gereed om hulle van nader te leer ken.
BSV Plaaskuier Feature
In dié week se episode van Boer Soek ’n Vrou het die vyf boere se gekose dames op hul plase opgedaag – gereed om hulle van nader te leer ken.

PJ se dames moes bokdrolle spoeg om te bepaal in watter kamers hulle tydens die plaaskuier gaan bly. Luzaan het die hoofslaapkamer losgeslaan, terwyl Noelle en Michán ’n kamer moet deel. Die dames was dit almal eens dat PJ hul asems wegslaan. “Op ’n skaal van een tot tien is PJ se aantreklikheid 12,” het Noelle gesê.

Hy wil die dames dié week op ’n ander vlak leer ken, het PJ gesê. “Ek hou van ’n meisie wat selfvertroue het.”

Niel het die aap uit die mou gelaat, maar dié aap was nie lus vir sy streke nie. Toe sy troeteldier-apie nie wou help om kamers aan die vroue toe te ken nie, moes Niel ’n ander plan maak.

Hy sien uit na die week wat voorlê, het hy gesê. “Ek hoop die vlammetjie brand nog.”

Christiaan het vir elk van sy gekose dames ’n bossie blomme in die arms gestop met hul aankoms. Dié bekroonde wynmaker het die vroue boonop verder beïndruk toe hy hulle gewys het hoe die snoeiproses op sy wynplaas werk.

“Sy kinders is ’n prioriteit in sy lewe,” het Amalia oor Christiaan gesê. “Dis fantasties.”

Daar is kompetisie onder die dames, meen Christiaan.

Derius en Nadia het eers ’n selfie geneem voordat die dames opgedaag het. Die plaas is pragtig, het Ninke gesê. “Daar is eintlik nie woorde nie.”

Hy het nog nie ’n “favourite” nie, het Derius gesê.

Ignus het die dames lag-lag op die plaas verwelkom. Volgens Ignus is dit nie vir hom baie belangrik dat sy toekomstige vrou fisies op die plaas betrokke moet wees nie. “Als het sy tyd en plek,” het hy gesê.

Hy meen daar is nog nie iemand wat uitstaan nie. “Ek wil hulle almal ’n gelyke kans gee.”

Kyk Boer Soek ’n Vrou, elke Donderdag om 20:30.