Logo

Boer Soek ’n Vrou: Die brief maak die boer

Nuus
28 Oktober 2016
In dié week se episode van Boer Soek ’n Vrou het Minki weer in die pad geval – hierdie keer om die boere met hul liefdesbriewe te gaan verras.
BSV Ep2 Johannes 01

Die tyd het uiteindelik aangebreek vir die posduif om die Boer Soek ’n Vrou-deelnemers se plase te besoek en hul liefdesbriewe af te lewer.

Die vyf boere wat die minste briewe ontvang, kan op hul eie tyd deur die briewe lees en kontak maak met die briefskrywers wat hul hartsnare roer. Minki gaan oor ’n paar weke wéér opvang met dié vyf – tydens die reünie-episode – om al hulle stories te hoor.

Die vyf wat egter die meeste briewe ontvang, het slegs 24 uur om die tien vroue te kies wat hulle die graagste tydens ’n blitsafspraak wil ontmoet. Dis ook hierdie vyf boere wie se liefdespad kykers oor die volgende paar weke op die kassie gaan volg.

Lees meer oor die eerste episode van seisoen 9 hier.

Ons eie posduif, oftewel aanbieder Minki Joubert, maak heel eerste ’n draai by Johannes, wat buite Robertson boer.

“Hierdie girls is mál oor jou,” sê Minki terwyl sy die possak uitpak. Vir dié boer wag daar heelwat briewe en pakkies, wat ’n kosblik, unieke bottel wyn en resep vir “liefdesbeskuit” insluit.

Johannes is een van die boere wat genoeg briewe ontvang het om aan te gaan met die proses. Hy meen dit sou “aan die een kant” lekker gewees het om op sy eie tyd met die vroue kontak te maak. “Maar ek dink dis ook exciting en lekker om dit op die televisie te doen voor mense,” sê hy. “Ek dink nie dit maak vir my ’n verskil nie, en ek is opgewonde.”

Johannes se vriende, Stefan en Tobie, help hom om “hopies” te maak. “Hulle is meer beïndruk as jy!” spot Minki. “Dis hoekom die maybe-hopie se groot is,” sê die boer.

Kyk die video.






Volgende aan die beurt is Johan van Victoria-Wes. “Dit sal lekker wees om iemand te ontmoet saam met wie jy ’n pad kan stap,” sê die boer, wat hoop vir iemand om die Karoo saam met hom te geniet.

Dié boer het nie genoeg briewe ontvang om deel te neem aan die verfilmingsproses nie, maar ’n sak vol briewe lê en wag om gelees te word. “So my selfoonrekening gaan hoër wees!” spot Johan.

Hy en Minki gaan saam deur die briewe. “Amper lees ek ‘pornografie’. Wat’s daai?” vra die boer, wat Minki laat skater. Die briefskrywer het eintlik ‘pyrografie’ geskryf.

Hulle kies nog ’n brief om saam te lees. “Hierdie lyk na ’n meisie so na jou hart,” sê Minki oor die pragtige donkerkop en “sosiale vlinder” wat op die foto’s poseer.






Arno van Newcastle het verlede week vir Minki gesê dat hy gewoonlik nie baie aandag van die skoner geslag kry nie. Groot is die opwinding egter wanneer Minki vir hom sê hy het meer as genoeg briewe gekry om voort te gaan.

Vir die blosende boer wag daar hope geskenke, wat hom oorweldig laat voel.

“Arno, ek sal saam met jou dans in die reën as dit die eerste keer op die grond val na ’n lang droogte,” lees die een brief.

Daar wag ook ’n opsitkers en knertsie brandewyn van ’n ander briefskrywer. “Dit gaan ’n lekker opsit wees,” lag Arno.

Arno se broer, Gerrit, en vriend, Dreyer, is daar om hom by te staan. “Ek is nou reg om oom te word, en peetpa en al daai dinge,” sê Gerrit. “Ek hoop maar hy kry hierdie ene.”

Die dames “weet hoe om jou ego te streel,” sê Dreyer vir Arno, terwyl hy ’n brief lees waarin ’n vrou oor die boer se mooi kuite skryf.

Die meisie wat die beste by Arno gaan pas is iemand wat hou van gesels, sê Dreyer. “Sy gaan baie lag en baie pret hê.”

Kyk die video.






Wessel van Cradock is op soek na ’n vrou wat saam met hom aktief kan wees, en is vandag opgewonde om uit te vind of sy tussen die briewe skuil.

Eerste aan die beurt is ’n sportiewe vrou van Malmesbury. “Ek hou nogal van daai mense se aksent,” sê die boer.

“Mooi oë,” sê Wessel oor die volgende briefskrywer. Die vrou met die blou oë wil tyd maak vir ’n man in haar lewe, maar nie net vir die volgende twee of drie jaar nie; sy is op soek na haar trouman. “Minki, hierdie brief roer my hartsnare,” sê die boer.

Een van die briewe laat selfs vir Minki ’n traan of twee wegpik. “Dis baie mooi,” sê sy saggies. “Dis ongelooflik, want ek dink die vroue maak regtig hul harte oop vir jou en dis so spesiaal.”

Die boer stem: “Dit klink als so opreg.”

Wessel het net-net te min briewe gekry om met die proses voort te gaan, maar daar is ’n rits vroue wat hierdie boer graag beter wil leer ken. “Ek sien uit,” sê hy.






Pieter van Nigel is op soek na iemand wat die stilte geniet, maar ook lekker kan gesels.

