Vrousoek is ’n ernstige storie! FOTO: Donna Lewis
Boer Soek ’n Vrou gaan oor keuses, en vir ons boere lê daar vandeesweek ’n taai keuse voor.
Niemand kan egter koes vir die werklikheid nie, en vir ’n paar van ons deelnemers het dinge ietwat anders uitgedraai: Op Braam en Johan se plase is daar nie meer twee hubare dames om van te kies nie.
Janine het verlede week oop kaarte met Braam gespeel en vir hom, Yola en die boer se plaas buite Oos-Londen gegroet: Sy glo nie daar wag ’n romantiese toekoms op haar en Braam nie.
Vir ons boer was dit nie ’n maklike pil om te sluk nie, en hy het verklap dat dié donkerkop aanvanklik sy nommereen-keuse was. Maar hy respekteer die besluit: “That’s life. Ek aanvaar dit so en ek sal maar aangaan met my lewe.”
Vandag loer Minki in by hom en Yola, nadat hulle die vorige aand oor toekoms-dinge kon gesels. Braam en Yola bevestig egter dat daar nie ’n gelukkige einde gaan wees nie. “Ek glo nie ons is gelukkig op hierdie stadium nie, maar ons moet realisties wees,” sê Braam.
Yola sê dit was “grotendeels Braam se besluit” om dinge stop te sit, en dat hulle nie op hierdie stadium vriende gaan bly nie. Braam sê: “Ek dink ons moet altwee eers hierdie hele storie probeer verwerk.”
Hy voeg by dat dit sy eie “stupidgeit” is wat hom en Yola hier gekry het, omdat hy nie “die ding 100% deurdink het nie” en dat afstand vir hom die grootste rol speel. “Als gebeur vir ’n rede. Sy is ’n amazing mens.”
Ons boere deel met ons die belangrikste lesse wat hulle uit vorige verhoudings geleer het. Kyk die video hier onder:
By Johan is daar ook net een vrou op die plaas oor, en Minki gesels met hom en Marilyn oor hul toekoms saam.
Marilyn is nie een wat maklik oor haar gevoelens praat nie, maar sê dit laat haar baie goed voel om te weet Johan kan maklik gesels oor wat in sy hart aangaan.
“Ek sal Johan beter wil leer ken,” sê Marilyn. “Daar is nog baie van Johan wat ek moet van leer en ontdek.”
Waaroor gesels Minki met Johan en Marilyn? Kyk hier!
Op Jacques se plaas is die keuse gemaak en die boer meen hy is tevrede daarmee, al voel dit of hy met sy hart dobbel. Hy sê “jou kop het maar ’n invloed op jou besluit”, maar hy volg vandag sy hart.
Corné en Danél is ’n gedugte span in die kombuis, en Corné spot en sê die boer kan hulle albei maar aanhou. “Dit was rêrig ’n fees, hierdie hele week wat verby is,” sê sy. Daar is nog ’n deel van die boer wat sy graag beter sal wil leer ken, sê Corné, maar voeg by dat sy Jacques se besluit sal ondersteun.
Danél dink daar is min van Jacques se soort oor, en sy sal graag meer as net vriende wil wees. “Hy draai nie doekies om nie,” sê sy. “Ons kom rêrig lekker oor die weg.”
Vir een wag daar teleurstelling, en vir die ander opwinding. Kyk hier hoe maak Jacques sy keuse.
Ruan het vandag “vrede in sy hart” oor sy besluit, en sy hart voel veral ligter ná hy en sy ma alleen gesels het en hy gehoor het dat hulle oor ’n paar dinge saamstem. “Dit gaan glad nie my keuse beïnvloed nie.”
Die boer het dalk vrede, maar die dames het geensins ’n idee na wie sy hart ’n punt trek nie. “Ek is benoud daaroor,” sê Marica. Sy en Bianca erken beide hulle voel al iets vir die boer.
Dan word dit tyd vir die boer om sy besluit bekend te maak – kyk hier.
Adriaan se dames gaan stap vroegoggend op die plaaswerf om dinge uit te klaar. “Die atmosfeer tussen my en Anzelle is, tot my verbasing, baie kalm en ondersteunend vanoggend,” sê Helene. Anzelle sê vir Helene: “Ek kan geniunely vir jou sê, en ek bedoel dit uit die diepte van my hart, ek is okei vir albei kante toe.”
Die boer voel kriewelrig omdat hy weet hy moet iemand seermaak, maar kan aan die ander kant nie die verliefdheid wegsteek nie. “Dit maak my baie opgewonde. Van my kant af gaan ek dit absoluut laat maak werk of, ja, my alles gee,” sê hy. “Ek kan nie wag nie.”
Adriaan is baie opgewonde oor die toekoms – kyk hier.
Aanbieder Minki deel haar gedagtes met ons ná die boere hul finale keuse moes maak. Kyk die video hier onder:
Donderdag om 20:00 ontmoet die boere die dames se naastes – jy wil dit nie misloop nie! Volg ons op Facebook, Twitter en Instagram, en gesels saam by #GroterBeterBoer en #BoerSoeknVrou