Logo
Plaasjapie
web uni tv guide

Plaasjapie

144RealiteitPG13 L

Wie is hul sout werd?

Nuus
11 Julie 2022
Plaasjapie skop die 14de Julie om 20:00 af en belowe om die deelnemers te wys waar Dawid die wortels begrawe het.
Faces hide feature plaasjapie

Hier is hulle nou; die Plaasjapie deelnemers wat hand en tand gaan baklei om as wenner bekroon te word. 

 

ESTEBAN, 24

Krugersdorp, Gauteng

Esteban is ’n sielkunde-student en ’n Springbok MMA-vegter. Hy beskou homself as hardwerkend, lojaal, sosiaal en ’n spanspeler. Hy hou nie van mense wat heeltyd negatief is nie en sien uit daarna om homself op die proef te stel in Plaasjapie.

1657534884 27 11

JURIE, 44

Kriel, Mpumalanga

Jurie is ’n diep-gelowige musikant wat musiek maak by sy kerk. Hy beskryf homself as ’n entoesiastiese en optimistiese planmaker wat nie daarvan hou om te verloor nie. As hy nie die gereedskap het om om iets te doen nie, bou hy sommer die gereedskap self. Hy sien baie daarna uit om die gejaag van die stad vir die natuur en die plaaslewe te verruil.

1657534952 27 14

ROCHÉ, 30

Kaapstad, Wes-Kaap

Roché is ’n model wat vir Plaasjapie ingeskryf het omdat hy eintlik nog altyd ’n boer wou wees. Hy hou daarvan om homself gereeld fisies tot die uiterste te beproef en is passievol daaroor om mense te help om so ver moontlik hulle volle potensiaal te bereik. Hy is opgewonde daaroor om op groot skaal buite te werk en om mense se persepsies van modelle te verander.

1657534941 27 13

CECIL, 40

Kaapstad, Wes-Kaap

Cecil is ’n mense-mens wat nie sommer met ander baklei nie, maar hy hou nie van beterweterige tipes nie. As ’n fiksheidsinstrukteur  is hy ’n harde werker wat nie bang is om sy hande vuil te maak nie. Hy beskryf homself as passievol, gedrewe en kompeterend – hy het immers al drie keer die Comrades-maraton voltooi. Hy sien uit daarna om met plaasdiere te werk, maar nie noodwendig hulle afval nie.

1657534999 27 15

LAURIKA, 46

Kleinmond, Wes-Kaap

Laurika, of Lollo soos haar vriende haar noem, is ’n apteker wat mal is daaroor om te braai en beskou haar vermoë om te kan sê dat sy mal is oor haar lewe as die toppunt van sukses. Sy hou van ’n uitdaging en om uit haar gemaksone te wees en beskryf haarself as “lewens liewend” en vasberade. Sy het grootgeword op ’n plaas in Ellisras so sy’s gereed om die Plaasjapie-lewe met albei hande aan te gryp.

1657535040 27 17

ARTHUR, 37

Boksburg, Gauteng

Arthur is ’n kreatiewe direkteur en entrepreneur wat openhartig is oor sy geestesgesondheid en behoefte om minder-bevoorregte gemeenskappe aan die kunste bloot te stel. As trotse gay man beskou hy homself nie as ’n tipiese “oopgesig boerseun” nie maar erken dat hy al ’n paar harte gesteel het. Hy wil sien of Plaasjapie sy persepsie van homself sal verander en alhoewel hy nie van muskiete of versengende hitte hou nie, is hy reg vir die plaaslewe.

1657534597 27 18

KAYLA 24

Vereeniging, Gauteng

Kayla is ’n kranige liggaamsbouer wat al derde gekom het by die SA Kampioenskappe en ook deelgeneem het aan die Wêreldkampioenskappe in Ecuador. Sy hou van skubaduik en is passievol oor diere, wildslewe en Suid-Afrikaanse tradisies en kulture. Alhoewel sy nie enige ervaring van plaaslewe het nie, werk sy gereeld met perde en sien sy daarna uit om die stadsgeraas te ruil vir die geluid van sonbesies en die reuk van varsgesnyde gras en hooi.

1657534665 27 3

BILLY 43

Pretoria, Gauteng

Billy staan gereed vir enige uitdaging en is lief vir avontuur, soos wat die feit dat hy die Guinness-wêreldrekordhouer vir Marmite eet is, kan getuig. Hy is ’n gelukkig getroude gesinsman met twee seuns en beskou sy familie as sy grootste sukses. Die grootste uitdaging wat hy al oorkom het, was om kanker te bestry en hy is dankbaar dat hy nie gaan lê het nie en sy kop omhoog gehou het. Hy hoop om daardie selfde deursettingsvermoë na die plaas toe te bring en sien uit na die stilte en natuurlewe op die plaas.

1657534617 27 1

GERDA, 56

Brackenfell, Wes-Kaap

Vir Gerda is opgee eenvoudig nie ’n opsie nie. Sy beskou haarself as een van die dapperste mense wat sy ken en is bereid om enigiets te doen om haar kinders te beskerm en te versorg. Sy slaap graag onder die sterre en hou daarvan om vroeg op te staan en fisies hard te werk. Sy is in haar hart ’n natuurmens sien uit daarna om planne te maak saam met die ander deelnemers en uitdagings op die plaas die hoof te bied.