Ongelukkig is die possak nie vol genoeg vir Pieter om die dames wat vir hom geskryf het voor die kameras te leer ken nie. Hy het egter tyd om deur die briewe te werk. “Die dames het soveel moeite gedoen; dit lyk so oulik,” sê hy oor die kleurvolle pakkies wat Minki op die tafel uitpak.

Die eerste brief wat dié boer lees is geskryf deur ’n avontuurlustige vrou wat die AfrikaBurn-fees in die Karoo bygewoon het. “Sy is ’n yster,” sê hy.

Dan is daar ’n liefdesbrief, geskryf vir die boer asof hulle reeds in ’n verhouding is. “My engel, hier waar ek nou sit en vir jou skryf oor my gevoelens, verlang en mis ek jou baie,” lees hy.

“Ek is seker hier tussen die briefies sal ons gehulpe raak,” sê Pieter.






Hennie, die romantiese boer van Willowmore, word volgende deur die posduif besoek. “Ek voel soos ’n klein seuntjie wat ’n nuwe speelding gaan kry,” sê hy.

Hy hoop nie net vir sjokolade vir sy soettand nie, maar dat hy sy droomvrou deur die proses gaan ontmoet.

Minki loop met draaie om die goeie nuus dat Hennie een van die vyf is wat voortgaan. “Jy trek ’n lelike streep op my, Minki!” lag die boer. “Nou kan ek ’n bietjie ontspan.”

Hennie se broer, Kobus, en vriend, Michael, kyk saam met hom na die briewe en geskenke. Hy sal ’n vrou gelukkig kan maak, meen Kobus.

Kyk die video.






Die vroulike spesie is Cornè van Alexandria se brood en botter, maar dié boer wag nog vir ’n vrou na sy hart.

En as al die briewe in Engels is? wil Minki weet van die boer wat nét Afrikaans wil praat. “Mens vry nie in Engels nie!” lag hy.

In die possak wag daar vir hom ’n “lekker sakkie vir jou bakkie”, modelmooi foto’s en ’n blikbeker vir sy versameling.

Cornè het nie genoeg briewe ontvang nie, maar dit gaan dié boer beslis nie keer nie. Minki is natuurlik daar om die bal aan die rol te kry en een van die vroue wat die boer “se oog gevang het” word sommer op die plek gebel.

“Dis baie goed om van jou te hoor!” laat hoor die stem aan die ander kant.

“Ek sal definitief later weer met jou kontak maak,” sê die boer.






Rob van Knysna is volgende, en dié boer is ietwat skaam om mense se “persoonlike” briewe sommer so hardop te lees.

Een van die briefskrywers is iemand uit Rob se verlede, al kan hy haar nie onthou nie. Sy het hom op ’n bus as tiener raakgesien en was stil-stil verlief op hom.

Minki maak die goeie nuus aan Rob bekend: Hy het oorgenoeg briewe ontvang om deel van die proses te wees.

Hy meen die “eerste prys” sou gewees het om op sy eie tyd deur die briewe te kon gaan, maar “dit gaan lekker wees” en hy sien uit na die proses.

Oubaas en Claire, sy vriende, staan gereed om Rob te help. Haar wens vir Rob is dat hy iemand sal kry om saam met hom by etes op te daag, ook sodat hulle as vriende gelukkige tye saam met hom én ’n pasmaat kan deel, sê Claire.

Rob kan lekker debatteer, so die vrou aan hierdie boer se sy gaan ook daarvoor moet kans sien, sê sy verder.

Kyk die video.






Erhard van Beaufort-Wes is op soek na ’n maat om die lewe saam met hom te geniet.

’n Paar vroue het hierdie boer probeer kontak, vertel hy, en van hulle het selfs munisipaliteite gebel om op sy spoor te kom.

“Hier lê werk!” as hy so na al die briewe op sy tafel kyk. Hy het egter nie genoeg ontvang om verder aan die proses deel te neem nie. “Ek het nooit gedink hier sal so baie briewe kom nie,” sê hy.

“Ons gaan nie tyd mors nie.”

Soos wat Erhard en Minki na meer briewe en foto’s kyk, sê die boer: “Dit raak ál beter!”






Leon-Fritz van die Roedtan-omgewing weet waarna hy in ’n pasmaat op soek is, wat beteken dat daar ’n paar moeilike besluite voor hom lê.

“Ek glo die briewe wat met my moet praat sal met my praat,” sê die boer.

Hy het nie net genoeg briewe ontvang nie, maar ook die meeste van al tien boere. “Ek is op ’n lekker plek,” sê hy.

“Ek sal met graagte jou help dragtigheid voel,” lees Minki. Dié geskenk sluit ’n paar heldergroen handskoene in. “Wat doen ’n mens met dit?” wil sy weet.

Leon-Fritz se broer, Rinus, en ’n vriend, Malan, gee ’n helpende hand. “Jou hond kry meer presente as ek in ’n jaar!” spot Rinus.

Hy sê sy broer kyk die kat gewoonlik eers goed uit die boom uit, en het “bietjie seergekry” in ’n vorige verhouding. Hy dink egter Leon-Fritz is gereed om sy hart op die spel te plaas.

Kyk die video.






Volg saam met ons die boere in hul soeke na liefde op die kassie, ons webblad en sosiale media!

Boer Soek ’n Vrou is Donderdae om 20:30 op die kassie.



Hier is die top-vyf!

Herhalings word Vrydae om 13:30, Sondae om 10:00 en 21:30, Maandae om 10:30, Woensdae om 11:00 en Donderdae om 09:30 uitgesaai.