Logo

Indonesiese rysgereg met gebakte eiers

23 Julie

Lewer 4 - 6 porsies

Vegetaries

4

Koskonsultant Heleen Meyer het tydens ’n episode van Die GROOT Ontbyt, dié heerlike gereg voorberei vir die kosblik. Die resep is van Pharma Dynamics; Let’s talk. Foto: Heleen Meyer

DGO_23 Julie
Bestanddele

Grondboontjiepasta

30 ml vars gemmer (fyngerasper)

2 klein knoffelhuisies (gekneus)

20 ml paprika

20 ml komyn (gemaal)

20 ml koljander (gemaal)

1 - 2 klein brandrissies (ontpit en fyn gekap)

200 g grondboontjies (ongesout, grof gekap – sien wenk)

5 ml lemmetjie- of suurlemoenskil (fyngerasper)

30 ml lemmetjie- of suurlemoensap

90 ml olyf- of avokado-olie

Rys

15 - 20 ml olyf- of avokado-olie

8 sprietuie (in dun skyfies gesny)

500 ml bruin basmatirys (rou)

2,5 ml sout

1,2 l water

6 - 8 groot Nulaid-eiers (in baie min olie gebak)

swartpeper en nog lemmetjie- of suurlemoensap na smaak (varsgemaalde)

lemmetjie- of suurlemoenwiggies (om mee voor te sit)

1 - 2 avokado’s (in dun skyfies gesny)

Pink Lady® Appel-slaai (voorgesit)

Metode

1. Grondboontjiepasta: Meng al die bestanddele saam om ’n growwe pasta te vorm.
2. Rys: Verhit 15 ml van die olie in ’n wye, diep braaipan (bv. ’n AMC 28 cm Chef’s Pan of Paella Pan) oor ’n matige hitte. Braai 125 ml (½ k) van die grondboontjiepasta vir ’n paar minute of tot net aromaties.
3. Voeg die helfte van die sprietuie by en soteer vir ’n paar minute. Roer rys en die res van die olie by en soteer tot goed gemeng is.
4. Voeg sout en water by en bring tot kookpunt. Verlaag die hitte, plaas die deksel op en prut liggies vir 30-35 minute of tot die rys net gaar is, maar nie te sag nie.
5. Bak die eiers in ’n aparte pan, in ’n klein hoeveelheid olie, soos jou gesin dit verkies.
6. Geur die rys met swartpeper en lemmetjie- of suurlemoensap na smaak.
7. Sit die rys met eiers, lepelsvol orige grondboontjiepasta, lemmetjie- of suurlemoenwiggies, die orige sprietuie en avokado voor. ’n Vars Pink Lady® Appel-en-kruisementslaai sal heerlik wees saam met die rys. (Sien wenk.)

Wenke
1. Pink Lady® Appel- & kruisementslaai: Sny twee Pink Lady® Appels in wiggies en dan in dun skyfies. Meng dit met fyngekapte kruisementblare en ’n bietjie lemmetjiesap na smaak.
2. Gebruik die plat kant van ’n groot mes se lem om die grondboontjies te breek en kap dit dan verder in growwe stukkies.
3. Berei dubbel die grondboontjiepasta voor om saam met enige eiergereg, gebraaide vleis of geroosterde groente te geniet. Dit sal vir twee tot drie weke in die yskas hou.
4. Indien ongesoute grondboontjies nie beskikbaar is nie, gebruik dan gesoute grondboontjies. Geur dan die gereg met aansienlik minder sout.
5. Koljanderblare sal heerlik wees om die dis mee te garneer.

Kosblik_2 Julie
Die Groot Ontbyt Poster 924x1360
2 July 2018

Geroosterde patat en appels met avo en tuisgemaakte mayo