kyknet channel logo

Hoogtepunte in Maart op die kykNET-kanale

Nuus27 Februarie 2026
In Maart is daar geen tekort aan opwinding op die kassie nie.
Maart hoogtepunte



Een keer om die son


Een keer om die son is Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.

3 Maart

Sophia sukkel om Erica te aanvaar, ten spyte van Ruan en Erica se beste probeerslae. Leandri se verhouding met Elijah ontwikkel, terwyl die soektog na ’n nierskenker vir Ruan op Trevor se spoor sit.

10 Maart

Elma en Sebastian probeer aanpas om by Amé te bly, en ’n onverwagse gas daag op. Ruan maak kontak met Trevor. Markus steek sy rehabilitasie-geheim weg.

17 Maart

Markus se geheim is uit, en Trevor se identiteit word ook verklap. Elma sukkel om te herstel ná die inbraak. Ruan hou ’n partytjie vir Erica se verjaarsdag.

24 Maart

Amé sit ’n plan in werking om die maatskappy se bedrog oop te vlek. Elma trek in die aftree-oord in, sonder Sebastian.

31 Maart

Amé moet besluite oor haar toekoms neem. Markus deel meer met sy familie. Ruan en Erica is onseker oor hul verhouding se toekoms. Leandri kry haar nieroorplanting.



Landman

Landman is Sondae om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.

1 Maart

Tommy hanteer die nadraai van ’n tragedie op die olieveld. Dinge word omgekrap wanneer Ainsley intrek by die huis waar Tommy woon.

8 Maart

Cooper probeer sy voete op die olieveld vind. Tommy se wêreld word geskud wanneer sy eksvrou, Angela, onverwags opdaag.

15 Maart

Rebecca staan op vir Tommy, terwyl Cooper ’n oproep ontvang wat alles verander.

22 Maart

’n Onwelkome besoek skep spanning op die olieveld. Angela probeer vrede maak deur ’n familie-ete te reël.

29 Maart

Angela word onkant gevang tydens ’n besoek aan Victor. Die Norris-gesin steun Cooper in ’n tyd van groot beproewing.



Die kantoor

Die kantoor is Sondae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.

1 Maart

Flip probeer sy uitsluiting van die kantoor se WhatsApp-groep oplos deur ’n werk-lewe-balans-uitstappie te reël waar almal wense moet maak.

8 Maart

Flip praat by ’n plaaslike radiostasie en kry die maatskappy in die moeilikheid. Emma en Joubert vape in die kantoor en probeer om nie betrap te word nie.

15 Maart

Flip raak smoorverlief op Martie, terwyl Joubert desperaat probeer om Martie se kontrak te finaliseer. Kayle besef niemand dink Engelse Suid-Afrikaners het ’n kultuur nie.

22 Maart

Flip ontdek ’n moesie en word deur Tjaart na die dokter begelei. Hulle neem die ergste-geval-scenario as die enigste scenario. Joubert en Emma beplan ’n romantiese aand vir Flip en Martie.

29 Maart

Flip neem aanstoot wanneer hy sien dat sy personeel die ander tak se gees geniet. Tjaart besef hy het ’n een-nag-plesiertjie met ’n kollega se nuwe meisie gehad.



Op my eish!

Op my eish! is Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar. 

In Maart is daar ’n 4x4-avontuur wat wag, en Ruan sien iets besonders in een dame se oë, maar ’n afspraak ná ’n bootvaart neem ’n suur wending. Daar is ’n alles-of-niks-uitdaging, en een gelukkige dame kan ’n nag saam met Ruan in die bos deurbring.

’n Langverwagte soen gebeur uiteindelik. In ’n episode vol pret, maak die dames van Twister ’n drinkspeletjie en wys hoe soepel en buigsaam hulle regtig is.

LEEFSTYL EN DOKUMENTÊR



Voetspore

Voetspore: Suid-Amerika 3 begin 11 Maart om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op Catch Up en DStv Stream beskikbaar wees.

Die Voetspore-span, onder leiding van Johan Badenhorst, voltooi met Voetspore: Suid-Amerika 3 hul trilogie oor hierdie skouspelagtige deel van die wêreld. Venezuela, Guyana, Suriname, Brasilië en Uruguay is dié keer deel van die avontuur. Die nuwe seisoen van dertien episodes is die derde een oor Suid-Amerika.

Die eerste stop is Venezuela – ’n land wat onder ernstige korrupsie en wanadministrasie ly, maar ook van die mooiste natuurskoon op die vasteland het. Die reis eindig in Brasilië – die reus van Suid-Amerika.

“Dié drie seisoene oor Suid-Amerika was ’n epiese avontuur en ’n reis van meer as 45 000 km,” sê Johan. “Hierdie laaste tog was meer as 16 600 km en het met sy eie uitdagings en vreugdes gekom. Dit is dertien episodes met ’n span wat deur dik en dun bymekaarstaan en wat hierdie deel van Suid-Amerika in al sy fasette ervaar het. Om dit in ’n TV-reeks te beleef gaan kykers beslis vasgenael hou. Wat ’n voorreg!”



Frank

Frank is Woensdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.

