Die wintervetjies hoef nie aan te pak nie – Slank-aanbieder Leandie du Randt gaan vanaf 2 Julie om 17:30 saam met vyf deelnemers uit die vermaaklikheiswêreld op ’n verslankingsreis, begelei deur dokters, ’n dieëtkundige en ’n sjef. Hierdie TV-reeks fokus nie per se op diëte nie, maar op ’n volhoubare en gesonde leefstyl met die klem op regte kos.
Ontmoet die vyf Slank-deelnemers:
Carina Kruger
Carina, ’n sanger in die groep, Die Koeksisterzzz, is van kleins af lief vir kos. Tradisionele boerekos soos boontjies, aartappels, skaapribbetjie en pampoenkoekies is bo-aan haar lys van gunsteling kos. “Ek was al omtrent op elke dieet – ek moes al my kos weeg, gespuit en geshake het,” vertel sy.
Sy is opgewonde om ’n Slank-deelnemer te wees en wil graag leer hoe om die regte kosbesluite te neem, sonder om ‘lekker eet’ prys te gee.
Kevin Leo
Kevin is bekend as een van Suid-Afrika se beste tenore en het al in verskeie lande opgetree. Hy is in ’n internasionale operakompetisie bekroon as ‘Pavarotti e Pocco’, oftewel ‘Little Pavarotti’. Vandag nog is hy bekend as Suid-Afrika se eie Pavarotti.
Hy het al sy lyf akteur gehou en was te sien in die Afrikaanse fliek, Liefling. Sy sin vir humor het ook daartoe gelei dat hy al verskeie kere ’n gas op Oppiestoep was.
Kevin sien uit daarna om ’n leefstyl te begin wat hy vir die res van sy lewe kan handhaaf en wil graag deur kundiges gelei word.
Madel Engelbrecht
Madel, ook ’n Koeksisterzzz-sanger, meen haar verhouding met kos kom van kindsbeen af. “My ma kon die lekkerste kos maak – Mayonaise-hoender, soet pampoen en natuurlik staan my pa se potjiekos en soetsuur afval nie terug nie.”
Sy was al op baie diëte: “Baie quick fixes, geyo-yo op en af en af en op; ek sal verkies as dit nou vir eens en vir altyd stop.”
Martin Jansen
Martin Jansen is ‘n uitsaaier, skrywer en akteur wat tans betrokke is by een van die grootste Afrikaanse gemeenskapsradiodienste, Pretoria FM.
Hoewel Martin vas glo hy eet redelik gesond, het hy hom laat ompraat om een van die vyf deelnemers aan hierdie program te wees.
Kykers gaan binne die eerste paar episodes die verbasing op sy gesig sien wanneer hy besef hoe verkeerd hy eintlik nog al die jare geëet het!
Mimi Mahlasela
Mense sal Nobuhle Mimi Mahlasela veral erken as Aggie van die sepie, 7de Laan. Sy was ook al te sien in die films Mad Buddies en My Father’s War. Sy doen gereeld stemwerk en was onlangs te sien in die verhoogproduksie, The Caucasian Chalk Circle.
Mimi wil hierdie geleentheid gebruik om te leer wat haar liggaam nodig het om gesond te leef. Veral omdat sy elke dag so besig is en lang ure werk, wil sy weet hoe om beter te kan identifiseer wat sy mag eet.
Slank skop 2 Julie om 17:30 af op kykNET, DStv-kanaal 144. Gesels saam op Facebook, Twitter en Instagram met die hutsmerk #Slank.