#DieBrug_Lelani
Lelani Loots (39) – Fiksheidsinstrukteur van Centurion, Gauteng
Lelani is ’n lang, sterk vrou met ’n aktiewe leefstyl. Sy smul graag aan die lekker van die lewe saam met haar man, met wie sy al agt jaar getroud is. Hulle is baie lief daarvoor om die wêreld te verken en reis graag oorsee. Die paar het geen kinders nie en beplan ook om dit só te hou. Sy reken hulle het genoeg moeite met hulle twee stoute honde. Niks is te veel of te min vir haar nie. Wanneer sy eers ’n ding in haar kop het, gaan sy voluit daarvoor. Sy is nie iemand wat opgee nie, en dis dié ingesteldheid wat sy ook vir ander vrouens in haar bootcamps leer. Lelani is ’n bietjie ongeorganiseerd en ’n babbelbek. “Ek kom mos van Witbank af,” lag sy. As instrukteur en vertroueling fokus sy altyd op ander mense. Met Die brug wil sy ’n slag net op haarself fokus, en sy sal enigiets doen – goed of sleg – om seker te maak sy kom bo uit. Lelani voel sy kan sagter wees met haarself en het ’n lae selfbeeld oor haar lengte. Sy het meer spiere as die gewone vrou (volgens haar), en sy erken sy vrees soms die lewe. Lelani is op soek na haar eie waarde en sy wil leer om dit te koester. Dít is wat sy glo Die brug haar kan bied: Die kans om haarself te leer ken en haar onsekerhede te oorkom. Vir haar gaan dit nie soseer oor die prysgeld – wat sy uiteraard wil wen nie – maar oor die ervaring.