Logo

Boer Soek ’n Vrou: Clare gee wenke!

Nuus
30 November 2017
Met plaasweek wat voorlê vir die Boer Soek ’n Vrou-dames, het ons by skoonheidsghoeroe Clare Wiese-Wentzel gaan aanklop vir raad.
Clare Wiese-Wentzel

Eerste indrukke tel. Die Boer Soek ’n Vrou-dames is maar alte bewus van dié feit. Hoe gemaak as dit kom by voorkoms? Wanneer is dit te veel grimering? Wanneer is jy besig om net pleinweg slap te lê? Ons het by skoonheidsghoeroe Clare Wiese-Wentzel, van die baanbreker-werklikheidsreeks Mooimaak, gaan aanklop vir raad.

1. Sal jy ’n paar mooimaakwenke vir die plaas deel – hoe kan die dames ’n natuurlike voorkoms verkry sonder om dit te oordoen?
Omdat ’n mens in ’n plaasomgewing maklik "oordoen" kan lyk met te veel grimering op jou gesig, is dit uiters belangrik dat jou vel mooi, vars en gloeiend lyk. Dis eintlik baie moeiliker as wat dit is om net lae en lae onderlaag aan te plak om alles weg te steek. Maak seker jou gesig is altyd skoon, ordentlik gehidreer en bevog. ’n Sagte afskilfering een of twee keer ’n week is altyd ’n goeie idee om die veltekstuur mooi glad en vars te hou. Ek is absoluut gek oor Dermalogica Daily Microfoliant en gebruik dit nou al jare lank. As jou vel mooi genoeg lyk, los die onderlaag. Indien jy wel merkies het wat jy wil toemaak, gebruik ’n ligte onderlaag. Ons het onlags met Sensai se produkte gewerk op Mooimaak en ek het verlief geraak op hulle Luminous Sheer Foundation vir daai mooi dewy-voorkoms. Watookal jy doen, moenie die maskara of blos vergeet nie! ’n Bietjie bronzer is ook ’n fantastiese manier om die gesig lewe en definisie te gee op ’n natuurlike manier. Laastens, gebruik ’n mooi neutrale sagte pienk lipstiffie wat jou velkleur pas en jou lippies net effens meer gedefinieer laat lyk. As jy die tyd of lus het, teken ’n baie fyn en netjiese swart lyntjie op jou boonste wimperlyn, met ’n swart oogomlyner, om jou ogies oop en wakker te laat lyk op 'n baie subtiele manier. Ek is mal oor MAC se Engraved-potlood of kry ’n gel-formule wat heeldag hou. Onthou julle, sonroom: Heliocare maak wonderlike SPF-produkte. Niks minder as SPF50.

2. Wat is volgens jou die top klere-items wat die dames plaas toe moet inpak? 
Die belangrikste van alles is dat die dames gemaklik moet voel en klere vertel tog so baie van wie ons is, so dit moet ook hulle persoonlikhede reflekteer. Pak die wardrobe staples in waarop jy gewoonweg staat maak en waarin jy op jou mooiste voel, insluitende jou beste paar jeans, jou mooiste sonrokkies en ’n paar V-nek katoen T-hempies wat mooi sit. Vat beslis iets warm saam soos ’n lekker sagte, ingeleefde leerbaadjie. 'n Paar modieuse sonbrille is ook 'n moet!

3. Wat sou jy voorstel moet die dames aantrek wanneer hulle die skoonfamilie vir die eerste keer ontmoet?
Weereens, dit sal iets moet wees waarin die dames op hulle mooiste voel. ’n Mens voel baie meer op jou gemak as jy goed voel oor hoe jy lyk. Trek aan waarin jy lekker voel, maak net seker dis nie te formeel of geforseerd nie. ’n Sonrokkie (’n Maxi-rok of iets korter, effens bo die knie, afhangend van hoe mooi jou bene is) met mooi strappy sandals is altyd romanties, vroulik en vleiend. As jy nie ’n rokkie tipe vrou is nie, dra watookal jy in goed voel! 

4. Watter haarstyle werk die beste op die plaas?
’n Bokstert is altyd lekker vir deur die dag. En dan, as jy wil moeite doen in die aand vir aandete, kan jy jou hare los maak en sagte, subtiele golwe in sit met ’n GHD of so tipe warm aparaat. Vlegsels is ook baie "in" op die oomblik en lyk altyd mooi, dag of nag.

5. Watter parfuumgeure sal die boere se harte wen? 
Parfuum is so ’n persoonlike ding - vat die parfuum saam wat vir jou die meeste komplimente werf gewoonweg! Dis lekker om dieselfde een oor en oor te dra wat dan "joune" raak. My enigste wenk hier is less is more - moenie te veel aanspuit nie, hou dit lig. Ek is baie lief vir Dolce & Gabbana The One....dalk is die naam nou hier simbolies, ek weet nie.

6. Sal jy ’n paar maklike skoonheidstruuks deel met die dames vir wanneer hulle minder lus voel om mooi te maak? 
’n Bietjie blos, onderoog-concealer om donker sirkels toe te maak en maskara en lipstiffie gaan ’n lang pad en vat minder as vyf minute om aan te sit. Dis die moeite werd! 

Mooimaak met Clare Wiese-Wentzel is vanaf 5 Oktober, elke Donderdag om 17:30 op die kassie.