Logo
Suidooster Slim Homepage 1600x160
web uni tv guide

Suidooster

144Drama13

Suidooster skenk groot vir kinderhospitaal

Nuus
16 November 2020
kykNET se gewilde sepie, Suidooster, het op sy vyfde verjaarsdag op Maandag 16 November,’n groot skenking aan die Rookruis-kinderhospitaaltrust gemaak.
IMG 3558

Die waarde van dié skenking is sowat R1-miljoen en bestaan uit ’n kontantdonasie van R50 000, die vervaardiging van ’n televisie-advertensie, R500 000 se advertensie-lugtyd op die kykNET-kanale en dan blootstelling in episodes van die sepie om bewusmaking te skep van die Kinderhospitaaltrust se fondsinsamelingsprojekte.

Die oorhandiging van die skenking aan die trust, wat die fondsinsamelingsorganisasie van die befaamde Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad is, het by Suidooster se ateljees plaasgevind. 

Jawaahier Petersen (Kaashifa in Suidooster) het die saadjie geplant dat Suidooster by die doen en lates van die Kinderhospitaaltrust moet raak. Sy is reeds een van hul ambassadeurs is en self daar as ’n kind behandel.

Volgens Wilmer Müller, Suidooster se publisiteitsbestuurder, is dit nog altyd belangrik vir die sepie om ook terug te gee.

“Ons mantra by Suidooster is dat ons nie net mense se lewens met kykgenot wil verryk nie, maar ook op ander manière soos deur ons harte oop te maak. Daarom het ons ook besluit om hande met die Kinderhospitaaltrust te vat,” sê hy.

“Dus, toe ons aan die begin van die jaar kopppe bymekaar gesit het om ons vyfde verjaarsdag te beplan, was dat vir ons voor die hand liggend om in plaas van ‘n glanspartytjie te reël, eerder dit te vier deur ’n verskil iewers te help maak.”

Chantel Cooper, wat die uitvoerende hoof van die Kinderhospitaaltrust is, sê dit is ’n voorreg om in venootskap te wees met donateurs, soos Suidooster en kykNET, wat omgee. 

“Die Kinderhospitaaltrust is opreg dankbaar dat ons omring is deur barmhartigheid en vrygewigheid, wat ons help om die lewens van kinders beter te maak,” sê sy.

“Ons vergeet nooit dat die taak wat op ons skouers rus, nie moontlik sal wees sonder die ondersteuning wat ons ontvang nie.”

Danksy Suidooster en kykNET se skenking is die hospitaal nou nog ‘n stappie nader aan die opgradering en uitbreiding van sy noodgevalle-eenheid.

Dié projek het in April 2019 afgeskop, waarvan die eerste fase pas in Oktober voltooi is, terwyl die spertyd vir die afhandeling van die tweede fase geoogmerk is vir Februarie 2022. Die koste vir die projek is R122-miljoen, waarvan R87-miljoen reeds ingesamel is.

Om ’n skenking te maak of vir meer inligting oor die Kinderhospitaaltrust, besoek: www.childrenshospitaltrust.org.za

Vyf feite oor Suidooster

  1. Suidooster was die eerste Afrikaanse sepie wat in Kaapstad vervaardig is, en die eerste episode is op 16 November 2015 uitgesaai.
  2. Die tuiste van Suidooster is by Atlantic Studios in Milnerton, waar onder andere ook kykNET reekse soos Kwêla, Tussen Ons en Koortjies met Jonathan Rubain vervaardig word, terwyl talle van die Kokkedoor-reekse ook hier geskiet is. Dié ateljeekompleks was voorheen ’n Makro.
  3. In 2018 het Suidooster ter viering van Suidooster se derde verjaarsdag ‘n bestuurskool, ’n opheffingsprojek vir die televisie- en filmbedryf, in samewerking met die SA Film Academy en Suzuki Suid-Afrika begin. Sedertien het 35 mense só hul bestuurderslisensies ontvang. Dit bemagting hulle om makliker permanente aanstellings in die TV- en filmbedryf te kry.
  4. Suidooster is bekend vir baanbrekerswerk met storievertelling en is byvoorbeeld die eerste Suid-Afrikaanse sepie wat ’n tradisionele Moslemtroue aan kykers gewys het, toe Rhafiek (Irshaad Ally) en Carmen (Desiré Gardner) in 2018 getrou het.
  5. Suidooster is ‘n ware familie-geleentheid: Pa en dogter, Cedwyn en Portia Joel is saam op die rolverdeling en die tweeling Marco en Marcel Spaumer is ook Suidoosters: Marco as Tim en Marcel as een van die skrywers.

Ander inligting oor Suidooster:

  • Aanvanklik was daar net drie episodes per week, maar in 2017 is ’n bykomende episode bygevoeg en weens die reeks se toenemende gewildheid het dit toe ’n vyfde episode in 2018 bygekry. Op die vyfde verjaarsdag is episode 1149 uitgesaai.
  • Daar is talle veteraanakteurs van dag een in Suidooster te sien, wat onder andere Denise Newman (Bridgette Jacobs), Marcel van Heerden (Chris du Plooy) en Cedwyn Joel (AB Samsodien) insluit.
  • Boonop het talle bekende persone al as hulself in Suidooster verskyn soos Deon Meyer, Craig Lukas, Tracey Lange, Darren Simpson, Alistair Izobel en Lize Beekman.

Suidooster word Maandae tot Vrydae om 18:30 op kykNET en kykNET & kie uitgesaai.