1657534810 27 8

DEON, 29

Saldanha, Wes-Kaap

Deon hou daarvan om homself te versorg en het nie ooghare vir mense wat hom oordeel op grond van hoe hy lyk en ruik nie. Hy beskou homself as baie braaf ten spyte van sy vrese en hou daarvan om probleme op te los en homself uit te daag. Hy sien uit daarna om die vryheid en natuurlewe op die plaas te geniet, maar sien beslis nie uit daarna om vroeg op te staan nie, en hy sien ook nie kans vir al die insekte nie.

1657534868 27 10

MARIUS, 45

Kimberley, Noord-Kaap

Marius, ’n soldaat in die SANDF, is spyt dat hy nooit sy droom om ’n rugbyspeler te word, verwesenlik het nie. Hy het as kind grootgeword op sy oupa se plaas en het kosbare herinneringe van perde versorg saam met sy oupa. Hy wil graag eendag sy eie plaas hê en terugkeer na daardie lewe.

1657534720 27 5

Suzette H, 55

Kroonstad, Vrystaat

Suzette is ’n huisvrou en ma van vier en beskou haarself as ’n hardwerkende spanspeler en raakvatter. Sy sê graag haar sê en gee nie om as mense dink sy is te voorbarig nie. Sy sien baie uit na die uitdagings van die plaaslewe en is dankbaar sy het na die stemmetjie geluister wat vir haar gefluister het om in te skryf vir Plaasjapie.

1657535025 27 16

STEFAN, 23

Pretoria, Gauteng

Stefan beskou homself as spontaan, avontuurlustig en braaf en gryp graag ’n uitdaging aan. Hy is baie trots op sy graad in Internasionale Politieke Studies en dat hy as 20-jarige gevra was om ’n maandelikse rubriek vir ’n Afrikaanse koerant te skryf. Hy wou nog altyd aan ’n werklikheidsreeks deelneem en hy sien Plaasjapie as die perfekte geleentheid om sy liefde vir die buitelug en natuur uit te leef. Die enigste ding waarna hy nie uitsien nie, is om vroeg op te staan elke dag omdat hy glad nie ’n oggendmens is nie.

1657534631 27 2

LEO-NENE, 30

Centurion, Gauteng

Leo-Nene is ’n grimeerkunstenaar en huisvrou wat met niks minder as die beste tevrede is nie. Sy beskou haarself as goedhartig, vroulik, kreatief en vol hoop. Sy hou daarvan om nuwe dinge te probeer en die feit dat sy op skool geboelie is, het van haar ’n sterker mens gemaak. Sy sien uit na die harde werk op die plaas en om die vrugte van haar arbeid te kan aanskou.

1657534897 27 12

DIAN, 29

Pretoria, Gauteng

Dian is ’n kunssinnige man met ’n oog vir detail. Sy stryd met die mediese kondisie, spondilites, het hom sterker gemaak en is hy trots op sy uithouvermoë en deursettingsvermoë. Hy wil graag aan sy broers, wat rugbyspelers en liggaamsbouers is, wys dat alhoewel ’n boer dalk ’n plan kan maak, ’n kunsman twee kan maak. Hy is uit-en-uit ’n stadsmens en sien glad nie uit na die stof, reuke en koue water van die plaaslewe nie – om van die goggas nie eens te praat nie.

1657534704 27 4

SUZETTE I., 30

Randburg, Gauteng

Suzette steur haar nie aan nonsens nie en beskou haarself as ambisieus, veerkragtig en ’n sterk leier. Sy lees mense goed en kan hulle maklik laat dink dat hulle die besluite maak. Sy het ingeskryf vir Plaasjapie omdat sy lief is vir die natuurlewe en probleem-oplossing, en dink die slegste deel van die hele ervaring gaan wees om terug te gaan stad toe wanneer dit verby is.

1657534838 27 9

BEAN, 39

Langebaan, Wes-Kaap

Bean is ’n musiekpromotor en avontuur-entrepreneur wat homself as ’n prettige planmaker en raakvatter beskryf. Hy hoop dat hy beroemd gaan raak deur aan Plaasjapie deel te neem, en wil dan sy bekendheid gebruik om liefdadigheidswerk te doen. Hy sien baie uit na die uitdagings op die plaas maar dink die vroeg-opstaan gaan hom glad nie pas nie.

1657534739 27 6

ELTON, 41

Klerksdorp, Noordwes

Elton is ’n bouer en nutsman wat lief is vir kook en graag na sy gesin omsien. Hy was al ’n paar keer as rugbyspeler as Speler van die Wedstryd aangewys en beskou homself as hardwerkend, vasberade en ’n planmaker. Hy sien uit daarna om meer te leer van die plaaslewe en dink Plaasjapie gaan ’n uitstekende ervaring wees.

1657534761 27 7

Skakel elke Donderdag om 20:00 in om te sien wie hulle sout werd is en gesels saam met ons op Facebook, Twitter én Instagram deur die hutsmerk, #Plaasjapie te gebruik.