Hennie en Nicole pak weer hul tasse en neem kykers, vanaf Saterdag 11 Oktober om 18:00, saam op ’n onvergeetlike reis in die vierde seisoen van die kykNET-reeks Wanderlus. Dié keer toer hulle deur Namibië, Suid-Afrika, Lesotho en Madagaskar om nuwe bestemmings, plaaslike kultuur en unieke kulinêre ervarings te ontdek.
Van woestyne tot oerwoude, berge tot die see – elke episode bied nuwe stories, nuwe resepte en nuwe wedervaringe. Wanneer daar gevra word wat die mees onverwagte oomblik van hierdie seisoen was, antwoord die twee: “Ons het by die bekende ‘Ruben in Namibië’ gaan kuier. Hy en sy gesin woon saam met ’n hele klomp wilde diere soos Cindy die bobbejaan, meerkatte, eekhorings, vlakvarke, muishonde en nog meer – almal diere wat deur hulle gered is. Dit was ’n unieke ervaring om interaksie met hierdie diere te hê en hul persoonlikhede op die werf te sien.”
Die seisoen begin in Namibië, waar Hennie en Nicole in Windhoek land en die majestueuse rooi duine van Sossusvlei verken. Hulle ontmoet interessante plaaslike karakters, deel geheime en berei Duits-geïnspireerde geregte voor. Die reis neem hulle verder na Swakopmund, Walvisbaai, Hentiesbaai, Spitzkoppe en natuurlik die Etosha Nasionale Park. Nicole sê: “Namibië het ons die meeste verras. Dit was my eerste keer daar en dit het ons eenvoudig oorbluf met sy natuurskoon, vriendelike mense en unieke plaaslike kleure en geure. Dit voel asof jy ’n verborge juweel ontdek – en ons wil kykers aanmoedig om hul sleepwa of karavaan te haak en die land te besoek, van noord tot suid, oos tot wes.”
Terug in Suid-Afrika reis die duo deur die Vrystaat en die prentjiemooi dorp Clarens en dan oor die grens na Lesotho se Katse-dam om forel te vang en voor te berei teen die agtergrond van asemrowende bergtonele.
Hennie verduidelik wat Wanderlus vars hou, selfs ná al die jare van reis: “Elke seisoen kyk ons doelbewus uit ’n ander perspektief na ’n bestemming – selfs al is dit ’n bekende plek, is daar altyd iemand nuuts om te ontmoet of iets nuuts om te ontdek. Die feit dat ek dit saam met Nicole kan deel, is vir my ’n voorreg en nie ’n reg nie. Wat ek die meeste koester, is die mense wat ons ontmoet en die vriende wat ons van verskillende nasionaliteite en agtergronde maak.”
Die ekspedisie gooi dan ’n internasionale draai na Madagaskar, waar hulle die eilandkultuur ontdek, snorkel, gaan diepseehengel, en vars seekos op kreatiewe maniere voorberei. Nicole sê: “As ek net een plek uit seisoen 4 kon aanbeveel, sou dit Madagaskar wees. Dit is die vierde grootste eiland ter wêreld en net twee tot drie ure se vlieg vanaf Johannesburg.”
Op Madagaskar het een persoon veral ’n groot indruk gemaak: “Jacques Veira, ’n Suid-Afrikaner wat al 25 jaar daar woon, het ons toer van A tot Z moontlik gemaak. Hy het ons met sy plaaslike kennis en kontakte na plekke geneem wat ons andersins nooit sou bereik het nie. Hy, sy vrou en hul seuntjie het ongelooflik aangepas en praat nou vlot Frans en Malagash. Sonder hom sou hierdie avontuur onmoontlik gewees het.”
Die seisoen eindig in die romantiese Boland, met ’n wegbreek na Tulbagh waar hulle entoesiasties kook met plaaslike, vars produkte. Waarom moet kykers inskakel vir die vierde seisoen? Nicole antwoord glimlaggend: “Seisoen 4 lê vir ons besonders na aan die hart – ek was swanger tydens verfilming, so ons het eintlik as ’n gesin van drie getoer. Dit is propvol splinternuwe bestemmings, ongelooflike kosavonture en onverwagte ontmoetings met mense wat ons harte gesteel het. Hierdie seisoen gaan kykers inspireer om plekke te besoek waarvan hulle dalk al gehoor het, maar nog nooit gesien het nie.”
Wanderlus se vierde seisoen beloof meer avontuur, meer smake en geure en meer inspirasie as ooit tevore.
Wanderlus begin Saterdag 11 Oktober om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.