#DieBrug_Hilana
Hilana Marais (43) – Kunsonderwyseres van Gqeberha, Oos-Kaap
Hilana is ’n veelsydige vrou met ’n diep liefde vir die natuur en buitengewone dinge. Sy is douvoordag uit die vere om met haar branderplank die golwe by Jeffreysbaai te ry. Deur die dag is sy ’n kunsonderwyseres. Sy is lief daarvoor om op haar fiets in die berge te ry en in die wildernis te kamp en te bly. In die natuur is waar sy vrede en krag vind. Sy bruis van lewenslus, maar voel soms vasgekeer en dan verlang sy na haar eie ruimte. As alleenloper is sy gewoond daaraan om dinge op haar eie te doen, en sy wonder hoe dit gaan wees om in te pas tussen ’n groep vreemdelinge. Sy sien egter kans vir die uitdaging. Hilana is op soek na verandering en geleenthede om nuwe deure vir haar toekoms oop te maak. Sy wil ook ’n balans tussen lig en donker vind. Hilana wil graag Die brug wen, en reken sy is mededingend genoeg om van haar drome te verwesenlik. Die wete dat Die brug afspeel in die plek waaruit sy krag put – die natuur – vuur haar aan.