Logo
Wild en Wragtag Slim Bill
web uni tv guide

Wild En Wragtag

144LeefstylPG13

kykNET-kanale verdryf die winterkoue met ’n vuurwarm nuwe skedule

News
08 Junie 2017
Steek aan die kaggelvuur en maak jou knus tuis voor die televisie, want hierdie winter bring die drie kykNET-kanale (DStv 144-146) die beste vermaak na jou voorkamer.
Julie Changes Bill

Dis tyd om te ontspan en jou hart te verwarm met die nuwe winteraanbod en skedule!

“Die kykNET-aanbod is nou groter as ooit tevore. Ons moes omtrent kopkrap om in ons programskedule vanaf Julie plek te maak vir al die nuwe inhoud,” sê Karen Meiring, direkteur van kykNET-kanale. “Ons grootste prioriteit met die hersiening van ons programskedules was egter, soos altyd, ons kykers.

“Ons dien ’n steeds groeiende en uiteenlopende gehoor wie se gewoontes en behoeftes jaarliks verander. Hierdie gehoor verwag van ons om tred te hou met internasionale TV-tendense en steeds die beste stories uit eie bodem te vertel. Ons nuwe programskedule weerspieël al hierdie oorwegings en strewes. Kyk en geniet!”

Dit is vir ons baie belangrik om ons kykers dwarsdeur die week met topvermaak geselskap te hou en gunsteling-programme soos Kwêla, Bravo! en Jou Show sal nou oor naweke uitsaai, terwyl weeksaande plek maak vir dubbel die komedie, nuwe drama en inhoud soos Kook en Geniet.

LEES OOK: Die Boekklub 2 en vele meer

Die volgende tydgleuf-veranderinge is gemaak:

 

Getroud met Rugby skuif vanaf 10 Julie 2017 na 21:00 op die kykNET-kanale DStv 144 en 145. Kykers sal nog ’n rukkie moet wag om te sien wat dié nuwe laataand-tydgleuf op die premium kykNET-kanaal 144 vir die Stryders en die Pom-Poms inhou.

Suidooster sal vanaf 10 Julie op kykNET (DStv-kanaal 144) en kykNET&kie (DStv-kanaal 145) om 18:30 uitgesaai word. Hierdie skuif gee kykers die geleentheid om ingeskakel te bly vir die regstreekse Afrikaanse nuus om 19:00 op beide kanale. Die Suidooster-herhaling op kykNET&kie sal nou om 22:00 geskied om plek te maak vir gewilde programme soos Treknet, Kokkedoor, SuperRugby en Vallei van Sluiers in die 20:00-tydgleuf. Suidooster-aanhangers kan ook uitsien na nog meer goeie nuus wat later vanjaar oor dié sepie bekend gemaak sal word.

Die nuwe skedulering bied Premium-kykers ’n propvol spitskyktyd met daaglikse drama en komedie, eNuus, nuwe programme en regstreekse uitsendings soos kykNET Verslag – ’n omvattende oorsig oor belangrike nuusgebeure. Ander relevante kwessies kom onder die loep in die weeklikse aktualiteitsaanbod: Prontuit, Winslyn, In Gesprek en Flits.

Maandae laat jou voortaan lag met ’n dubbeldoor van komedie met Elke Skewe Pot (Franci Swanepoel, Marisa Drummond, Carien Botha, Carine Rous en Hannes Brümmer) om 20:00 en Parlement Parlement om 20:30, met Louw Venter en Elana Afrika-Bredenkamp.

Dinsdae sorg vir drama met die tweede seisoen van Die Boekklub. Dié reeks, wat met ’n SAFTA en ATKV-Mediaveertjie bekroon is, word vanaf 11 Julie 2017 om 20:00 uitgesaai.

Op Woensdae is daar tyd vir Kook en Geniet (vanaf 5 Julie om 20:00) – ’n watertand kosprogram, gegrond op die ikoniese resepteboek, aangebied deur Lise Swart. Daarna volg die gewilde Groen: Namibië, wat terugkeer vir ’n derde seisoen vanaf 12 Julie om 20:30. Daar’s ook goeie nuus vir krieketliefhebbers: Op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) begin ’n nuwe seisoen van BVP met Johnny Davids en Fanie de Viliiers om 21:30.

