Logo

Alles in ’n brief – Boer Soek ’n Vrou 12

Nuus
30 Oktober 2019
Wat lê voor vir die boere wie se liefdesreis nie in Kaapstad voortgaan nie?
In n brief

Verlede week het ons gesien hoe Leah en die onbesonge 'JT' honderde briewe en geskenke vir die boere aandra. Die aflewerings was buitengewoon kreatief – goedgeskrewe gedigte, stoute notas, koekies en selfs vlambare goedere. Dit was duidelik dat almal ’n goeie kans het om ‘Die Een’ te vind.

KLIEK HIER OM UIT TE VIND HOE OM DIE PERFEKTE BRIEF TE SKRYF.

Leah het die ongelukkige taak gehad om die boere wat die minste briewe ontvang het te vertel dat hulle liefdesreis saam met die Boer soek ’n vrou-span tot ’n einde gekom het. Maar hierdie reeks is ver van jou tipiese speletjiesprogram waar daar wenners en verloorders is. Al is ’n boer nie een van die vyf wat die meeste briewe ontvang het nie, het hulle nog steeds die geleentheid om na liefde te strewe met dié wat vir hulle ingeskryf het. Leah het selfs ’n paar van die boere oortuig om sommer daar en dan een van hulle potensiële pasmaats te bel.

As ons na die geskiedenis van die reeks kyk, is ’n brief soms meer as genoeg vir liefde om te blom. In die derde seisoen het ’n paartjie (#BoerErik en Judi) wat gedurende die briewe-fase ontmoet het getrou en in die vyfde seisoen het nóg ’n paartjie (#BoerHubert en Angelique) getrou na hulle aanvanklik deur ’n briefie ontmoet het.

Kykers kan uitsien na die reünie-episode waar ons gaan sien wie werklik liefde gevind het – deur die volle Boer Soek ’n Vrou ervaring of slegs deur die briewe wat hulle ontvang het. Maar daar is nog hope pret en verrassings wat wag vir die res van die seisoen.

Ons wil graag van jou af hoor. As jy deel van die gesprek wil wees, gebruik die hutsmerk #BoerSoeknVrou op Facebook, Twitter en Instagram.

Loer ook hieronder vir ’n voorskou van vandeesweek se episode.