Logo
Plaasjapie
web uni tv guide

Plaasjapie

144RealiteitPG13 L

#Plaasjapie_Anelda

Anelda Price

Finalejaarstudent in maatskaplike werk, Parow-vallei

Anelda is tans in ’n verhouding en hoop om vanjaar haar graad te verwerf.

1. Hoekom het jy vir Plaasjapie ingeskryf?

Ek gaan nou baie eerlik wees: Ek’t vir Plaasjapie ingeskryf vir die prysgeld, want wie kan nie doen met ’n miljoen nie.

Ek het die advertensie van Plaasjapie op kykNET&kie gesien. Toe doen ek ’n bietjie navorsing oor Plaasjapie omdat ek nie geweet het wat dit alles behels nie.

Ek sien toe dis soos ’n reality show oor die plaaslewe, en ek dink ’n regte stadsjapie soos ek sal nogal hou van die blootstelling aan die plaaslewe. Wanneer in my lewe gaan ek weer so ’n geleentheid kry?

Ek hou daarvan om dinge te doen wat buite my gemaksone is, en ek het geglo hierdie gaan ’n belewenis wees. Een aand, toe dink ek by myself: “Anelda, jy het niks om te verloor nie. Doen dit net en kyk hoe ver jy kom.” 

2. Beskryf jouself

Ek sal myself beskryf as ’n mense-mens. Ek hou ongelooflik baie van gesels, veral as ek weet al die aandag is op my. Ek is baie spontaan en moes leer om nie altyd die kamer te vul met my groot persoonlikheid nie.

Ek hou ongelooflik baie van lag. Op hoërskool het hulle altyd gesê ’n mens hoor eers my lag voor hulle my sien. Dit is vandag nog steeds die geval. Ek is baie avontuurlustig, en ek hou van nuwe uitdagings.

Boonop is ek ook iemand wat nie stil kan sit nie. Dis nou ek wanneer ek nie moeg is nie. Wanneer ek moeg is, spaar ek my energie, praat min en doen net die nodigste. 

3. Wat is die sterk punt(e) wat jy na Plaasjapie gebring het? 

Ek beskik oor goeie sportmangees, alhoewel die ander span my so erg geïrriteer het tydens uitdagings. Dit was dalk maar net die fighter in my wat uitgekom het, want ek hou nie van verloor nie.

Ek het spoed gebring met my lang bene en het baie van die hardloopwerk in die reeks gedoen. Hulle het my nie baie vertrou om die ander werk te doen nie.

Toe dit wel my beurt was om myself te bewys, is daar vir die eerste keer gesê dat ek nou eers my sterk punte wys. En ek is like, nee girl, julle het my nooit speelkans gegee nie.

Ek het deursettingsvermoë na Plaasjapie gebring, al wou ek ná die eerste aand reeds handdoek ingooi. Elke dag het ek net vir myself gesê: “Anelda, kyk net hoe ver jy kan kom.” 

4. Wat beskou jy as jou slegste eienskap?

Ek sal nie sê ek het enige slegte eienskappe na Plaasjapie toe gebring nie. Ek sal wel bieg dat ek daar geweldige druk ervaar het. Daar was dae wat ek gedink het: “Sjoe, Anelda, jy’s nie goed genoeg om hier te wees nie.”

Ek het ook ongelooflik baie gehuil, selfs al is ek nie iemand wat maklik huil nie. Dit wys jou maar net meer oor hoe ek die omstandighede beleef en ervaar het.

André Plaasjapie
Plaasjapie Blue
Anelda Plaasjapie