Die bruilof van Sanet (Nadia Valvekens) en Fourie (David Louw) op dieselfde dag as dié van Sanet se dogter, Karla (Danielle Swanepoel), en Arno (Jean Henry), het soos ’n ware sprokiesverhaal geklink – ’n ma en dogter wat liefde saam vier nadat hulle soveel pyn en hartseer oorwin het. Sanet het haar stryd teen alkoholisme gewen, terwyl Karla en Arno ná talle uitdagings uiteindelik hul pad na mekaar teruggevind het.
Maar soos kykers weet, is dinge in Diepe waters nooit lank rustig nie. Vroeër die week het Zelda ’n verdagte oproep gemaak aan ’n geheimsinnige vrou, wat kykers laat wonder het wat sy in die mou voer. Die opbou tot die troue was egter vol vreugde, hoop en opwinding – totdat alles voor die kansel in duie gestort het.
Karla en Arno het hul troubeloftes sonder huiwering afgelê, maar toe dit Sanet en Fourie se beurt was, het die groot skok gekom. Net toe Fourie “ja” wou sê, het ’n onbekende vrou die kerk binnegestorm. Die vrou (vertolk deur Anel Alexander) het almal stomgeslaan toe sy verklaar dat Fourie nie met Sanet kan trou nie omdat hy reeds getroud is – met haar.
Die episode het geëindig met ’n kerk vol verslae mense en kykers wat wonder: Wie is dié vrou wat aanvoer dat sy en Fourie nog getroud is? En is haar aantygings waar?
Wie is Linda Blignaut?
Die geheimsinnige vrou is Linda – Fourie se vrou wat in Dubai woon. Sy is daar ’n suksesvolle kunsgalery-eienaar wat spesialiseer in Afrika-kuns onder haar nooiensvan, Blignaut.
Linda het Fourie jare gelede ontmoet toe sy nog daarvan gedroom het om haar eie galery te begin. By ’n handelsgeleentheid wat deur die Suid-Afrikaanse ambassade aangebied is, is sy aan Fourie voorgestel, wat destyds betrokke was by uitvoere na die VAE. Fourie, wat dadelik tot haar warmte en deursettingsvermoë aangetrokke was, het haar gehelp om finansiële steun vir haar galery te kry, wat sy Maji Art Gallery genoem het. Hulle vennootskap het gou romanties geword, en om hul lewe in Dubai makliker te maak is hulle in die hof getroud.
Hul huwelik, hoewel geldig in Dubai, is egter nooit amptelik in Suid-Afrika verklaar en aangemeld nie. Terwyl Fourie dit as ’n geriefshuwelik beskou het, was Linda diep verbind tot die verhouding. Mettertyd was Fourie egter al hoe meer in Johannesburg, en die krake het begin wys. Toe hy vir ’n egskeiding vra, het Linda toenemend besitlik geraak, en ná ’n wanhopige selfmoordpoging het hul verhouding verbrokkel.
Fourie het geglo die egskeiding is in Dubai gefinaliseer, maar die proses is nooit voltooi nie. Toe Zelda vir Linda kontak, het sy die bom laat bars wat Fourie se troue met Sanet in die wiele gery het.
Wat wag vorentoe?
Met die waarheid nou onthul, hang Fourie se toekoms aan ’n dun draadjie. Sal Sanet hom kan vergewe vir die vernietigende geheim wat hy gehou het? Hoe gaan Karla en Arno se huwelik die opskudding oorleef? En hoe ver sal Linda gaan om haar plek in Fourie se lewe te behou? Een ding is seker: Diepe waters se kykers kan nog baie meer skokkende onthullings en emosionele draaie verwag.
Seisoen 4 van Diepe waters skop Maandag 29 September op kykNET (DStv-kanaal 144) af en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.