Die dokumentêre reeks Frank, oor die lewe en loopbaan van Frank Opperman, se derde en laaste episode word op 4 Maart om 20:00 uitgesaai. Frankie, die regisseur van die reeks, en sy pa, Frank, arriveer in Gauteng. Ná ’n paar kuiers by vriende, begin hulle om Frank senior se huis in Melville finaal op te pak. Tussen bokse vol argiefmateriaal neem hulle ’n bestekopname van die legendariese akteur se lewe.

SEPIES EN TELENOVELAS



Binnelanders

Weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)


Joe, Jess en Max spartel om die waarheid oor Yvonne te verdoesel. Jackie se onverwagse opwagting is maar net die begin van groot drama vir Hannah, en Nicolette kom uiteindelik tot die besef dat sy smoorverlief is. ’n Skietvoorval het die hele Binneland op hol. Tertius en Tracy keer terug na Pretoria, en Hannah voel vasgevang tussen die duiwel en die diep blou see.

Uys help Elise met ’n nuwe projek, maar dit is uiteindelik Joe en Petro se verhouding wat daardeur getoets word. Thalia is onrustig oor haar toekoms by Tonik, en Ella raak al meer vasberade om ’n verskil in Ongevalle te maak. Naomi maak ’n persoonlike bekentenis aan ’n vriendin, en At ontvang ’n ontstellende oproep wat hom dwing om dadelik sy familie te help. Tracy ervaar ’n terugflits ná haar traumatiese ongeluk.



Diepe waters

Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)


Pam se loopbaandrome word wreed verpletter wanneer Vuyelwa haar voorlegging vir die modereeks Mhlaba saboteer. Ewe skielik lyk Pam soos ’n oneerlike bedrieër en moet sy alles in haar vermoë doen om haar openbare beeld te herstel.

Schalk en Leandri se verbrokkelende huwelik bereik ’n breekpunt met rampspoedige gevolge wanneer ’n jaloerse Schalk verder gaan as wat enigiemand ooit sou kon raai. ’n Geliefde Boskruiner eindig in die hospitaal, terwyl Hanneli, Danie en Marco hul pa se aksies én die gevolge daarvan moet verwerk.

’n Diefstal ruk Frans se sak en laat hom opnuut besin oor sy plaas en verhouding met Zelda. Boonop kan hy net nie heeltemal Zelda se verlede met Gys aanvaar nie. Die Swartmarlyne-nuweling Liam moet met die spoke van sy verlede vrede maak en kies om eerlik te wees oor sy diagnose, al is dit ’n bitter pil om te sluk.



Suidooster

Weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)


Suidooster se 12de seisoen skop in Maart af, en talle kinkels ontvou in Ruiterbosch. Angie en Wade moet delikate voetwerk doen om vertroue in mekaar te vind terwyl onsekere gevoelens net onder die oppervlak sluimer. Wat rustig lyk, mag nie lank só bly nie.

Linda staan voor ’n lewensveranderende besluit wat Susan en Elana op hul eie emosionele reis neem – een wat hul siening van familie, lojaliteit en die toekoms wat hulle vir hulself voorgestel het, kan herdefinieer. Intussen gooi ’n ernstige gesondheidskrisis Rhafiek se wêreld omver. Dit plaas druk op sy loopbaan en toets die mense rondom hom. By JPD groei die professionele druk, en krake begin wys.

Die eerste 11 seisoene het kykers gewys: Suidooster weet hoe om dinge baie spannend te hou. Seisoen 12 beloof om die drama tot nuwe hoogtes én dieptes te voer – met komplekse verhoudings, wedywering en onvergeetlike naelbyt-oomblikke.



Skemergrond

Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)


In Maart neem Skemergrond se verhoudings en magsdinamika ’n donkerder, meer emosionele wending. Louis is vasgevang tussen sy groeiende gevoelens vir Chelsea en sy komplekse band met Erica. Terwyl hy sukkel om eerlik te wees oor sy hart se keuses, begin Erica al hoe meer vermoed dat iets nie reg is nie. Haar pogings om beheer te behou word verder bemoeilik wanneer ou trauma weer kop uitsteek, wat Louis uiteindelik in ’n onhoudbare posisie plaas waar leuens nie meer volhoubaar is nie.

Gloria se reis in Maart draai om hoop, risiko en selfvertroue. Die oorname van Libby se stalletjie plaas haar onder geweldige finansiële en emosionele druk, en sy begin twyfel of sy die regte besluit geneem het. Hazel bly egter vasberade om oplossings te vind en stel ’n plan voor wat nie net Gloria nie, maar ook Everlasting kan bevoordeel. Net toe dinge begin ligter lyk, word Gloria se optimisme geknou deur verkeerde mense met bedrieglike sjarme, wat haar dwing om meer waaksaam te wees oor wie sy werklik kan vertrou.

Intussen bereik die spanning tussen PJ en JP ’n gevaarlike breekpunt. PJ se geheim, saam met sy toenemende eise en ultimatums, dreig om die Louw-familie uitmekaar te skeur. Pogings om die situasie stilweg te hanteer lei tot meer wantroue, en PJ se dramatiese terugkeer na Everlasting maak dit duidelik dat hierdie konflik nie sonder gevolge gaan eindig nie.

JP en Jasmine se huwelik word ernstig getoets wanneer skokkende onthullings en emosionele afstand begin insluip. Terwyl hulle worstel om mekaar weer te vind, verskyn Lizelle onverwags uit JP se verlede – ’n teenwoordigheid wat ou vrae laat opvlam en die toekoms van hul verhouding verder vertroebel.