web uni tv guide
web uni tv guide

Voetspore

144AvontuurPG13

Nuwe voetspore val in Suid-Amerika – Voetspore: Suid-Amerika 2

Nuus26 September 2025
"Voetspore: Suid-Amerika 2" begin Sondag 19 Oktober om 20:00 op kykNET en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.
Voetspore S12 Article Image

Bolivië en Peru, Ecuador en Colombië. Die grootste soutpan in die wêreld, Salar de Uyuni, en La Higuera, waar die rebellevegter, Che Guevara gesterf het.

Die bekende erfenisgebied Machu Picchu, Cali, die salsa-hoofstad van die wêreld, en die voëls van Mindo.

En dit is maar net ’n paar van die plekke wat die Voetspore-span besoek het en wat deel uitmaak van Voetspore: Suid-Amerika 2 wat op 19 Oktober op kykNET (DStv-kanaal 144) begin. Dis ’n onvergeetlike reis van dramatiese landskappe, geskiedkundige plekke, uitsonderlike natuurskoon en kulturele verskeidenheid.

Voetspore: Suid-Amerika 2 het vir my, as die vervaardiger van die reeks, die geleentheid gegee om te gaan delf in die onbekende,” sê Johan Badenhorst. “Van die streek – wat Bolivië, Peru, Ecuador en Colombië insluit – het ons bitter min geweet. Dis nou afgesien van Machu Picchu en dalk die dwelmkartelle van Colombië. Maar hierdie deel van die kontinent bied soveel meer, soos Salar de Uyuni, die grootste soutmeer in die wêreld, en San Vicente, waar Butch Cassidy en die Sundance Kid gesterf het. Ook die Nazca-lyne in Peru wat in 2 000 jaar se misterie gehul is en die uitsonderlike Ecuador met van die vriendelikste mense op aarde.”

Hierdie verkenningstog deur die noordweste van Suid-Amerika is een van die kleurvolste en kultureel mees diverse reise wat Johan en sy span nog ooit aangepak het. “Elke episode is ’n juweel met sy eie verskeidenheid van avontuur, kultuur en geografiese skoonheid.”

Die tweede reeks in Suid-Amerika begin waar die eerste een geëindig het –  in Uruguay. Die span reis deur Uruguay en Argentinië na Bolivië. Dit is ’n blootstelling aan vreemde, nuwe landskappe en ’n lang en vermoeiende reis. By Tupiza vat die span die spoor van die voortvlugtende Butch Cassidy en die Sundance Kid en volg die roete tot by San Vicente, waar dié twee rampokkers deur die gereg ingehaal en doodgeskiet is.

Die reeks, wat uit 13 episodes bestaan en op 11 Januarie 2026 ten einde loop, sluit af in Medellín, eens bekend as die dwelmhoofstad van die wêreld waar Pablo Escobar ’n skrikbewind gevoer het. In die afgelope dekade het die stad egter ’n metamorfose ondergaan en is dit vandag een van die veiligste stede ter wêreld. Die span ontmoet ook ’n Suid-Afrikaner wat die Colombiane leer om biltong en boerewors te eet en besoek Westfalia se avokadoplase naby Sonsón.

  • Voetspore: Suid-Amerika 2 begin Sondag 19 Oktober om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.