Logo
Slim Billboard Desktop 1600x160
web uni tv guide

Spreekkamer

144AktueelPG13

Spreekkamer: jou weeklikse afspraak met gesondheid en welstand

Nuus
01 April 2021
Vanaf Dinsdag 6 April om 22:00, kan jy inskakel vir Spreekkamer, 'n gesondheidsprogram wat fokus op holistiese gesondheid.
Spreekkamer 1600x533 Billboard

As daar een ding is wat ons almal uit die pandemie geleer het, is dit dat ons gesondheid en welstand groter prioriteit in ons lewens moet geniet. Vanaf Dinsdag 6 April om 22:00, kan jy inskakel vir Spreekkamer, 'n gesondheidsprogram wat fokus op holistiese gesondheid. Net op kykNET DStv-kanaal 144.

Die radio- en TV-aanbieder Suzaan Steyn is eersdaags terug op kykNET as gasvrou van die nuwe gesondheid- en welstand-program Spreekkamer. Elke Dinsdagaand antwoord die Spreekkamer-span kwelvrae oor gesondheid met behulp van kenners, en maak namens jou 'n draai in die spreekkamers van dokters, sielkundiges, spesialiste en allerlei mediese praktisyns wat hoofstroom en meer alternatiewe behandeling beoefen.

Suzaan is opgewonde oor die geleentheid om weer aan 'n gesondheidsprogram te werk. (Sy was voorheen ook aanbieder van RSG se gewilde programme, Gesondheid sonder grense en Verhoudings met grense, en het kykers verlede jaar gehelp om die stormagtige waters van die pandemie te navigeer in KN Pandemie.) "Ek is eintlik net so mal oor gesondheid, want dit is die een ding wat jy altyd by jou kan hê, en die een ding in jou lewe waaroor jy 50% beheer kan hê. Soveel van 'n mens se probleme kan opgelos word as jy net sekere dinge beter verstaan."

In die weeklikse uitsending van Spreekkamer wil Suzaan en haar span mense met kennis bemagtig sodat ons ons eie lewensgehalte, en dié van die mense om ons, kan verbeter. Kykers word genooi om saam te kom op 'n holistiese gesondheidsreis, waartydens daar in diepte gekyk gaan word na hoe ons onsself geestelik en liggaamlik tot nuwe vlakke van gesondheid kan aanspoor.

Kykers kan uitsien na gesprekke met mense wat ernstige siektes oorleef het, meer inligting oor leefstylkeuses wat 'n direkte impak op jou welstand het, raad en wenke van 'n wye verskeidenheid mense wat in die welstand-veld werksaam is, en verslae oor rate, kure en behandelings wat die span namens die kykers gaan beproef.

Skakel vanaf Dinsdag 6 April in om 22:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) vir die regstreekse uitsending van Spreekkamer.