Vorige uitsendings van die reeks Die Legendes van Afrikaanse Musiek het dawerend positiewe terugvoer van kykers ontlok en ons het besluit om die maand van Julie met die stories van Gé Korsten, Rina Hugo en Johan van Rensburg, Lucas Maree en Boet Pretorius af te skop.

Naweke is gemaak vir laatslaap en gehaltetyd saam met jou geliefdes. Dis ontspantyd. Daarom skop ons Vrydagaande af om die braaivleisvuur met Jan Braai om 18:30. Ná die Afrikaanse nuus kuier ons verder saam met Breyten, Janina en Vaatjie in Toks en Tjops om 20:00. kykNET NOU! (DStv-kanaal 146) verskaf ’n lekker klankbaan vir jou naweek met die M-Net en vriende konserte, wat elke Vrydag om 21:00 uitsaai. Daar is ook hope lekker speellyste en die kykNET Top 20 hou ons op hoogte met die nuutste musiek wat elke maand vrygestel word.

Vanaf Saterdag 15 Julie om 18:30 maak ons saam met die Fiësta-span ’n feestelike draai by elke fees in die land. Emo Adams toets bekendes buite hul gemaksones in die nuwe seisoen van Jou Show om 19:30 en Pieter Koen speel jou versoeke elke Saterdagaand vanaf 20:00 op Jukebox.

Ons sluit die kykNET-week af met stories van Suid-Afrikaners wat inspireer. Jý Geld is ’n nuwe program wat finansiële wenke gee om die lewe met groter geldvernuf aan te pak. Leandie du Randt Bosch en die nuwe deelenemers aan Slank II gee ons die geleentheid om in hul oorwinningstryd teen gewig en ander persoonlike uitdagings te deel, gevolg deur Bravo! wat die sluier lig en agter die skerms kuier by die land se mees gesogte geleenthede en persoonlikhede.

Kwêla is ’n instelling op kykNET en ons is baie opgewonde om die nuus te deel dat die program nou deel van ons Sondagaandaanbod word. Vanaf 9 Julie sal Hannes en die span kykers nou op Sondae inspireer met die stories van Suid-Afrikaners wat ’n verskil maak.

Daar is egter nóg groot nuus met ’n seisoen van die nuutste Afrikaanse speelfilms wat vanaf Julie elke Sondag om 21:00 sal uitsaai. Kykers kan uitsien na gunstelinge en nuwe films wat vir die eerste keer op kykNET te sien is, soos Modder en Bloed, Noem My Skollie en Treurgrond.

Moenie iets mis nie! Met al die verskillende DStv-opsies soos Catch Up en die geleentheid om jou gunsteling-programme op te neem is daar geen verskoning om hierdie winter iets op die drie kykNET-kanale te mis nie.

Belangrike datums:

 

4 Julie

Hond se Gedagtes om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)

5 Julie

Kook en Geniet om 20:00 op (kykNET DStv-kanaal 144)

6 Julie

Die Legendes van Afrikaanse Musiek om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144)

7 Julie

  • chatNOU! koppeluitsending op kykNET (DStv-kanaal 144) en kykNET NOU! (DStv-kanaal 146) om 15:00
  • Oppiestoep om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144)
  • Jan Braai om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)

9 Julie

  • Jý Geld om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144)
  • Slank II om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)
  • Kwêla om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144)

10 Julie

  • Elke Skewe Pot om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144)
  • Suidooster om 18:30 op beide kykNET en kykNET&kie
  • Getroud met Rugby om 21:00 op beide kykNET en kykNET&kie
  • Wild en Wragtag (Maandae op kykNET&kie om 21:30 en op kykNET om 22:30)
  • Parlement Parlement om 20:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)

11 Julie

Die Boekklub om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144)

12 Julie

Groen: Namibië om 20:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)

15 Julie

  • Fiësta om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)
  • Jou Show om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)
  • Jukebox om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144)

16 Julie

Bravo! om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)