Logo
Fraksie Slim BB
web uni tv guide

Fraksie

144Drama13 VL

Alex: Akteur, sakeman en model – Fraksie

Nuus
15 November 2022
Sy hoogtepunte as akteur sluit in om saam met Arnold Vosloo op Griekwastad te werk. Vind meer uit oor Alex van Dyk.
Alex van Dyk

Ons het Alex van Dyk leer ken in reekse soos Alles Malan en Suidooster en flieks soos Gaia en Die stropers. Vir die laaste paar weke is hy te sien as Zac in Fraksie, maar dit is nie net werk voor die kamera’s wat hom besig hou nie. Hy hou ook sy lyf model en is ’n eerstejaarstudent op Stellenbosch waar hy by B.Com. studeer.

Waar lê jou wortels en wat was jou kindertyddrome? 

Ek kom van ’n plaas net buite Durbanville. My drome was nog altyd om ’n vlieënier te word, maar soos ek ouer geword het, het ek besef dit is nie vir my nie. Ek het goeie herinneringe van my jeug soos ’n toer op Oranjerivier en toe ek my eerste rol in ’n fliek, Die stropers, gekry het.

Wanneer het jy besluit om akteur te word?

Ek het rugby op skool gespeel en drie keer harsingskudding gekry. Die dokter het gesê ek moet my toks ophang en seker ’n week daarna het ons dramaonderwyser – let wel, ek het glad nie in drama belanggestel nie – op die verhoog gekom en gesê hulle soek spelers vir ’n fliek. Ek het vir die oudisie gegaan en die rol gekry en ja, hier is ons nou.

Wat was jou loopbaan hoogtepunte tot dusver? 

Beslis om saam met Arnold Vosloo op Griekwastad te werk. Om deel van die Gaia-span te wees en saam met Jorrie van der Walt, Jaco Bouwer en Tertius Kapp te werk. Dit was super spesiaal. 

Wat was jou reaksie toe jy gehoor het jy het die rol van Zac in Fraksie gekry? 

Ek het hard gewerk aan die oudisie en wou baie graag die rol gehad het. Ek hou van die sakewêreld en die tema van die reeks het my beslis aangetrek. Ek was besig op Suidooster toe ek gehoor het ek het die rol gekry en ek het net begin lag. Ek begin altyd lag wanneer ek opgewonde is.

Wat het jy die meeste van die rol geniet? 

Om saam met Edwin, Roeline en Jana te werk en ook die regisseur Nina Swart. Ek sal enige tyd weer saam met haar werk! Dit was die eerste ligter rol wat ek gespeel het en dit was lekker om iets meer ontspanne te speel.

Wat is die groot rol wat jy nog wil speel? 

Die een is ’n rol soos Harvey Specter in Suits. Dan ’n cowboy; iets op ’n perd met ’n bietjie romanse ingegooi.

Waarmee hou jy jou besig tussen rolle?

Ek doen modelwerk en is juis amper op pad na Parys en Milaan om te gaan werk. Dan natuurlik die studies en ek is mal daaroor om gholf saam met my vriende te speel.

Fraksie het ’n indrukwekkende rolverdeling. Het jy dit ook as ’n leerproses gesien? 

Beslis. Dit is een van die eerste dinge wat ek van Fraksie opgelet het. Die rolverdeling is groot en mense wat al lank in die industrie was. Ek het al Edwin se werk gekyk nog voor ek nog nie eens begin dink het om dit self te doen nie. Jy leer by elkeen van die akteurs. Ek hou daarvan om so bietjie van almal te vat en dit te meng en dan daarmee rond te speel. Elke rol op elke stel is vir my ’n leerproses.

Wat is jou gunsteling-reeks van alle tye?

Suits. Die konsep is so eenvoudig, maar dit het my vasgevang. Die spel is ongelooflik en die reeks het hierdie verskillende, unieke karakters wat soveel lewe na die reeks gebring het. 

Wat is jou planne vir die res van die jaar?

Ek skryf tans eksamen en dan kan ek ’n maand vakansie hou. Net ná Nuwejaar vlieg ek oorsee om te gaan modelwerk doen.

Fraksie word Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Dit is ook op Catch Up beskikbaar.