Logo

Boer Soek ’n Vrou: Agter-die-skerms-drama

Nuus
13 Oktober 2017
Boer Soek ’n Vrou-regisseur Stephanus Rabie gesels met ons oor die oomblikke wat nie die skerm gehaal het nie.
BSV_Stephanus

Boer Soek ’n Vrou-regisseur Stephanus Rabie gesels met ons oor die oomblikke wat nie die skerm gehaal het nie.

Ons sien jaarliks uit na drie maande se ongerepte kykersvermaak wat ons na plase regoor die land neem. Vanjaar is g’n uitsondering nie – ons besoek plase van Jan Kempdorp tot Riversdal. Daar is egter baie meer drama wat agter die skerms plaasvind met dié dat die span reeds in Maart op die pad is en verfilming tot in September aanhou. 

“Dis ’n hele avontuur wat jy saam met hierdie mense aanpak, ’n verhouding wat jy opbou met die boere,” vertel Stephanus. 

Die span behou deur die jaar kontak met die boere en stel hul gerus dat daar mooi meisies op pad is, terwyl hulle weer op hul beurt die meisies gemaklik maak sodra hulle op die plaas aankom. “Die groot ding is, mens wil nie te veel inmeng nie. Jy wil amper die crew so min as moontlik deel van dit maak.” Hy erken dat dit soms moeilik is om die skeiding te maak, maar hulle probeer so veel as moontlik uit die boere se spasie bly sodat hulle dinge tussen hulself uitsorteer. 

Ons vind uit by Boer Soek ’n Vrou-regisseur Stephanus Rabie wat seisoen 10 groter en beter maak. Kyk hier:



Stephanus is van mening dat die agter-die-skerms-opset van die program vir nét soveel vermaak sorg as die program self. Die span ry ver deur die land. “Gesamentlik tussen die karre is dit oor die 48 000 km in totaal.” Die een dag toe hul uitry na Jacques se plaas in Loeriesfontein, het hulle op die grondpad op pad na sy plaas toe vyf pap wiele gekry. “Daai pad eet omtrent wiele.”  

Hulle slaap ook by interessante plekke oor. “Van die plekke waar ons bly is regtig vyfster, maar by van die ander kleiner dorpies is die opsies net baie, baie skraal.” Een keer het die water hom in die gesig gespuit toe hy die stort oopdraai. Hy’t besluit om kant toe te staan, maar dié opsie laat die water in jou kamer inspuit. “Dis either ’n nat gesig of ’n nat bed. ’n Mens kan ’n blog begin oor gastehuise ná ons hierdie program gemaak het.”

Dan is daar die keer toe die plafon ingeval het net ná hulle die blitsafsprake verfilm het – presies waar die span oomblikke van tevore gestaan het. “Dit was nogal bisar gewees. Ek weet nie wat daar gebeur het nie. ’n Mens sien rêrig ietsie van alles.”

Volg ons op Facebook, Twitter en Instagram, en gesels saam deur die hutsmerke #GroterBeterBoer en #BoerSoeknVrou te gebruik.