Wie kwalifiseer?
Enige dorp in Suid-Afrika of Namibië kan benoem word, mits dit:
- Minder as 500 000 inwoners het
- Nie ’n streekswenner in die laaste twee jaar was (2024: Outjo, Heidelberg, Modimolle, Jansenville, Frankfort, Vosburg, De Rust, Dullstroom, Port Edward. 2025: Wildernis, Bloemhof, Fauresmith, Port Alfred, Richmond, Witrivier, Naboomspruit/Mookgophong, Pennington & Rehoboth.)
- Vorige Wendorpe mag vir 6 jaar na hulle as wenner aangewys is, nie weer deelneem nie ( Kareedouw 2020, Greyton 2021, Kroonstad 2022, Delmas 2023. Heidelberg GP 2024, Bloemhof, 2025).
Hoe werk dit?
Benoem jou gunsteling dorp uit enige streek deur die dorpsnaam na 33157 te SMS (SMS’e kos R1,50). Inskrywings open op Sondag, 1 Maart om 19:00 en sluit Vrydag, 13 Maart 2026 om 12:00 die middag. Jy kan soveel dorpies benoem soveel keer as wat jy wil (net een dorpsnaam per SMS, en soveel sms’e as jy wil in hierdie nominasie ronde).
Daar sal uit nege streke gekies word:
1. Gauteng en Noordwes saam.
2. Noord-Kaap
3. Oos-Kaap
4. Wes-Kaap
5. Vrystaat
6. Limpopo
7. Mpumalanga
8. KwaZulu-Natal
9. Namibië
Uit elke streek sal die drie dorpe met die meeste benoemings deurdring na die semi-finale ronde (op 12 April, 19 April en 26 April). Hier kry die publiek vir ‘n week lank elke ronde ’n geleentheid om vir hul gunsteling-dorp uit die 3 semi-finaliste uit elke streek te stem. Die ronde laat net 30 sms’e per nommer toe. Die dorp met die meeste stemme sal die kompetisie-streek as hul finalis-dorp in die finale rondte verteenwoordig.
Kwêla sal ’n insetsel op elk van die nege dorpies wat die finale rondte gehaal het kom verfilm.
Wanneer al nege dorpe op Kwêla gewys is, sal die publiek van 19:00 op 12 Julie tot 12:00 die middag, 17 Julie, vir die wendorp kan stem.
Die Wendorp word dv op 2 Augustus 2026 op Kwêla aangekondig.
Die dorp met die meeste stemme word as Kwêla se Dorp van die Jaar aangewys. Die dorp wen ’n ongelooflike R1 miljoen se bemarkingswaarde van kykNET. Homebrew Films, die vervaardigers van Kwêla, sal ’n 45 sekonde advertensie oor die dorp maak, wat gedurende kykNET se advertensietyd uitgesaai sal word. Daar sal ook ’n groot opskop in die wendorp gehou word – musiek, kos, pret en sommer baie van daai wendorp-gees! Kwêla sal weer daar wees om dit te verfilm, en dit sal later die jaar uitgesaai word. Lottoland skenk ook in hulle eie hoedanighed ‘n R1miljoen kontantprys vir die dorp om in hul dorp terug te ploeg en wat deur hulle geoudit sal word. Elke finalis-dorp sal vooraf gevra word om ‘n besigheidsplan in te dien oor wat hul met die potensiële prysgeld beoog.
