Logo

Hans word ’n filmster – Hans steek die Rubicon oor

Nuus
28 April 2022
Lees meer oor dié opwindende nuwe fliek.
Hans steek die Rubicon oor

Verfilming van die treffer-boek Hans steek die rubicon oor het verlede week in Kaapstad begin. Hans steek die rubicon oor, deur die skrywer Rudi van Rensburg, was ook ’n radioverhaal en vertel die verhaal van Hans van Kraaienburg, ’n hupse 90-jarige man wat se lewe omver gegooi word wanneer hy gedwing word om na ’n ouetehuis te trek. Maar die plek waarheen sy dogter Karla hom na stuur, is verkramp en sy kamertjie is piepklein. Hy word ook geforseer om die verskeie reëls en regulasies te gehoorsaam.

Maar met Hans in die rondte kan jy net sports verwag en kort voor lank is daar ’n ouetehuis-opstand, daggakoekies en ontkleedansers alles as deel van Hans se “oudword op eie terme”.

Die regisseur is Corné van Rooyen wat vir treffers soos Hollywood in my huis en Vaselinetjie asook die gewilde TV-reeks Alles Malan verantwoordelik was.

“Daar is soveel druk in die samelewing om jonk te bly dat ek opgewonde is om die ander kant te wys,” sê hy. “Ek wil wys hoe “oud word op eie terme” gevier kan word en baie opwindend kan wees. Dit is ook ’n groot voorreg om saam met van Suid-Afrika se grootste veteraan-akteurs te werk om werklik Rudi se boek tot lewe te bring.”

Van die spelers sluit in Pierre van Pletzen as Hans, Tobie Cronjé as Vasie, June van Merch as Baby, Sandra Prinsloo as Liesbet en Nicola Hanekom as die drakoniese Matrone. Diaan Lawrenson is Karla en die nuweling Juan-Pierre Moller is Emsuraldus.

Die produksiesmaatskappy is Red Letter Pictures met René van Rooyen en Tascha van der Westhuizen is die vervaardigers. Hans steek die rubicon oor word in samewerking met kykNET vervaardig.