Logo
Mooiweer en warm
web uni tv guide

Mooiweer En Warm

144Drama13 VL

Besige Beer met die vele talente - Mooiweer en Warm

Nuus
04 April 2023
Beer Adriaanse woeker behoorlik. As hy nie voor die kamera’s as akteur is nie, skryf en vervaardig hy.
mooiweer en warm

Wanneer dit by Meyer, die karakter wat hy in Mooiweer en warm speel, kom, is Beer egter ’n klein bietjie jaloers ...

Wat het jy die meeste van Meyer geniet?

Hoe vry hy is. Hy het van die samelewing se grootste verwagtinge laat gaan en hy volg net sy eie genot. Hy is ’n voëlkyker met ’n stalletjie, ’n naturalis en bietjie van ’n nudis en hy is fine daarmee. Ek wens soms ek kan so van dinge laat gaan.

Wat was vir jou die hoogtepunt van die verfilming?

Om op location te skiet, is altyd vir my ’n hoogtepunt. Ons het onder meer De Doorns toe gegaan vir ’n week en in die natuur, teen ’n damwal en in klowe geskiet. In die aande het ons gebraai en geswem en mekaar op ’n ander manier leer ken. Dit voel dan nie soos werk nie. Natuurlik ook die ongelooflike talent om my, voor en agter die kamera’s. Ek is ’n groot aanhanger van karakterakteurs het hierdie spul was uit die boonste rakke.

Mooiweer en warm het ’n groot, sterk rolverdeling. Wat het jy daarvan weggeneem?

Net inspirasie! Enige ensemble wat so groot is, is op sig self ’n toertjie, maar die regisseurs het almal hulle plek by die buffet gegee. Karakters soos hierdie is ook een van die skrywer Paul C. Venter se sterkpunte en ek kon dit voel.

Wat het jy alles gedoen by die KKNK?

Ek was die eerste keer in ’n toneelstuk, Die fel omstrede kroon van Edward II & Gaveston, saam met Edwin van der Walt, Rolanda Marais, Wilhelm van der Walt, André Roothman en Caleb Payne. Die regisseur is Marthinus Basson. Dis ’n fantastiese stuk. Dan het ek ook twee vasvra-aande aangebied wat vir my baie lekker was.

Wat is die een ding wat jy altyd in Oudtshoorn doen?

Ek toer met my mond en eet altyd pannekoek en roosterkoek. Ek probeer ook soveel moontlik toneelstukke. Sover het Mirakel my sokkies afgeblaas. Ek het dit twee keer gaan kyk. Dalk is dit omdat dit so na aan die been sny want dit het gegaan oor ’n rondreisende toneelgeselskap.  

As jy na jou loopbaan kyk, is daar iets waaroor jy spyt is?

Niks nie. Ek is baie bly oor die verskeidenheid dinge wat ek al kon doen en hopelik nog gaan doen. Spyt is ’n waardelose emosie. Mens kan niks daarmee maak nie en dit beteken niks vir niemand nie.

Wat is jou planne vir die res van die jaar?

Ek begin met ’n draaiboek van ’n film vir Showmax waarvan ek die regie gaan doen. Dit is ’n romantiese aksie-komedie en ek sien baie uit daarna.

Sien Beer elke Dinsdag aand om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) in Mooiweer en Warm, en gesels saam op sosiale media deur die hutsmerk #MooiweerEnWarm te gebruik.