Logo
web uni tv guide

4x4 Met André

144ReisprogramPG

4x4 met André verken die weste van Suid-Afrika en Namibië in splinternuwe seisoen

Nuus
27 September 2023
Kom kuier saam met André de Villiers soos hy twee van die gewildste bakkies beproef en die mooiste plekke besoek.
4x4 met André

Vat die pad na die magiese Tankwa-Karoo, ontdek die ongerepte Weskus en onherbergsame Richtersveld en ry oor die Namibië-grens tot by Lüderitz saam met 4x4 met André, vanaf Maandag 2 Oktober om 21:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

André de Villiers, ’n voertuig-ontwikkelingsingenieur en 4x4-spesialis, span twee van die gewildste bakkies op die plaaslike mark voor die boswaens in en beproef dié voertuie tot op die uiterste om by die mooiste plekke, interessante mense en lekkerste stories in die mees onherbergsame areas uit te kom.

“Dit is vir my heerlik om mense ’n beter begrip van hulle 4x4-voertuie te gee sodat hulle dit ten volle kan benut op ’n veilige manier,” sê hy.

Op dié nuwe 4x4-ekspedisie verduidelik hy die tegniese stappe by verskeie hindernisse breedvoerig aan kykers. Hy demonstreer die regte sowel as die verkeerde maniere om ’n spesifieke uitdaging aan te pak. André gee ook raad oor hoe om uit ’n penarie te kom indien dinge skeefloop en jy vasval.

“Ek vat die twee topverkoperbakkies in Suid-Afrika, elkeen met ’n Bush Lapa-karavaan agteraan gehaak, om die 4x4-grondpaaie aan te durf, hindernisse te ry, op ongerepte plekke kamp op te slaan en kos te maak terwyl ek al my jare se ondervinding padlangs deel.”

André word vergesel deur sy gids, Johan Kriek, van die vlaktes van die wye Tankwa-Karoo tot in die Cederberge met sy reuserotsformasies en rotstekeninge. Hulle kuier dan in die vrugbare omgewing van die Biedouw-vallei waar Jan Kreef by die geselskap aansluit. Daarna ry die span deur die Weskus na Namakwaland om die blomme te gaan kyk. 

Hulle trotseer die klowe van die Richtersveld in Suid-Afrika voor hulle verder noordwes die grens oorsteek na die skone Namibië met sy eindelose avontuurpaaie wat wink.

  • 4x4 met André begin Maandag 2 Oktober om 21:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).