web uni tv guide
web uni tv guide

Spoorloos

144Drama13 VL

Ilse van Hemert – só bou jy die Spoorloos-legkaart

Nuus03 Oktober 2025
Agter elke seisoen van "Spoorloos" is Ilse van Hemert hard aan die werk!
Spoorloos Losprys BTS article images

Sy kan die hoofmeisie van Spoorloos genoem word. Van die eerste tot hierdie vyfde seisoen van Spoorloos, is Ilse van Hemert die vrou wat voorvat as skrywer, regisseur en vervaardiger.

Waar is die eerste saadjie vir Spoorloos: Losprys geplant, en wie was almal betrokke?

In die begin was dit net ek wat die basiese raamwerk neergelê het van ’n ontvoering wat gebeur en dan nes almal dink hulle weet wat die oplossing is, vind hulle die persoon waar hulle nie verwag het om haar te vind nie. Die draadwerk en detail het ek saam met die span, Mitzi Booysen en Francois Coetzee, uitgeworstel. Francois het ook saam met my aan Spoorloos: Die eiland gewerk, en ek en Mitzi werk al jare saam. Ek en sy was, onder meer, deel van Binnelanders se eerste skrywerspan.

Hoe het julle die legkaart van die draaiboek gebou? Is daar eers op die karakters besluit en toe die storie, of andersom?

Met ’n whodunnit moet jy altyd jou storie uitwerk, maar wat ek dikwels doen, is om te vra waar ons wil eindig en wat die wêreld van die storie is. Die wêreld van die storie is baie belangrik, en dit is nou al jare wat ek ’n Bosveldstorie wou doen met wild en jagters. Dis alles materiaal wat heerlik is vir die storie omdat dit ’n wêreld is waar mense nie regtig weet wat agter geslote deure aangaan nie. Hoe, byvoorbeeld, word daardie reuse-deals gemaak? Die gewone ou op straat verstaan dit nie noodwendig nie. Dit gee vir ons ’n lekker misterie. Ek het dus eers op die wêreld van die storie besluit en toe gekyk hoe ons by ’n sekere gegewe kan uitkom. Met ander woorde, amper in trurat. Waarmee moet ons begin om by die eindpunt uit te kom? Maar ek moet vir jou sê, om daardie legkaart te bou is nie weke se werk nie – dit is maande se werk nog voor ons die teks begin skryf! Wanneer ons begin om die teks te skryf, kan ons agterkom daar is ’n groot gat in ons storie. Dan het dit ’n vreeslike domino-effek, wat beteken ons moet weer begin. Dis hard op die skrywers om die hele legkaart in mekaar te laat pas.

Het julle sekere spelers in gedagte gehad met die skep van hierdie reeks?

Ons is veronderstel om aan die begin van die proses vir onsself te sê ons weet daar is iemand wat elke rol kan speel. Jy kan jouself vasloop en ’n hele storie skryf, en dan is daar nie ’n geskikte speler vir die rol nie. In hierdie geval was dit nie so krities nie. Ek het gevoel ons het genoeg baie goeie spelers wat daardie tipe karakters kan vertolk, en dit was ook so. Die enigste drie waaroor ek bekommerd was, was die drie skoolkinders – Robbie, Karla en Anita – omdat hulle jong akteurs moes wees. Ons het hierdie spelers (Liam Bosman, Lienke Vermeulen en Dané de Waal) nie voor die tyd in gedagte gehad nie, maar dit was lekker om dit te maak werk.

Waar is die reeks oral verfilm?

’n Groot deel is in Skeerpoort, suid van die Magaliesberge, op ’n wildsplaas met daardie pragtige huis geskiet. Om koste te besnoei, kon ons net die tonele wat in en om die huis gebeur het daar verfilm. Dit kos geweldig baie om ’n hele span, spelers én almal agter die skerms, op ’n plek te laat verfilm wat weg van die huis is, aangesien dit natuurlik reis- en verblyfskostes behels. Die veldtonele is by ’n lieflike klein lodge verfilm – Tswalu Grove, in die suide van Johannesburg, net dertig minute se ry vir die meeste van ons. Dis ook ’n wildsplaas, en ons kon al ons veldskote daar doen. Dit het uitstekend gewerk.

Wat was die grootste uitdaging met die maak van die reeks?

Primêr, en dit is my fout, dat ek altyd groter droom as wat die begroting is. Dit is eintlik waansin om te dink ons kan ’n storie op ’n wildsplaas laat afspeel met soveel karakters en deftige karre – karre kos geweldig baie om per dag te huur – maar dan doen ons wat ons kan om alles in daardie begroting te pas. Dít is die grootste uitdaging. Om die begroting te laat werk, raak die dae wat ons kan verfilm al minder, en in plaas van, byvoorbeeld, tien tonele per dag, doen ons sestien. Daar is nie tyd vir asemhaal nie. Gerrit Schoonhoven het altyd gesê spelers moet soos popcorn in warm olie wees wanneer hulle op stel kom: As ons sê “aksie!”, moet hulle reg wees om te pop! Daarom was dit fantasties dat ons wonderlike akteurs gehad het, want daar was nie tyd vir die luukse van repeteer en baie opnames nie. Ons moes vinnig skiet!

Die tweede groot uitdaging was dat dit reënseisoen was. Hemel, ons het modder gehad en reën gehad wat, byvoorbeeld, kontinuïteit moeilik gemaak het. Hoe om dit alles aanmekaar te sit, was beslis ’n uitdaging, maar afgesien daarvan, was dit net lekker.

Jy kry dit reg om met Spoorloos telkens te verras met spelers soos Bobby van Jaarsveld, Hannes van Wyk en nou Angelique Pretorius – al die pad van Los Angeles. Doen jy dit doelbewus?

Natuurlik! Daar was, om eerlik te wees, vier aktrises wat wonderlik vir die rol van Lynette, die rol wat Angelique speel, sou kon wees. Elkeen was besonders op hulle eie manier, wat die keuse baie moeilik gemaak het. Die deurslaggewende faktor was dat ons ’n nuwe invalshoek het met Angelique wat al die pad van Los Angeles kom – wat natuurlik goeie publisiteit vir die reeks is.